Deel

Bull Run 2023: Als wat jy moet weet

akkreditasie
Die Ry & Sleep Bull Run word vanjaar in Oktober gehou, en dit beloof om weer een vir die boeke te wees!

Wonder jy oor inskrywings, koste of die reëls? Ons beantwoord hieronder enige vrae wat jy dalk het:

Datum

5-8 Oktober 2023

Plek

Van Wyksvlei, ’n klein dorpie in die Noord-Kaap tussen Prieska, Kenhardt, Brandvlei en Carnarvon. As jy nog nie daar was nie, sit dit beslis op jou emmerskoplysie.

Inskrywings

Dit voltooi jy op Quicket. Maak egter eers seker jy het al die reëls hieronder verstaan en gelees. Hier is heelwat nuwe reëls by, so lees dit maar goed deur, of jy nou ’n groentjie is en of jy al ’n paar jaar kom. Daar gaan geen verskoning wees as jy nie die reëls nakom nie. Inskrywings maak 24 Februarie 2023 om 12:00 oop – klik hier om in te skryf.

Die rygoed

Die belangrikste deel van alles. Om veiligheid van deelnemers, toeskouers en beamptes te bevorder, is die volgende nuwe reëls uiters belangrik en ononderhandelbaar:

Die ouderdom

Die rygoed mag nie jonger as 1985 wees nie. Dit beteken die registrasiedatum op die registrasiesertifikaat moet voor 31 Desember 1985 wees. Voertuie wat ná 1985 (Januarie 1986) geregistreer is, sal nie toegelaat word nie.

Deelnemers word voortaan versoek om die registrasiesertifikaat saam te bring Van Wyksvlei toe as jy kom om deel te neem, of om dit aan die organiseerders te verskaf sou dit versoek word.

Die waarde

Ons het die totale begroting opgestoot na R40 000. Dit beteken – die waarde van die kar soos hy daar staan met jou aankoms, mag nie meer as R40 000 wees nie. Dit sluit in die aankoopprys, lisensiekostes, herstelwerk, nuwe bande, al die verf en plakkers, die klankstelsel en die fur op die dashboard.

Ander kostes soos die inskrywingsfooie, brandstofkostes, en die aanbring van veiligheidsgordels en brandblussers (wat verpligtend is), word nie daarby ingetel nie. As jy ’n herhaler is, beteken dit nie jy kry elke jaar R40 000 om op die kar te spandeer nie.

Modifikasies

Die enjin in die voertuig moet die oorspronklike enjin wees, of ’n vervanging wat oorspronklik in die model beskikbaar was. ’n Toyota Corolla kan byvoorbeeld nie met ’n Skyline-enjin inskryf nie, al is beide enjins uit die era, was die Skyline-enjin nooit in die Corolla beskikbaar nie.

Dieselfde geld vir moderne enjins (Lexusse en dies meer). As jy jou vering wil lig en groter wiele wil opsit, hou in gedagte dat daar met keuring tydens aankoms, beperkinge op jou deelname geplaas kan word wat sal beteken daar sal items wees waaraan jy nie mag deelneem nie.

Dieselfde geld vir enjin-ombouings. Hierdie beperkings is finaal en die besluit berus by die organiseerders en beamptes. Dit is nie onderhewig aan bespreking nie.

Veterane wat voorheen deelgeneem het (drie Bull Runs of meer) en met omgeboude voertuie wil deelneem, sal ’n spesiale vergunning kry, maar kan ook onderhewig wees aan beperkinge.  

Die tema

Jou tema kan snaaks, tong in die kies en kreatief wees, maar los asseblief politiek, geloof, ander kulture, vulgêre taal en beelde by die huis. Die doel is om jouself te geniet, en nie om ’n stelling te probeer maak wat iemand kan ontstel nie. As jy twyfel, kontak die organiseerders vir leiding.

Om te treiler, of nie te treiler

Die reëls het in die verlede klem daarop gesit dat die kar self, onder eie stoom, tot in Van Wyksvlei moet kom. Daar was ook punte toegeken vir die hoeveelheid grondpad wat gery is (uit alle rigtings is dit ten minste 80 km grondpad tot op die dorp – jy gaan sukkel om daar te kom sonder om grondpad te ry).

Dit is egter baie moeilik om te beheer en te kontroleer. As jy bekommerd is dat jou voertuig dit nie gaan maak tot daar en terug nie, bring gerus ’n sleepwa saam (ná ’n week van Bull Run is Van Wyksvlei se mense uitgeput en jy mag dalk nie ’n slaapplek hê vir jouself as jy moet wag tot die kar weer loop nie.)

Maar ons moedig almal aan om so veel moontlik van die pad met jou ryding self te ry. Dis waar die gees en die ervaring begin. En dit gaan die bloeddruk van almal wat heelpad self met hulle karre ry laer hou. So as jy dit nie vir jouself en jou span wil doen nie, doen dit vir die mede-Bull Runners.

