Deel

Pak ’n spesiale reis aan – ry die Karoo-Hoogland-roete

akkreditasie
GEBORG: Eet regte Karoo-skaaptjoppies, loer in by interessante museums, gesels met die locals en gaan fliek in ’n ou art deco-teater . . . Lus vir ’n outydse roadtrip? Kom herlaai jou batterye op die Karoo-Hoogland-roete.

Die naam Karoo kom van die Khoi-woord “karusa”, wat dorre wêreld beteken. Moet egter nie dink dat hierdie omgewing, waar water skaars is, leweloos is nie. Die Karoo huisves eeue oue fossiele, belangrike argeologiese, geskiedkundige en kultuurskatte, en meer as 9 000 sukkulente – die grootste versameling ter wêreld. Met ’n outydse roadtrip deur die Bo-Karoo (op die Karoo-Hoogland-roete) sal jy betreklik min kilometers aflê, maar baie beleef, en weer die goedheid en gasvryheid van mede-Suid-Afrikaners ervaar.

Die eerste borde vir die Karoo-hoogland-roete kry jy kort nadat jy by Van Rhynsdorp van die N7 wegswenk. Ons hou stil om ’n laaste paar goedjies vir die naweek se braaiery te koop, voordat ons op die R27 in die rigting van Nieuwoudtville koers kies.

By Nieuwoudtville draai ons eers af op die Loeriesfonteinpad wat verby die Nieuwoudtville-waterval ry voordat ons die ingang kry na Gannabos, waar ons die naweek oorbly. Dis al laatmiddag en die wêreld verkleur in sagter skakerings van blou, pienk en pers. Dit lyk of jy ’n Pierneef-skildery binnery.  

Gannabos het ’n pragtige kokerboomwoud en dele van die TV-reeks Nêrens, Noord-Kaap is onlangs hier verfilm. Nakkie van Wyk en haar wollerige dwergkees, Gollie (Goliat), gee vir ons die sleutel van die skoolhuisie, waar ons die naweek gaan bly.

“Ja, die pers en blou skakerings maak ons boere effens hartseer,” sê Nakkie. “Daai pienk vygies en silwerbos noem ons die doodskleed – dis die veldblomme wat aan die einde van die reënseisoen uitslaan. As ons dít sien en ons hoor die getjir van die huidjiehu (’n opblaassprinkaan), weet ons die reënseisoen is verby.”

Ons is begin Oktober in die Noord-Kaap en dele van die provinsie het sewe jaar laas goeie reën gehad, maar daar het nog groot en welkome reën later in Oktober en November gekom.

Ons selfsorgeenheid was jare gelede die plaasskooltjie hier, maar is die afgelope jaar opgeknap as ’n skattige gastehuis. Oorkant die skoolhuisie is daar ook staanplek vir woonwaens. Ons bly spesifiek op Gannabos omdat ons graag die kokerbome in die nag wil afneem – en dit stel glad nie teleur nie.

Die volgende dag ry ons uit, eers in die rigting van Loeriesfontein sodat ons ’n draai kan maak by die Fred Turner-windpompmuseum, waar jy 27 windpompe uit verskillende eras kan besigtig. Almal is nog in ’n werkende toestand. Dis egter Sondag en die dorp is stillerig.

Ook op Nieuwoudtville loop ons ’n bloutjie – die meeste eetplekke hier is net in die blommetyd oop. By die ingang van die dorp kry ons darem ’n paar roosterkoeke om vanaand by die braai te eet. Op pad terug na Gannabos trek ons af by die Nieuwoudtville-waterval, een van die dorp se sierade.

Die waterval is pragtig, al is ons buite die reënseisoen daar, en die terrein het netjiese braaiplekke en ablusiegeriewe.

Agterpad na Calvinia

Maandag raai Nakkie se man, Merwe, ons aan om die agterpad na Calvinia te ry en dis goeie raad. Die wêreld is droog, maar dis steeds lieflik, en ons is feitlik die enigste mense op die pad.

