
Sodra hy weer op land is, sal Zirk sal ’n totale afstand van 7 200 km afgelê het ( 4 000 seemyl) in sy boot, Ratel.
Hy het Kommetjie in Kaapstad op 19 Desember verlaat en soos dinge nou lyk, het hy hom letterlik uit sy beplande skedule uitgeroei. Sou hy dus Sondag die vaart suksesvol eindig, sal dit twee weke voor die beplande aankomstyd wees. Dit gaan beteken hy kan ’n paar wêreldrekords agter sy naam skryf, want eindig hy Sondag, sal hy ’n rekord opstel vir die vinnigste roeityd van die Kaap tot Rio de Janeiro en ook die eerste persoon word hierdie roete sonder enige ondersteuningsvaartuig voltooi. Dié roete is in 2017 deur Wayne Robertson en Braam Malherbe voltooi; dit het hulle 92 dae geneem.
Zirk (59) was voorheen ’n vlootoffisier en pak hierdie tog aan om mense bewus te maak van die omgewing en volhoubare ontwikkeling. Dit is sy tweede poging om die vaart te voltooi nadat hy op 6 Desember naby Robbeneiland moes omdraai toe slegte weer sy poging gefnuik het.
Zirk het glo reeds 10 kg verloor, en kan nie wag om vars vis te eet nie. “Ek moet op my eie die uitdagings sonder ondersteuning aandurf. Ek behartig die navigasie en het niemand wat help kyk vir ander vaartuie en die weer dophou terwyl ek slaap nie; dus slaap ek maar min. Wanneer ek nie roei nie, maak ek my eie vars water, doen ’n bietjie onderhoud aan die boot en was natuurlik wasgoed.”
Ongelukkig sal geen familielede Zirk in Brasilië verwelkom nie vanweë beperkinge op reisigers uit Suid-Afrika.
Lesers kan sy reis dophou op sy Facebook-blad.