
Foto’s: Leon Botha
Opslaanwoonwaens, veral nuwes, is so skaars soos hoendertande op ons paaie, hoofsaaklik omdat byna geen van die plaaslike woonwavervaardigers hulle eie weergawe bou nie.
Eko Veld Gear, wat bekend is vir sy Armadillo-boswoonwaens, het nou die prototipe van sy Lite-model bekend gestel. Dis ’n opslaanwoonwa, maar omdat die onderkant omtrent ’n kloon is van sy bestaande waens, kan jy dié opslaanwoonwa boonop die boendoes in sleep.
Die boonste helfte van die wa bestaan uit seilpanele met ’n soliede dak bo-op. Die meganisme wat Eko Veld Gear op die Lite vir die op- en afslaan gebruik, herinner aan ’n Z wat ’n mens van bo af platdruk wanneer hy toemaak.
Die Lite is nie net heelwat laer as sy boswoonwa-broers nie – wat natuurlik beteken jy gaan hom sonder sukkel in jou motorhuis of afdak kry – maar hy is ook ligter danksy al die soliede panele wat met seil vervang is.
Die Lite het slaapplek vir twee mense, en saam met al die ander voordele is dit net die wa vir paartjies – oud én jonk.
Soos ’n blaasbalk
Die Lite het twee skêrhoekstutte – een op elke hoek agter – en staan voor op die neuswiel. As jy die Lite selfs stewiger wil laat staan, kan jy die los poot langs die neuswiel gebruik. (Dié kan verwyder word en pas op die regterkantse been van die A-raam.)
Die dak lig nie parallel met die romp wanneer jy opslaan nie, en hy slaan ook nie eensklaps op nie, maar in twee bewegings: Eerstens lig jy die dak aan die agterkant. Al wat dit verg, is ’n hupstoot; die twee gasstutte doen die res van die werk. Dit herinner aan ’n blaasbalk wanneer jy die twee kante van mekaar af trek.
Dieselfde gebeur voor. Loop om en lig die dak voor, ook met die hulp van twee gasstutte, en siedaar: Daar staan die dak met die seilgedeeltes netjies gespan nadat dit tot 115 cm bo die romp gelig het.
Voor én agter is ’n groot gaasvenster, en bo-oor span ’n smal dakkie om die son en reën direk van bo te keer. Hiervoor gebruik ’n mens twee veerbelaaide staallatte. As jy die seilafdak oor die linkerkant van die Lite wil opslaan (dis ook die kant waar die deur is), moet jy dit op die rand van die dak inryg vóór jy dit lig, anders gaan jy soos ’n vink aan ’n leer hang wanneer die dak klaar staan.
Die pale pas in sodra die dak staan. Hierdie afdak het drie dwarspale (twee op die kante en een vir die nok) en dan drie vertikale pote. Op die punt pas nog twee pale van die nok na die hoekpale toe, wat beteken die dak span behoorlik.
Die pale steek deur slope in die seildak en is boonop verstelbaar. Dit beteken jy kan die seil span tot jy geen plooi sien nie. Die voordeel is dat jy op ongelyke terrein kan staan, want jy kan steeds tot ’n groot mate die tent mooi reguit trek, iets wat nie moontlik is met rigiede pale nie.
Teen 2,5 m is die seildak ook hoër as waaraan ’n mens gewoond is. Binne-in die Lite en op elke hoek van die dak slaan ’n poot af na die romp toe. Dit stut die dak sodat dit nie per ongeluk toeslaan terwyl jy binne is nie.
Binnekamer
Jy klim met ’n los trappie in die Lite, en ’n stutpaaltjie pas agter die deur in om dit oop te hou. ’n Gang loop van die deur af tot teen die ander kant van die romp, met die bed links van jou. Dis die enigste plek waar jy in die Lite kan staan, en hier’s boonop genoeg ruimte vir twee mense – sonder dat julle mekaar met die elmboog in die ribbes pomp.
Aan die agterkant van die Lite rits twee groot seilflappe oop na ’n kas met drie rakke elk. Dit is oorgenoeg plek vir twee mense se klere.
Op die punt van die gangetjie, links by die voetenent van die bed, is onder meer ’n 220 V-kragpunt plus ’n USB- en Hella-sok. Hier is ook ’n klein skerm met die voltmeter- lesing van die battery daarop.
Langs die gang staan die bed omtrent die hele Lite vol. Links daarvan is ’n versonke pakgedeelte en ’n bedkassie vir jou bril en boek en lipsalf. Teen die dak is ’n LED-bedlampie. Die bed kan opslaan – jy swaai die voetenentgedeelte op, oor na die koppenent, en in die smal oop deel staan twee bankies wat na mekaar toe kyk.
In toekomstige Lite-modelle sal hier ’n tafelblad van die bed se kant af platslaan. Die bankies se kussings kan jy afhaal en die ruimte hieronder as pakplek gebruik, maar die watertenk neem ’n bietjie van die pakplek in die een links op.
Kop en stert
Die neuskas het ’n deur aan elke kant en is dus ’n gawe ruimte vir bonkige kampgoed soos jou gereedskapkas en grondseil, maar ook die los neuswielstut en wasbakraam. Die bokant is ’n oop rak as jy byvoorbeeld ’n sakkie braaihout of twee wil saamry.
Die twee gassilinders se houers is by die stert, elkeen in sy eie houer. Die een is vir die stoof en die ander vir die geiser. Die 220 V-kragsok vir die kragtoevoer prop net onder die gassilinders in.
Die noodwiel pas agter op sy eie sluitbare rak onder die romp in waar dit op ’n afslaanrak lê. ’n Knip hou die wiel in plek – as jy die knip trek, swaai die rak tot op die grond sodat jy die wiel kan uithaal.
Die Lite het net een kas in die regterpaneel en die kragboks met sy stroombrekers en smeltdrade is teen die linkerkant van die kas vasgesit. Die waterpomp is voor jou gemonteer. Die gasgeiser is aan die binnekant van die kasdeur vasgesit waar ’n mens dit aan die watertoevoer kan koppel as jy byvoorbeeld warm water by die skottelgoed nodig het of ’n los storthokkie langsaan wil prakseer.
Bak en vries
Die deur sit by die stert aan die linkerkant van die Lite, met die buitekombuis wat die res van dié kant opneem.
Links van die deur (bo die wiel) slaan ’n werkblad plat met ’n kasgedeelte binne die romp. Die kas het twee rakke met verskeie afskortings waarin jy enigiets van kruideniersware tot plastiekhouers kan pak.
Heel links in die kas, digby die blad, is ’n 220 V-kragprop as jy byvoorbeeld jou ketel wil inprop. Die blad het nie ’n rand nie en vee dus maklik skoon.
Die glyraam met die ys-vrieskas en gasstoof trek uit die linkerkas. Met die laai uitgetrek staan die oopgemaakte deur van dié kas teen die laai. Die boonste knip van die deur haak by ’n ringetjie van die laai in en keer dat die laai ingly as die Lite nie 100% waterpas staan nie. Dit hou dus die deur ook in plek wanneer dit oopstaan. Dis ’n blink plan.
Met die laai uitgetrek staan die ys-vrieskas teenaan die romp met die gasstoof op die ander punt. Dis ’n enkelplaatstoof en sit op die hoek die naaste aan jou as jy by die werkblad staan. Dis nie aan die gassilinder gekoppel nie, wat beteken jy moet een van die silinders nader dra.
Die stoof is omtrent so groot soos ’n skootrekenaar en staan effens versink op sy rakkie. Dit vorm ’n skans rondom die stoof, wat beteken die wind moet eers goed waai voor hy die vlam sal doodwaai. Agter die stoof – op die ander hoek – is ’n blad wat omtrent net so groot is as die stoof self. Dit is nuttige neersitplek vir lepels of speserye, of selfs ’n bord, terwyl jy besig is op die stoof.
Onder die stoof is ’n rakkie met ’n seildeurtjie wat kan toerits. Dis vir die potte, en onder die hoekblad is nog twee afsonderlike en soortgelyke rakkies bo mekaar vir nog kruideniersware. ’n Los raam haak op die punt van die glyraam in waarin ’n los skottelgoedbak en droograk pas. ’n Spuitstuk aan ’n plastiekpyp prop digby die neuskas in sodat jy die skottelgoedbak vol water kan tap.
Lengte: 4,4 m
Breedte: 1,8 m
Hoogte: 1,55 m
Dakhoogte binne bo gang: 2,03 m
Wiele: 195/14
Netto gewig: 860 kg
Dravermoë: 740 kg
As: Gerem en van Burquip. 1,6 t-as
BVM: 1 600 kg
Prys: Ongeveer R180 000
PLUS
- Slaan maklik en vinnig op, en die stoepdak staan hoog genoeg en uit die pad.
- Die kombuiswerkblad het nie ’n rand nie en word maklik skoongehou.
- Die hakie wat die uitglyraam van die ys-vrieskas in plek hou as dit uitgetrek staan, is ’n blink plan.
- Genoeg pakplek vir 2 mense.
- Die noodwiel op sy rak onder die romp is prakties.
MINUS
- Dis hoogstens vir drie mense (mits die derde een ’n baba is).
- ’n Enkelplaatgasstoof gaan nie deug as jy meer as een pot wil gebruik nie.
Weg Ry & Sleep het die Armadillo Lite by die vervaardiger geleen.
Weg Ry & Sleep sê Die wa is lig, klein, bosgereed en nommerpas vir twee.