Die spanlede

Almal wil Springbokke wees, maar daar is net plek vir 15 ouens op die veld. Slegs spanlede wat as spanlede geregistreer is, en wat die gepaste kaartjies gekoop het, sal toegelaat word om enigsins op die pan of tydens ’n item in die kar te ry. Geen toeskouers word in die deelnemerskarre toegelaat nie. ’n Spanlid mag ook net saamkom indien hy/sy ouer as 18 is.

Kinders is welkom, maar hulle moet dan saam met die toeskouers onder volwasse toesig beweeg – nie in die karre nie.

Veiligheid

Drink en bestuur

Dit word nie geduld nie. Ons sal jou hierdie jaar verbied om verder te bestuur as ons bevind dat jy onder die invloed is. Hou dit veilig en skoon vir almal.

Brandblussers

Elke voertuig moet ’n brandblusser hê wat iewers gemonteer is waar dit maklik bereikbaar is. Dit is nie opsioneel nie, maar verplig.

Maak vas

Alle passasiers moet te alle tye hulle veiligheidsgordels aanhê.

Beweging op die pan

Tydens Saterdag wat alle deelnemers en toeskouers op die pan is, sal die volgende reëls geld:

  • Deelnemerskarre sal glad nie in die toeskouerarea toegelaat word nie. As jy na die toeskouers wil gaan, kan jy onder begeleiding ry tot teen die wal voor die toeskouer area en jou kar daar parkeer in die aangewese area. Jy kan van daar af stap na waar jy wil wees. Die toeskouerarea is nie vir toertjies met die rygoed nie.
  • Geen toeskouervoertuie op die pan nie. Die geleenthede vir toeskouers om die ander items te besigtig sal voorsien word, maar geen toeskouer kan self met sy eie voertuig op die pan rondry nie.
  • Geen deelnemers mag afsonderlik van hulle groep rondbeweeg nie. Daar gaan meer as een item wees wat op een slag aan die gang is. Die wat al daar was, weet hoeveel stof dit veroorsaak. As elke span toegelaat word om in hulle eie rigtings te skiet soos hulle wil, raak dit bitter-vinnig ’n fiasko. As jy wil beweeg, praat met ’n beampte wat jou sal help om die regte prosedure en roete te volg.
  • Geen donuts op die pan – onder geen omstandighede nie. Jy het een ou nodig om beheer te verloor en tussen bystanders in te rol, om dit vir almal sleg te maak.

Wat om te verwag

Bull Run is so lekker soos jy dit vir jouself maak. Daar is nie kragpunte vir almal nie, daar is baie stof, dis droog, dis warm, water is ’n probleem en om so groot kampterrein te onderhou en reg te kry is ’n groot taak. Veral vir ’n gemeenskap so klein soos Van Wyskvlei.

Dit word elke jaar beter, maar daar sal altyd ’n klein jakkalsies wees, en as jy weet hoe ’n Karoo-boer oor jakkalse voel, sal jy weet dat hulle dit wil oplos. So niks wat verkeerd gaan is doelbewus om jou om te krap nie, dit is maar net iets wat verkeerd gaan. Kom met die regte houding, en geniet jouself.

Die program vir die Bull Run loop elke jaar min of meer dieselfde, so dit is wat jy kan verwag:

Donderdag is aankoms en registrasie

Dit vat ’n hele dag om almal deur die hek, geregistreer en op die kampterrein te kry. En almal besluit mos altyd net voor sononder is die beste tyd om op te daag. Ons gaan voortaan op ’n afsnypunt besluit, en laat registrasies sal dan die volgende oggend gebeur. Dit sal dan ook ’n punte-boete behels.

Vrydag ry ons rally

Daar gaan ’n roete uitgelê word en jy sal nader aan die tyd meer inligting ontvang. Jy gaan nie meer as 300 km op die dag ry nie, en jy sal ook rondom middagete weer terug in die terrein wees voor jy weer wegtrek op die res van jou rally.

Vir die toeskouers wat agterbly gaan daar musiekvermaak en ander aktiwiteite wees.

Saterdag is ons heeldag op die pan

Daar gaan ’n hele klomp aktiwiteite wees om aan deel te neem, en die groepe gaan kleiner wees, so daar gaan meer kans wees vir spanne om te ry en minder stanery.

Saterdagaand is die prysuitdeling en laaste kuier. Dis sleg om ’n prysuitdeling te hou (en daar is iets vir almal) en die krieke sing harder as die applous, so moet asseblief nie vroeg waai nie.

Dis drie volgepakte dae met baie om te doen, en as jy dit vir jouself lekker maak, dan sal dit vir jou lekker wees.

Die Weg Ry & Sleep Bull Run word met trots aangebied deur Leatherman, met ondersteuning van Stanley en Noord-Kaap-toerisme.