Calvinia is ook ’n goeie oornagplak met baie plekke waar jy kan inloer, maar ons drink vandag net koffie by die Hantamhuis oorkant die groot Posbus – ons wil deurstoot Fraserburg toe, waar ons ’n afspraak het met Marthinus Kruger, die dorp se dinosourusgids. By die Hantamhuis swig ons voor die versoeking van koeksisters en pannekoek, en koop ons ’n resepteboek met kontreiresepte.

Dinosourus-voetspore

Van Calvinia af ry jy met die goeie R63 tot by Williston (120 km), en van daar af draai jy af op die R353 na Fraserburg (nog so 90 km). Die pad is deels teerpad en deels grondpad. Ek het nie vooraf verblyf bespreek op Fraserburg nie, want dis ’n Maandag en buite seisoen, maar ek het my misgis. Daar is ’n fietstoer wat deur die dorp loop en die gastehuise is vol. Ons loop bloutjies by die Kliphuis en die Tuishuis, maar iemand antwoord toe ons na die Marigold-gastehuis bel.

Anni Hennep kom van oorkant die straat aangedraf, waar sy in ’n tuin gewoel het. Sy het ’n groot strooihoed wat sy op haar kop vasdruk en dra ’n luiperdvelkaftan. Sy het nie juis reggemaak vir mense nie, maar ons is welkom, sê sy.

Die Marigold is ’n kleurvolle huis in een van die stiller strate, met swart-en-wit-blokkiesvloere en boekrakke waarvan die boeke in bont hope by die rakke uitpeul. Anni is so kleurvol soos haar huis.

Sy het jare gelede die huis op Fraserburg gekoop “want dit was goedkoper as stoorplek in die stad” terwyl sy as toergids die wêreld vol geswerf het, en het haar hier kom vestig met die eerste inperkings in Maart 2020.

Nou skryf sy haar boek, krap in haar groentetuin en ontvang gaste in haar aweregse huis totdat sy weer die pad kan vat. Ons is verstom oor die groente wat sy hier in die Karoo verbou. “Die dorp se mense het vir my gesê jy plant nooit groente voor die nagmaal in Oktober nie (weens ryp), maar my groente staan mooi.”

Op die kant van die dorp tel ons vir Marthinus Kruger op. Sy huis is die laaste een voordat die R356 weer uit die dorp uit kronkel. Marthinus is ’n afgetrede landdros wat op Fraserburg kom rustigheid soek het. Sy hoenders loop in die systraat. Die mense steel dit nie, want hulle is bang vir sy bok, Betsie, sê hy.

Marthinus het hom die afgelope jare as toergids bekwaam en neem mense op uitstappies na Gansfontein, waar jy die voetspore van onder meer die Bradysourus kan sien. Hy praat met groot passie oor die geskiedenis van die dorp, verduidelik waar die Peperpot-kloktoring wat uit 1861 dateer vandaan gekom het, en oor die argitektuur van die huise.

Die Peperpot is ’n seshoekige gebou van nege meter hoog was aanvanklik die magistraat se privaatkantoor was. Later jare het dit die eerste biblioteek op die dorp gehuisves.

Marthinus se stokperdjie is egter argeologie, en op die plaas Gansfontein wys hy met groot kundigheid die spore uit wat 250 miljoen jaar gelede, in die Permiese era, in ’n kwessie van 11 dae vasgelê is. Dis iets wat jou asem wegslaan.

Daarna sluit hy die museum in die ou pastorie oop waar ’n lewensgrootte model van ’n Bradysourus – met ’n pienk bril op die neus – op jou wag. “Die kinders was te bang vir die model.”

Die hele huis is ’n museum waar jy kan sien hoe mense in vervloë dae geleef het. Marthinus sê sedert die koms van die Covid-pandemie het hulle al heelwat stadsmense gesien wat hulle op die dorp kom hervestig het.  

Karootjops en gasvryheid

Terug by die Marigold-gastehuis het Anni ’n storm begin loskook en die huis ruik na Karoo-kos. Die skaapvleis staan en stowe op die ou stoof in die kombuis. Ons sit eers in die leefvertrek met ’n glasie en kuier, besig om reisverhale uit te ruil, voordat ons gesellig om die tafel in die kombuis aansit vir ete.

Ons kuier in Anni se huis asof ons mekaar al jare ken. Die volgende oggend stuur sy ons weg met ’n bottel ingemaakte sitrusskil – “jy stowe dit saam met vleiskos” – voordat ons weer in die pad val.

Lekker op Loxton

Ons ry kuier-kuier oor Loxton (minder as 100 km op die R356), en val in by die koffiewinkel Loxton Lekker, waar ons vroegmiddag koffie drink. Loxton is ’n skrywersdorp – Ena Murray het hier grootgeword en Deon Meyer het baie van sy blitsverkopers hier die lig laat sien.

Loxton Lekker is vol fiksieboeke en snuisterye. Die dorp is ook instrumenteel in bewaringspogings om die oewerkonyn van uitsterwing te red. By die kerk by die sirkel word ons ingenooi om te loer voordat ons weer vertrek, Victoria-Wes toe.  

Die sjarme van Victoria-Wes

Van Loxton af is dit net oor die 80 km na Victoria-Wes toe, waar ons twee nagte gaan oorslaap. Ons maak ons tuis in Moonlight Manor, in die straat aan die voet van Moonlight Hill, waar daar ’n paar wandelpaaie en uitkykpunte is. Victoria-Wes is in 1844 gestig en na die koningin van Engeland genoem.

Die dorp het ’n opbloei beleef in die era van die Diamantstormloop, daarna bietjie swaargekry, maar is een van die dorpe wat deesdae weer sy kop optel.

Baie stedelinge hervestig hulle tans hier omdat hulle in ’n Covid-era danksy ’n goeie internetverbinding van enige plek kan werk. Die dorp het baie om te sien, soos die dorpsmuseum en die Anglikaanse Kerk wat in 1847 gebou is, maar die kroonjuweel is die Apollo-teater in Voortrekkerstraat.

Marthinus het my die nommer van sy kollega Ricardo gegee, maar Ricardo is met ons besoek vir opleiding in Johannesburg. Hy gee ons die nommers van Erney Bostander en Roché Speak. Ons drink eers koffie in die Karoo Deli, voordat ons in Voortrekkerstraat afry.

Die Apollo is ’n art deco-bioskoop wat in die 1950’s gebou is en wat in sy oorspronklike toestand in stand gehou word. Dis hier waar Roché ons vriendelik ontvang. Sy stap met ons deur die statige teater en wys die ou rolprente wat hier draai. Deon Meyer is een van die beskermhere van die teater en die première van sy fliek, Jagveld, is hier gehou. “Toe het hierdie hele straat vol klassieke motors gestaan.”

Voor Covid het Roché in die vakansies twee of drie flieks per dag hier vertoon om die kinders van die straat te hou, maar dinge is rustiger weens Covid-maatreëls. Hulle verhuur nog die teater uit aan individue en hoop om hul fliekprogram in 2022 te hervat, sê Roché.

Ons kry so lus vir fliek in die pragtige teater dat ons haar arm draai en die teater bespreek vir die volgende aand. Ons sal tien kaartjies koop, en ander besoekers in die gastehuise is welkom om te kom saam fliek.

Die gebou waar Mannetjies Roux se antiekwinkel vroeër was, is nou ’n slaghuis wat lekker biltong verkoop.

Ons loer ook in by die NoeX-leerwinkel (in dieselfde gebou as Karoo Organic Meat) laer af in die straat (op die N12). Die winkel het pragtige handgemaakte leerprodukte. Vir aandete val ons in by Ka’roux, op die hoek van Voortrekkerstraat en die N12.

Carnarvon skiet uit

Die volgende oggend eet ons eers ’n plaasstyl ontbyt in die Moonlight Manor voordat ons ’n sirkelroete oor Carnarvon en Vosburg ry. Carnarvon is sowat 150 km vanaf Victoria-Wes en verdien eintlik ’n besoek op sy eie. Die dorp is in 1847 as ’n sendingstasie gestig en is een van die oudste dorpe in die Noord-Kaap.

Die Ska-teleskoop het die dorp op die kaart gesit en dit die afgelope jare ’n gewilde bestemming vir sterrekykers gemaak.

Hier kan jy ook op plase soos Osfontein en Stuurmansfontein in tradisionele korbeelhuise bly. Die korbeelhuise wat jy nog plek-plek in die Noord-Kaap sien, is deur die trekboere in die vroeë 1800’s gebou.

