
Ongeag of jy nou ’n lekker vakansiehouplek vir jou gesin soek, of ’n bietjie avontuur soek, geskiedkundige plekke wil verken of sommer net tyd in die buitelug wil deurbring, die Noord-Kaap sal jou bekoor. Maak seker dis op jou lys van moet-sien-plekke!
1. Kultuur
Kies koers na die Kgalagadi-oorgrenspark (nou ’n Unesco-Wêrelderfenisterrein), en leer die geheimenisse van die bosveld ken saam met die ‡Khomani San. Ontdek die oeroue wysheid van die Nama van die Richtersveld (ook ’n wêrelderfenisterrein) of soek na San-rotskuns of die juwele van die Diamantveld. Verken dorpies, snuffel op kunsvlytmarkte, verlustig jou in die streek se kontreikos en word meegevoer na ’n antieke wêreld deur verhale en danse om die kampvuur.
2. Avontuur
As avontuur in jou bloed is, gaan jy dol wees op die Noord-Kaap. Kies koers na een van die provinsie se talle reservate, waar ’n magdom aksiebelaaide avonture op jou wag: 4x4-paaie, staproetes, veldlope, fietsry, perd- en duinry. Gaan roei ’n kajak op die magtige Oranjerivier, of kamp in die ongerepte natuur. Het jy al die Kalahari-leeu met sy swart maanhare gesien of tyd in die Groen Kalahari deurgebring? Die Noord-Kaap is meer as ’n avontuur – dis ’n lewensverrykende ervaring.
3. Gesinspret
Jy kan ’n mengsel van kultuur, avontuur en natuur hier beleef – met ’n groot verskeidenheid verblyf-opsies! – wat dit ’n topbestemming vir gesinne maak. Dis die tuiste van ses nasionale parke en twee majestueuse riviere (die Oranje en die Vaal). Hier is lekker dinge wat gesinne saam kan doen, soos avontuuraktiwiteite, sowel as wildbesigtigingsritte, voëlkyk en begeleide toere wat jou alles van die omgewing se plant- en dierelewe leer. Is jy lus vir iets opvoedkundigs? Die provinsie het tientalle museums en moet-sien-bestemmings: die Groot Gat in Kimberley, die Suid-Afrikaanse Groot Teleskoop (SALT) en planetarium in Sutherland, en fossiele en dinosourusvoetspore in Fraserburg.
4. Die natuur
Die Noord-Kaap se skoonheid is uniek en oorweldigend – dit sal jou asem wegslaan. Besoek een van die provinsie se nasionale parke: die Kgalagadi en die |Ai-|Ais/Richtersveld-oorgrenspark met hul rooi en wit duine, die Augrabies- waterval nasionale park, die Mokala- Nasionale Park naby Kimberley, die Namakwa en die Tankwa-Karoo Nasionale Parke in die Namakwa-streek. Jy kan ook een van die ses reservate in die streek verken: Goegap, Witsand, Oorlogskloof, Akkerdam, Rolfontein en Spitskop. Die Noord-Kaap se natuurlike skoonheid word aangevul deur sy ongelooflike dierelewe. Van die Klein Vyf tot die Groot Vyf, jy sal onvergeetlike ervarings hier beleef.
5. Veldblomme
Elke lente ontplof die vlaktes van Namakwaland in ’n kleurryke blommeparadys. Die beste manier om die blomme te beleef is te voet – wat dit die ideale bestemming vir stappers en buitelewe-entoesiaste maak. Die beste tyd om die veldblomme te sien is van einde Julie tot vroeg Oktober, maar die streek het heeljaar baie te bied. Met meer as 6 000 plante, 250 voël-, 78 soogdier- en 132 reptiel- en amfibiese spesies, is dit een van die mees biodiverse ariede streke ter wêreld. Sluit aan by ’n begeleide toer om meer oor die streek se unieke plant- en dierelewe te leer.
6. Geskiedenis
As jy in oorloë belangstel, en spesifiek die Anglo-Boereoorlog, wat van 1899 tot 1902 plaasgevind het, is die Slagveldroete ’n moet. Die Noord-Kaap het ’n deurslaggewende rol in dié oorlog gespeel met die bekende Slag van Kimberley, en jy kan ’n deel daarvan herleef met besoeke aan die Magersfontein- en McGregor-museums. Reis die kort afstand na die Doornbult-plaas, net buite Hopetown, om die begraafplaas van die konsentrasiekamp te besoek. Dit is aangewys as een van die beste Anglo-Boereoorlogterreine in Suid-Afrika. Ander belangrike terreine sluit in die Oranjerivier-stasie, die Britse weermagkampe en blokhuise.