FOTO's: Richard Grant

Jy beweeg na aan die aarde wanneer jy op ’n fiets deur die natuur reis. Jy kom en gaan in stilte. Jy asem die omgewing in en jy praat met die mense met wie jou paaie kruis. Dié ervarings is waardevol en eg. Die herinneringe is genoeg om ’n boek se blaaie vol te skryf, en hulle bly jou by. 

Toe ek afgetree het, het ek besluit om op ’n fiets te begin reis. Ek het die nodige toerusting gekoop en in die pad geval om te kyk of dit vir my is. En dit was!

En nou, 3 600 km verder, het ek verskeie toere van tussen drie dae en drie weke voltooi. Ek het al deur die Baviaanskloof gery, Lesotho van bo tot onder platgetrap, en die meeste van die Oos- en Wes-Kaap se bekende passe gery.

Die toer deur Lesotho was taai – die terrein was rof en die hoogte bo seespieël het dinge nóg moeiliker gemaak – maar al my ander reise was op openbare paaie wat enigiemand wat taamlik fiks is, sou kon ry.

Ek het selfs halfpad om die wêreld gevlieg om in Nieu-Seeland – die sogenaamde Trappersparadys – fiets te ry, en ek kan met trots sê dat Suid-Afrika se ?etsroetes koning kraai. Ons natuurskoon is manjifiek, die mense vriendelik, en boonop het ons baie grondpaaie wat net vir jou lê en wag (iets waarmee die Kiwi’s nie kan spog nie).

As jy van fietsry hou, vou die kaart oop en begin ’n roete beplan. Probeer sover moontlik op afgeleë grondpaaie hou, en as dit jou eerste reis is, kies ’n streek wat jy ken. Lekker trap!

NET VIR JOU. Die Klein-Karoo het talle afgeleë grondpaaie wat wag om verken te word –soos hierdie een net buite Van Wyksdorp.

1. Moenie jouself vasmaak nie

Alleen of in ’n groep met al jou toerusting veilig in jou bagasiesakke, geen steunvoertuig wat agter jou aankruie nie en geen voorafbepaalde kampplek waarheen jy jaag nie… dis nou ’n régte fietsreis!

Jy moet heeltemal selfonderhoudend wees en die vryheid hê om jou roete vinnig aan te pas volgens die omstandighede. Met die brandstofprys wat gereeld die hoogte inskiet, kan jy gerus meer omgewingsvriendelik word en ’n goedkoop vakansie gaan hou in ’n deel van ons land waar dit stil en rustig is.

Soos die toer vorder, sal jy fikser, sterker en gesonder word. En omdat jy stadig beweeg, is daar tyd om die natuurskoon rondom jou in te neem en met die mense op jou pad te gesels. En die belangrikste deel? Jy kan jouself bederf en eet net waarvoor jy lus is in enige van die menigte restaurante, hotelle en B&B’s langs die pad, want jy gaan ál die kalorieë wat jy inneem, op jou fiets verbrand.

2. Bly op die agterpaaie

As jy ’n veilige en lekker fietsreis deur Suid-Afrika wil doen, maak gebruik van ons land se duisende grondpaaie. Hier is min verkeer wat pla en die landskap rondom jou is pragtig.

Gewoonlik ry ek enigiets van 40 tot 80 km per dag, afhangende van die toestande. Dis gewoonlik genoeg om van dorp tot dorp (of B&B tot B&B) te kom. En ja, dit is soms lekker om nie te kamp nie!

As ek nie van my huis af vertrek nie, los ek maar my motor by ’n hotel of backpackers-plek. Die eienaars is gewoonlik gewillig om vir jou ’n parkeerplek te gee, want hulle weet jy sal óf die aand voor óf die aand ná jou reis van hulle dienste gebruik maak.

GESOUTE TRAPPERS. Richard Grant, Hélène Gabriel en Leonie Yendall hou stil by Angie’s G Spot,’ n restaurant-en-teetuin op die Prins Alfredpas.

