In die afgelope paar jaar het die Noord-Kaap homself strategies geplaas as die avontuurhoofsentrum van die land. Die kombinasie van oop ruimtes, skouspelagtige landskappe en unieke kulturele diversiteit skep onbeperkte avontuurmoontlikhede. In die verlede het mega-sportbyeenkomste ’n groot impak op die toerismebedryf gemaak en tot die ekonomiese groei van die provinsie bygedra.

 

“Sport het ’n belangrike deel van die toerismebedryf in die provinsie geword. Met die langtermyneffek van die Covid-19-pandemie op sake- en vakansietoerisme nog onseker, het sporttoerisme ’n noodsaaklike aktiwiteit geword om besoekers na die Noord-Kaap te lok. Deelnemers aan sportbyeenkomste bring nie net ekonomiese voordeel na die plaaslike gemeenskap nie; danksy die warm gasvryheid van die provinsie en die ongelooflike toeriste-aantreklikhede gaan besoekers ook terug na hul huise as ambassadeurs wat verdere toerisme na die streek kan aanmoedig,” sê Abraham Vosloo, lid van die uitvoerende raad van die Departement van Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme.

 

Die Bloedhond-landspoedrekord-byeenkoms is een van daardie mega-gebeurtenisse wat voorheen groot getalle mense na ’n afgeleë deel van die provinsie gelok het. Hierdie hoë-oktaan-gebeurtenis het baie gedoen om die Noord-Kaap as ’n premierbestemming vir avontuursport en buitelugavonture te vestig. Dit het nie net die toerismepotensiaal van die omgewing van Hakskeenpan gewys nie, maar ook ekonomiese voordeel aan die gemeenskappe in hierdie afgeleë deel van die provinsie gebring.

 

In die afgelope jare is die provinsie se hoofstad, Kimberley, in ’n bestemming vir skaatsplankryers omskep. ’n Skaatspark van wêreldgehalte is in die stad aangelê en voor die Covid-uitbreking is die jaarlikse Diamond Cup-skaatsplankkampioenskap hier aangebied. Talle het na Kimberley gestroom vir daardie byeenkoms, en vlugte en verblyf in die stad was volbespreek. Die kampioenskap het ’n goeie hupstoot vir ondernemings en die gasvryheidsbedryf beteken.

 

Hierdie avontuursport dra by tot die provinsie se reputasie as ’n premierbestemming en het aansienlik bygedra tot die toerisme-toename in die provinsie. In die boekjaar 2019/20 het die provinsie ’n 10,2%-toename (jaar op jaar) in die bywoning van groot sportbyeenkomste gehad. Dit het altesaam 3 811 tydelike werksgeleenthede geskep en sowat R225 miljoen tot die provinsie se ekonomie bygedra. Die unieke ligging van die provinsie maak die Noord-Kaap ideal vir groot sportgeleenthede en skep hope geleenthede vir nuwe toerisme na die streek. Dit is duidelik as jy sien sowat 319 000 deelnemers en toeskouers het die provinsie in 2019/20 besoek. Dit het boonop die wêreldmedia na die omgewing gebring en sosio-ekonomies baie vir die streek beteken.

 

Selfs nou tydens Covid, wanneer groot byeenkomste nie moontlik is nie, is die wye oop vlaktes van die Noord-Kaap ideaal vir bergfietsryers, veldlopers (“trail runners”), witwatervlotvaarte, avontuurmotorfietsritte, warmlugballonvaarte, duinry en rotsklim.

Die Noord-Kaap bied besoekers ’n unieke mengsel van natuur, kultuur en avonture wat wissel van die ongenaakbare Kalahari-woestyn in die Noorde, tot die Atlantiese Oseaan in die weste, met die lowergroen wingerde van die Groen Kalahari en die vlaktes van die Karoo in die middel.

 

Besoek experiencenortherncape.com vir nog inligting.