Omdat bome skaars is in die streek, moes die trekboere gebruik wat hulle in die hande kon kry, en het hulle ’n antieke boumetode benut.

Hulle het nie hout gehad om in die plafonne te gebruik nie en het opeenvolgende sirkels van steen gepak wat al nouer na bo raak totdat die mure bo in die dak bymekaarkom. Die laaste gat in die dak is met een plat klip toegemaak.

Die klipmure het goeie isolasie gebied teen die ekstreme hitte en koue. Die Carnarvon-museum, wat ook ’n besoek werd is, is net langs ’n korbeelhuis geleë. 

Minder as 4 km buite Carnarvon kry jy die Appie van Heerden-natuurreservaat, wat sowat 860 hektaar groot is. Hier kan jy nie net Karoo-koppies en -plantegroei sien nie, maar ook springbok, blesbok, gemsbok, die swartwildebees en sebra.

Toegang tot die reservaat is gratis, maar die hek is net op Sondae oop. Op die ander dae moet jy reëlings tref vir die sleutel. (Kry die nommer onder.)

Ons drink nog koffie op Vosburg, waar ons hoor dat die sprinkane soveel skade aanrig ná die eerste goeie reën, voordat ons koers kry terug na Victoria-Wes.

Laatmiddag sit ons en sowat 20 dorpsmense saam in die Apollo-teater. Ons kyk The Sound of Music.

Roché het vir ons springmielies geskiet en gaskoeldrank in outydse botteltjies bedien. Dit voel vir ’n oomblik asof die tyd stilgestaan het. Die Karoo is ’n spesiale plek, maar jy sal dit eers besef as jy die tyd neem om dit te ontdek.

Nuttige nommers

· Gannabos:  Bespreek by gannabos.co.za of stuur ’n whatsapp na 087 150 8101

· Marthinus Kruger bied dinosourustoere (R350 per persoon) sowel as dorpstoere aan. Bespreek by 084 873 0098.

· Gaan kuier by Anni Hennep in die Marigold-gastehuis. Bel 071 125 6139.

· Bespreek ’n dorpstoer op Victoria-Wes of reël om die Apollo-teater te sien by Roché Speak (067 062 9278), Erney Bostander (062 682 7622) of Ricardo Pieterse (073 763 9892).

· Bly in die Moonlight Manor op Victoria-Wes. Bespreek by 053 621 0055.  

Nog plekke om te besoek

Nieuwoudtville 

Die Hantam- Botaniese Tuin. Kontak 027 218 1200.

Calvinia

Die dorpsmuseum is in die ou sinagoge wat in 1920 gebou is. Kontak: 027 341 8500. 

Akkerendam-natuurreservaat is 2 km buite Calvinia. Die reservaat is op sy mooiste in die blomseisoen (Augustus en September), maar is heeljaar deur ’n paradys vir voëlkykers. Kontak 027 341 8131.

Calvinia se Posbus is die grootste ter wêreld. Alle briewe wat hier gepos word, kry ’n unieke stempel.

Williston

Die Williston Mall is ’n puik plek om te eet, te koop en te kuier. Die pienk melkskommels word aanbeveel. Kontak 072 018 7288.

Carnarvon

Die dorpsmuseum is in die ou NG kerksaal ingerig. Skakel 053 382 3012.

Ska, die “Square Kilometre Array”-teleskoop, is op ’n terrein buite die dorp en kan slegs op ope dae besoek word. Kontak Angus Flowers, Candice Raeburn of Vivienne Rowland by events@ska.ac.za of 021 506 7300 om jou plek te bespreek. Koste is R350 per persoon.

Bly in ’n korbeelhuis op Osfontein (bespreek by booking.com) of Stuurmansfontein (bespreek by safarinow.com).

Reël toegang tot die Appie van Heerden-reservaat by 027 53 382 3012

Weet voor jy waai

Ons het die roete aangedurf in ’n dubbelkajuit-Isuzu D-Max-bakkie. Jy kán in ’n gewone sedan ry, maar op die grondpaaie gaan jy bly wees vir ’n ryding met grondvryhoogte.