Africa’s Wild Dogs – A Survival Story

Jocelin Kagan

Merlin Unwin Books

Wildehonde is nuuskierige, slim diere: Hulle hou daarvan om ander diere te terg en speletjies uit te dink. Maar hulle is ook goeie jagters – ’n vaardigheid wat hulle ongewild onder veeboere maak.

Hulle is in 2016 tot ’n bedreigde spesie verklaar en daar is minder as 6 600 in die wêreld oor. Hulle word doodgemaak wanneer hulle vee jag, word in wildstropers se strikke gevang en hulle habitat word al hoe kleiner.

Om haar deel vir die bewaring van die spesie te doen het die fotograaf Jocelin Kagan dié koffietafelboek saamgestel met foto’s van wildehonde wat sy in plekke soos die Manapoele- nasionale park in Zimbabwe, die Timbavati-wildreservaat in Suid-Afrika en die Selous-wildreservaat in Tanzanië geneem het.

Wetenskaplikes en natuurbewaarders vertel hoe wildehonde as trop saamleef, hoe hulle jag en kommunikeer, en hoe hulle bewaar word. Al die tantieme gaan na Kagan se stigting, Africa’s Wild Dog Survival Fund.

R520 in boekwinkels

Voetspore in Suid-Afrika: ’n Reisgids

Johan Badenhorst

Protea Boekhuis

Die Voetspore-span het al wyd gereis, onder meer van Agulhas na Alexandrië en van Casablanca na die Kaap, maar vir die 13de ekspedisie het hy besluit om op eie bodem te verken.

Die span het oor ’n tydperk van drie maande in 2019 ’n sirkelroete deur die uithoeke van Suid-Afrika gevolg: In die 13 hoofstukke van hierdie reisgids beskryf Johan Badenhorst die 13 streke wat hulle besoek het.

Die span eet skaapkop in die Kalahari, ry bergpasse in die Baviaanskloof en bekyk gefossileerde dinosourusspore in die Limpopovallei.

Badenhorst maan in die voorwoord lesers moenie ’n omvattende gids verwag nie – dié reisgids is eerder ’n lusmaker wat jou sal aanmoedig om jou eie reis te beplan.

Dit bevat interessante feite oor elke streek, mooi foto’s deur Gideon du Preez Swart, nuttige telefoonnommers en inligting oor plekke waar jy kan oorslaap.

R295 in boekwinkels

Die versoeking van Thomas Maas

Chris Karsten

Human & Rousseau

As jy ’n lekkerleesboek wil hê om van die wêreld te vergeet is ’n spanningsverhaal deur Chris Karsten altyd ’n goeie keuse. Die versoeking van Thomas Maas is sy 13de misdaad-roman en net die boek om in jou strandsak saam te dra dié vakansie.

Nadat Ella Neser as speurder uit die polisie bedank en ’n ruk lank as gasvrou op passasiersbote tussen die Karibiese Eilande gewerk het, keer sy terug na Johannesburg om haarself as ’n privaatspeurder te vestig.

Neser se eerste kliënt nader haar omdat sy vermoed haar man, die sielkundige Thomas Maas, ’n buite-egtelike verhouding het en sy soek bewyse. Maar dan word ’n lyk in ’n swembad ontdek en Neser word betrek by die raaiselagtige moord wat moontlik met haar ondersoek verband hou...

Aanhangers van Karsten se werk ken reeds vir Ella Neser, maar jy hoef nie eers sy Abel Lotz-trilogie of die Ella Neser-reeks te lees om dié roman te geniet nie.

R300 in boekwinkels

Unfair Game – An Exposé of South Africa’s Captive-bred Lion Industry

Unfair Game – An Exposé of South Africa’s Captive-
Unfair Game – An Exposé of South Africa’s Captive-bred Lion Industry

Michael Ashcroft

Biteback Publishing Ltd

Leeuwelpies is oulik, maar as jy al met een op ’n wildplaas gespeel het, het jy dalk onwetend die leeuteel- of gebliktejagbedryf ondersteun.

In Unfair Game beskryf die filantroop Michael Ashcroft wat met hierdie leeuwelpies gebeur wanneer hulle grootword en nie meer toeriste na wildplase lok nie.

Na raming is daar sowat 12 000 leeus in Suid-Afrika wat hoofsaaklik geteel word om deur trofeejagters in klein kampe geskiet te word of om geslag te word vir hulle beendere, wat vir tradisionele medisyne in Suidoos-Asië gebruik word.

