Pierre Brittion van Johannesburg het in 2016 hierdie foto's aan Weg gestuur. Dis in die Desember-uitgawe saam met ons kenner se verduideliking geplaas. Pierre wou weet of hierdie arend se gedrag normaal was.
Ons het naby die Leeudril-watergat in die Kgalagadi-oorgrenspark op ’n breëkoparend en gompou afgekom wat naby mekaar sit op die grond.
Dit was duidelik dat daar ’n skermutseling was, want langs die gompou het ’n klomp vere in die gras gelê. En daar was vere en bloed om die arend se snawel.
Die twee het mekaar stip aangestaar. Die gompou het nie probeer wegkom nie.
Die arend het skielik weer aangeval. Hy het sy kloue probeer inslaan, maar die gompou het terugbaklei. Die arend het opgevlieg en in ’n kameeldoringboom gaan sit. Van daar af het hy afgeduik en weer die gompou probeer bykom. Hy was weer onsuksesvol en het teruggekeer na die boom.
Is dit normaal dat ’n breëkoparend ’n gompou probeer vang?
Die voëlkenner prof. Adrian Craig antwoord: Dis voorwaar ’n interessante voorval. Gewoonlik is ’n breëkoparend se prooi heelwat kleiner. Hulle sal soogdiere tot 4 kg of voëls en reptiele tot 3 kg probeer vang.
Die arend sal wel groter prooi soos rooibokke vang, en volgens die Roberts-voëlgids (sewende uitgawe) is die gompou al ’n paar keer as slagoffer aangeteken. Maar dan moet hy dit op die grond vreet, want die arend kan nie met so ’n swaar prooi (’n volwasse gompou weeg tot 18 kg) vlieg nie.
Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #146 (Desember 2016) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien.