Vir die eerste keer in baie jare sleep ek een Desembervakansie af na die KwaZulu-Natalse Suidkus. Vriende het op die nippertjie gevra of ons hulle bespreking wil oorneem en ons moes vinnig spring.

’n Kamplys vir ’n seevakansie is aansienlik ingewikkelder as een vir ’n naweekkamp buite Pretoria – dis vanselfsprekend, en daar was dadelik ’n hand vol items boaan my lys.

Deur die dag wemel die bome van veral spreeus, en snags is dit die vrugtevlermuise wat in die takke baljaar – en almal doen hulle besigheid op jou tent.

’n Ordentlike blink seil is ononderhandelbaar, selfs al het jy lugreëling in jou woonwa. Ek het, terloops, nog nie in laasgenoemde belê nie. In KwaZulu- Natal dra sommige bome vrugte in Desember, en as dié vruggies op jou tentdak val, plak dit en los taai kolle wat jy moeilik skoon kry.

Deur die dag wemel die bome van veral spreeus, en snags is dit die vrugtevlermuise wat in die takke baljaar – en almal doen hulle besigheid op jou tent. Jou blink seil is in dié opsig veeldoelig. Dis makliker om hom skoon te skrop met seep en water as die tentdak.

En hy kry nie so maklik seer nie. Buiten die koeligheid en beskerming teen morsige bome en diere hou dit die dak ook droog. Voel maar self hoe klam die onderkant van ’n onbeskutte tentdak is wanneer ’n reëntjie uitsak.

AS JOU STAANPLEK ’n see-uitsig het, is die kans goed dat jy in die wind se pad kamp, en daarom moet jy ordentlike stormbande en ’n groot bagasienet hê. Jy trek die blink seil oor die tent, rol die stormbande oor en anker dit. Dan trek jy die net oor en maak hom vas. Nou kan die wind maar kom.

Een van die beste nuwighede wat onlangs op die mark verskyn het, is stormpenne wat met ’n veer aan die ankertoue vasgeheg word. Waar ek voorheen tot sewe ankertoue gebruik het om die voorste drie pale stewig vas te anker verskaf een veerpen dieselfde gemoedsrus: Jou tent gaan nie opstyg nie.

Jy kan dit selfs oorweeg om twee veerpenne by elke paal in te span as jy doodseker wil maak jou tent staan vas. Die penne werk in tandem saam, afhangende van die windrigting.

Waar ek voorheen tot sewe ankertoue gebruik het om die voorste drie pale stewig vas te anker verskaf een veerpen dieselfde gemoedsrus: Jou tent gaan nie opstyg nie.

As die een veer effens uittrek, trek die ander een korter en keer dat die penne loswikkel. Dis een van die grootste probleme met die L-vormige penne. Hulle wikkel mettertyd los en trek uit. Neem ’n paar ekstra pale saam wat parallel met die woonwa gebruik kan word om die middelse pale aan die kantpale te verbind. Dit keer dat water op jou tentdak opdam.

Sulke poele op die dak is geneig om die pale wat inmekaarskuif te laat knak. Ek stut selfs die pale wat die woonwa met die voorste mure verbind met regopstaande pale.

Dis raadsaam om ’n behoorlike voetjie – omtrent so groot soos ’n lisensieskyf – aan die onderkant van die middelste regop pale aan te bring, want dit keer dat die paal in die grond gedruk word. As dié voetstuk gaatjies het, kan jy dit in dié met reguit penne vasslaan.

VOLGENDE OP MY lysie is ’n vlak plastiekpan of -skottel, soortgelyk aan dié wat in jou dak onder die geiser geplaas word. Plaas twee aan die neus- en rugkant van jou woonwa. Dis hier waar die water afloop en dan onder jou grondseil deurvloei.

Hierdie panne is liggewig en het ’n uitlaatgat waaraan swembadpype geheg kan word om afloopwater selfs verder weg te lei. As jy iets soos ’n Dri-Buddi het, pak hom in. Dit kom goed te pas, veral om handdoeke droog te kry.

Ons moes heelwat betaal om ses klam handdoeke te was en tuimeldroog in die woonwapark se wassery. As jy dus ’n Dri-Buddi aanskaf, sal hy sommer vinnig vir homself betaal.