Ashcroft het ’n geheime operasie befonds waartydens agente verskeie leeuplase in Suid-Afrika ondersoek het en by tye lees Unfair Game soos ’n spioenverhaal. Dis ’n grieselrige dog belangrike boek – die foto’s veral is ontstellend. Lees dit as jy omgee vir die natuur en graag eties wil reis.

R275 by takealot.com

Night Skies of Botswana

Stephen O’Meara

Struik Nature

Het jy al ooit by Kubu-eiland kamp opgeslaan, na die sterre gekyk en besef jy kan net die Suiderkruis uitken? Dan moet jy hierdie gids vir jou volgende safari aanskaf.

Night Skies of Botswana is gemik op beginners en verduidelik astronomiebegrippe en -verskynsels op ’n manier wat maklik is om te verstaan. Die grootste deel van die gids beslaan vier sterrekaarte vir elke maand van die jaar en alles wat jy in die noorde, suide, ooste en weste kan sien, word mooi uiteengesit.

Botswana het min ligbesoedeling en die gids fokus op dit wat jy met die blote oog of ’n verkyker kan waarneem.

Maar jy hoef nie vir jou volgende vakansie in Botswana te wag voordat jy jou bankkaart uithaal nie: Jy kan die gids enige plek suid van die ewenaar gebruik of dit selfs net vir die lekkerte lees, want O’Meara sluit interessante sterstories van die Basarwa-mense in Botswana, asook Griekse, Romeinse en ander mitologiese verhale oor die naghemel in.

R240 in boekwinkels

Field guide to Renoster-veld of the Overberg

Odette Curtis-Scott, Mike Goulding, Nick Helme, Rhoda McMaster, Sean Privett en Charles Stirton Struik Nature

’n Veldgids oor die mees bedreigde plantegroeistreek in die wêreld, waarvan daar minder as 5% oor is, klink dalk ’n bietjie niche as jy nie in die Overberg woon nie, maar koop een vir jou volgende besoek aan die gebied – dit sal jou insig gee tot ’n diverse ekostelsel wat dikwels misgekyk word.

Renosterveld word soms beskryf as “fynbos se lelike suster” en dit lyk inderdaad maar vaal met die eerste oogopslag (dit blom net in die lente), maar hierdie gids beskryf meer as 980 bol- en blomplante en 140 dierspesies. Curtis-Scott en haar span het vyf jaar lank dié plantegroeistreek ondersoek om hierdie gids, wat die eerste oor die onderwerp is, te skryf.

As jy renosterveld op jou lappie grond het, sal die bewaringsriglyne agterin die boek van onskatbare waarde vir jou wees.

R420 in boekwinkels

Jungu Josh – Die goue kalbas

Constant van Graan

Tafelberg-Uitgewers

Josh bly al twee jaar lank by sy tannie op die plaas nadat sy ma, ’n muishondnavorser, verdwyn het. Een aand moet hy halsoorkop vlug toe ’n geheimsinnige man hom probeer ontvoer – en sy ma se navorsing het iets met die aanval te doen!

Josh kruip weg in Kalimbula, ’n magiese vallei vol hekse, diere wat kan praat, en wreedaardige kreature wat van mensvleis hou. Gou bevriend hy Njeri, ’n meisie wat in die wildernis bly, en saam probeer hulle die raaisel oplos: Wat het met Josh se ma gebeur? Hoekom is sy lewe in gevaar? En wat is in die goue kalbas?

Van Graan skep deurgaans spanning en ’n gevoel van onheil en dié aksiebelaaide boek gaan jou tiener lekker laat naels kou en ’n rukkie van sy of haar slimfoon laat vergeet.

R200 in boekwinkels

Hasie, hoekom is jou stert so kort? – en ander stories uit Afrika

Saamgestel deur Michelle Cooper en illustrasies deur Chris Venter

Tafelberg-Uitgewers

As jy nie meer kreatiewe antwoorde vir al jou kleuter se vrae kan uitdink nie, sal hierdie storiebundel jou deur die “hoekom?”-fase help.

Die 14 verhale is geïnspireer deur mites uit Afrika en handel oor die ontstaan van verskillende diere en natuurverskynsels. Saam sal julle lees hoekom Jakkals ’n swart streep op sy rug het, hoekom Hasie se stert so kort is, en hoe die sterre van die Melkweg in die naglug beland het.

Die illustrasies is kleurvol met fyn detail en sal klein ogies besig hou wanneer Ma of Pa s’n begin toeval. Jy sal ook dalk van die stories uit jou eie kinderdae onthou – van die verhale is oorspronklik in Goue lint, my storie begint (1985) en Stories vir die vaak (1992) gepubliseer.

R195 in boekwinkels