Die BirdPro-app kan dalk help: Dit het meer as 1800 opnames van voëlroepe! Dié app is onlangs die wenner gekroon in die kategorie Mees Innoverende Oplossing in vanjaar se MTN se toekenning Sake-app van die Jaar. 

Die app is ontwikkel deur die fotograaf en natuurliefhebber Herman van den Berg – sy opleiding as meganiese ingenieur het gehelp om die app se uitkenningsfunksie te skep.

Hy sê die toekenning is ’n groot eer: “Dit sal die beskikbaarheid van die BirdPro-app onder meer moontlike gebruikers se aandag bring. Sodoende kan ons as ontwikkelaarspan hopelik finansieel in staat gestel word om die toepassingsmoontlikhede verder te voer en die maklike uitkenning van meer Suid-Afrikaanse fauna en flora, maar ook voëls van ander lande, moontlik maak.”

Dié toekenning Sake-app van die Jaar vier talentvolle app-ontwikkelaars in Suid-Afrika. Daar was dié jaar 726 inskrywings – met 146 inskrywings in die kategorie “Mees Innoverende Oplossing”.

Watter funksies het die app? Die SmartSearch-funksie (wat eienskappe soos kleur en habitat insluit) stel gebruikers in staat om spesies maklik uit te ken, jy kan die maandelikse verspreiding van migrerende spesies sien, dit het ’n argief van 6800 vergrootbare foto’s, 1800 opnames van voëlroepe, en jy kan ook jou eie waarnemings en foto’s oplaai.  Dit werk boonop aflyn en is beskikbaar is verskeie tale!

Die app is beskikbaar op die Apple App Store en Android Play Store. Daar is ’n weergawe van die app om voëls in die Krugerwildtuin uit te ken (R249), en die app vir alle Suid-Afrikaanse voëlspesies (R449).