3. Wees darem een keer hardebaard

Oral waar ek al fietsgery het, was daar ’n dorp of plaas wat ’n B&B of kampplek het. Maar een van die lekker dinge van ’n fietsreis is die feit dat jy kan tent opslaan net waar jy wil.

As jy ’n groot motor het, is dit ’n probleem as jy langs die pad wil oorslaap, want jy moet hom kan wegsteek, maar ’n fjiets en klein tent verdwyn sommer vinnig agter ’n bos net ’n paar meter van die pad af.

Daar is iets spesiaals daaraan om ’n aand so langs die pad deur te bring en die volgende oggend op te staan en verder te ry. Én dit maak jou vakansie baie goedkoper!

Hou net die volgende in gedagte: Moenie rommel strooi nie, moenie iemand se eiendom betree nie, en moenie vuurmaak nie. As jy oor ’n heining moet klim, beteken dit dat jy moontlik op private eiendom is en jy sal eers die eienaar moet vra of jy daar mag slaap. Die meeste boere is ongelooflik gasvry – ek het al dikwels my tent verruil vir ’n gemaklike bed, sommer in die plaashuis!

As jy besluit om langs die pad te slaap, kies ’n veilige plekkie. Voordat jy wegspring die volgende oggend, maak seker jy los geen teken van jou “staanplek” nie.

4. Pak die regte toerusting

Eerstens kort jy ’n goeie hard tail-bergfiets wat plek het om’n ?etsrak en sterk en waterdigte drasakke vas te maak. Oorweeg Topeak en Arkel, wat albei goeie produkte maak. Grant Freeme op Lady Grey is die man om mee te gesels. Sy onderneming, Cycle Touring (www.cycletouring.co.za), voer uitstekende drasakke, stuurstangsakke, reënbedekkings en ander benodigdhede vir jou fietsreis in.

Goeie toerusting is nie goedkoop nie, maar jy wil nie hê jou drasakke moet in die middel van nêrens breek, lek of bloot net van swak gehalte uitmekaar val nie. Wanneer ek ’n reis beplan, besluit ek eers op die streek wat ek wil verken en dan trek ek met behulp van ’n kaart (met’n skaal van 1:250 000) ’n roete op.

Daarna kry ek die relevante roetepunte met behulp van Google Earth wat ek op my GPS berg. Dit is nie noodsaaklik om met ’n GPS te ry nie, maar ek hou daarvan om te weet of ek by die regte afdraai is, en dit gee jou ook ’n goeie oorsig van die afstande wat jy daagliks moet kafdraf.

As jou fiets reg is, moet jy dieselfde soort benodigdhede – en kos en klere – pak as wanneer jy gaan stap.

5. Gebruik jou verstand

Veiligheid is die meeste Suid-Afrikaners se bekommernis, en mense vra my gereeld of ek nie bang is nie. Ek moet bieg, toe ek begin ry het, wás ek bang. Maar ek het nog nooit onveilig gevoel of iemand teëgekom wat vyandiggesind is nie; ek het nog net vriendelikheid en nuuskierigheid ervaar.

Gebruik jou verstand: Moenie in stede rondry waar daar baie mense is nie, en moenie in ’n neonkleurige Lycrapakkie met ’n kamera en selfoon om jou nek ry nie. Op Suid-Afrika se plattelandse grondpaaie sal jy regkom deur net mense te groet – jy sal met dieselfde vriendelikheid teruggegroet word.

En jy sal nóg beter vaar as jy in die plaaslike taal kan groet en vrae soos “Waarvandaan kom jy?” en “Waarheen is jy op pad?” kan verstaan. Op my reise het ek besef hoe vriendelik, hulpvaardig en gaaf die meeste Suid-Afrikaners is – my fietsreise het my meer positief gemaak oor die toekoms van ons land as enige politikus.