Die reëls

1 Koste Die koste vir deelname beloop R8 700 per span (dit is die registrasie vir die kar en twee deelnemers). Koste vir ekstra deelnemers buiten die eerste twee beloop R3 000 per persoon. Die koste vir ondersteuners is R1 575 per persoon.

2 ’n Deel van dié geld word in ’n fonds belê wat uitsluitlik gebruik word om die gemeenskap in en rondom Van Wyksvlei by te staan en op te hef.

3 Alle ondersteuners móét registreer, anders sal hulle nie tot die pan of kampgrond toegelaat word nie.

4 NB ’n Deelnemer is iemand wat in ’n Bull Run-kar ry en aan die items deelneem. ’n Ondersteuner is iemand wat in ’n ander voertuig ry en langs die kant staan en kyk.

5 Daar sal geen toeskouer voertuie op die pan toegelaat word buite die toegewyste parkeerarea nie. As jy nie ’n betalende deelnemer is nie, sal jy slegs jou kar op die pan kan parkeer, en verder te voet kan beweeg op aangewese roetes of as daar ’n pendeltuigdiens is, kan jy daarvan gebruik maak. Geen uitsonderings.

6 As organiseerders behou ons die reg voor om enigiemand ter enige tyd van die pan te verwyder. Dit is privaat grond, en ons het die Van Wyksvlei-polisie en eienaar van die pan se samewerking hierin.

7 Elke deelnemer en passasier in die voertuig moet ’n geldige rybewys hê en dus ouer as 18 jaar wees. Kinders is welkom, maar moet saam met die ondersteuners onder volwasse toesig rondbeweeg.

8 As jy instem om deel te neem aan die Weg Ry & Sleep Bull Run, stem jy in dat dit ’n uitstappie vol pret is en dat die klem nie noodwendig op mededinging val nie, maar eerder op hoeveel jy dit geniet. Die pret van die Bull Run kom van die deelnemers, nie die organiseerders nie.

9 Pryse (indien enige) word toegeken volgens die organiseerders. Geen deelnemer is geregtig op enige prys nie; dit is nie waaroor die Bull Run gaan nie.

10 Daar sal ook weer hierdie jaar ’n tentedorp wees; deelnemers hoef dus slegs ’n slaapsak en ’n kussing te bring. Die koste en spesifikasies hiervan sal later bekendgemaak word.

11 Die voorgeestelsel (handicap) werk as volg:

  • Elke span ontvang punte vir hoe hulle aan die vereistes vir deelname voldoen. Die punte word toegeken vir die kar se enjingrootte, jaarmodel, waarde, tema en die span se gees, maar is nie beperk daartoe nie.
  • Uiteindelik is daar ’n punt met ’n maksimum van 100.
  • Vir elke item waaraan jy deelneem word ’n punt toegeken (spanne word gerangeer volgens hulle vertonings by die items) en die punte word saamgetel.
  • Jou voorgee word dan op hierdie punt toegepas as ’n persentasie. As jou voorgee byvoorbeeld 60 is, kry jy dan 60% van jou punte.
  • Dit is dan die punte waarop die finale rangorde bepaal word.

12 Deelnemers word versoek om alle insittendes se naam op die kar te skryf onder die venster waar die persoon gaan sit. Die voertuig se ouderdom moet ook op die kar geplak of geskryf word (voorste modderskerm aan die bestuurderskant) en ook die waarde van die voertuig. Indien jy dus die waarde van jou voertuig uit jou duim uit suig, sal ander deelnemers dit gou agterkom. Dit sal ook jou voorgee negatief beïnvloed. As dié inligting nie op die regte plekke aangebring is nie, kan jy voorgeepunte verloor.

13 Drankgebruik tydens deelname is streng verbode en skuldige spanne sal gediskwalifiseer word. Jy oortree nie net die wet nie, jy stel ook jou eie lewe en dié van ander deelnemers, ondersteuners en toeskouers in gevaar. Daar sal lukrake alkoholtoetse gedoen word.

14 Die besluit van die organiseerders oor enige aspek van die Bull Run, in oorleg met die redakteur van Weg Ry & Sleep, die uitgewer en Media24, is finaal en geen gesprekke sal daaroor gevoer word nie.

15 Weens die inherente risiko van so baie deelnemende voertuie is dit belangrik dat alle deelnemers tydens die Bull Run die aanwysings en opdragte van die organiseerders en beamptes gehoorsaam.

16 As jy jou inskrywing wil kanselleer, moet jy die versoek skriftelik aan die organiseerders rig ten minste 30 dae voor die aanvang van die byeenkoms. Slegs dan sal jy in aanmerking kom vir ’n terugbetaling van jou inskrywingsfooie. As jy minder as 30 voor die byeekoms kanselleer, kan jy jou inskrywingsfooie verbeur.