
Taleni Africa het ses unieke verblyfplekke wat jou onvergeetlike herinneringe aan Namibië sal gee.
Sossusvlei Lodge
Hierdie lodge sit by die ingang na die Namib Naukluft-park en is onlangs opgeknap. Hier is standaard- en superieure verblyf met lugversorging, en suite-badkamers en stoepe wat oor die Namib uitkyk beskikbaar.
Bederf jouself met ’n nag of twee in die junior suite, wat groot lugverkoelde vertrekke, ’n besonderse bad onder ’n hemelvenster en ’n plonspoel op die patio insluit.
Kom drink ’n yskoue drankie by die binnenshuise kroegarea, of kuier in die skadu van die antieke doringboom by die biertuin langs die swembad. Hier kan jy rustig sit en die diere by die nabygeleë watergat dophou. Kom snuffel vir soeweniers by die winkeltjie en geniet die pragtige uitsigte oor die Elim-duin en die omliggende woestynvlaktes vanaf die sonsondergangdek.
Die restaurant by Sossusvlei Lodge is bekend vir sy uithalerfynproewergeregte wat jy onder die sterre kan geniet, of kom skep jou aandete by die heerlike buffet.
By die Avontuursentrum op die terrein wag daar verskeie opwindende aktiwiteite waarmee jy die omgewing kan leer ken. Kry ’n unieke uitsig oor die woestyn vanuit ’n warmlugballon, helikopter of ligte vliegtuig; of gaan op ’n skemeraandrit in die Lodge se safarivoertuig. Ry in ’n duinebesie of gaan op ’n begeleide staptog op die Elim-duin, uitstappies na Sesriem of verken Sossusvlei en Dooie Vlei. Is jy dapper? Probeer ’n duin uitklim.
As jy lus het om jou eie ding te doen, het Sossusvlei ook twee selfsorgeenhede wat 4 km van die Lodge af is. Hier kan jy in luuksheid die natuur verken.
Desert Quiver Camp
Dis die tipe verblyfplek waarvan jy droom as jy van alles wil wegkom. Desert Quiver Camp bied moderne selfsorgeenheid in ’n inspirerende omgewing met skouspelagtige uitsigte.
Die unieke eenhede het ’n ruim lugverkoelde slaapkamer met ’n sit-slaapbank vir kleiner kinders, ’n en suite-badkamer met ’n stort en ’n patio met ’n kombuiseenheid, yskas, houtbank en braaiplek.
Die hoofareas bestaan uit ’n goed toegeruste kroeg, twee kommunale bomas vir groepe of families wat saam reis, en ’n pragtige swembad wat op die Elim-duin uitkyk.
Desert Camp
Hierdie bekende blyplek is verlede jaar opgeknap en bied skouspelagtige uitsigte oor die woestyn tot by die Naukluft-bergreeks in die verte.
Die selfsorgeenhede is baie soortgelyk aan dié by Desert Quiver Camp en die hoofarea sluit ’n lapa met ’n kroeg en televisie, twee gemeenskaplike bomas en ’n verfrissende swembad in. Jy gaan dit nodig hê nadat jy die duine verken het.
Jy kan vars voorraad daagliks by die Ontvangstoonbank bestel, of jy kan jou etes by die restaurant by die nabygeleë Sossusvlei Lodge geniet.
Sossus Oasis-kampterrein
Vir kampeerders is daar ook ’n eksklusiewe kampterrein by die ingang na die Namib Naukluft-park. Die individuele staanplekke is in ’n halfsirkel rondom ’n swembad ingerig. Elke staanplek het ’n geplaveide area onder ’n houtafdak, sy eie stort en toilet, kombuisopwasplek, braai en kragpunte.
Loopafstand vanaf die staanplekke is ’n internetkafee, winkel (wat kruideniersware, koue drinkgoed en selfs klere verkoop), ’n vulstasie en selfs bandwerkswinkel.
Hotel Zum Kaiser
Vanaf Sossusvlei af lei die pad jou na die kus en die pragtige dorp Swakopmund. Naby die bekende hawehoof, strand en wandelpad by die palmbome vind jy die sjarmante Hotel Zum Kaiser.
Hierdie eksklusiewe hotel op die punt van Sam Nujoma-rylaan het altesaam 21 kamers. Sommige kamers kyk vorentoe uit, ander kyk op die binnehof uit en sommige familiekamers is met binnedeure aan mekaar verbind. Elke kamer het lugverkoeling, ’n volledige en suite-badkamer, TV, koffie- en teemaakgeriewe, kroegyskas en wifi.
Die Bistro Zum Kaiser (op die perseel) sit ’n heerlike ontbyt voor. Laat die personeel jou help om een van die talle aktiwiteite op Swakopmund te bespreek. Geniet laatmiddag die pragtige sonsondergang vanaf die hotel se dakterras. Van hier af kan jy koers kies na Etosha.
Etosha Village
Bly gerieflik net buite die park se Andersson-hek naby Okaukuejo. Die eenhede smelt mooi saam met die Mopaniwoud en bied hope privaatheid. Elke eenheid het ’n pragtige lugverkoelde slaapkamer met ’n sitslaapbank vir kinders, ’n en suite-badkamer, ’n patio sowel as sitplek buite.
By die Avontuursentrum kan jy een van talle aktiwiteite bespreek, onder meer wildbesigtigingsritte in Etosha (voldag of halfdag wat albei soggens vroeg vertrek), oggendwandelinge of sterrekyksessies.
Ontspan langs die swembad, in die sithoekies in die pragtige tuin of langs die kampvuur by die kroeg.
Die unieke uitleg van die Village het dit moontlik gemaak dat die restaurant verskeie sitareas kan benut. Hier kan jy aan uitsonderlike buffetetes weglê.
Etosha Village-kampterrein
Vir diegene wat eerder ‘n tentpen wil inkap, is daar ook individuele kampterreine.
Elkeen beskik oor kragpunte, lopende water, ligte, braai, opwasgeriewe, asook privaat- ablusie met jou eie stort en toilet. Die ander geriewe by Etosha Village soos die kroeg, restaurant en swembaddens kan ook gebruik word.
As jy ná jou verblyf hier na die woelige stadslewe moet terugkeer, sal jy terugverlang na die mooi sonsondergange en pragtige herinneringe wat jy hier kon bou.
Taleni Africa | 021 930 4564 | www.taleni-africa.com