Die Hoëveldse donderstorm laatmiddag was heel aanskoulik, maar nou raak die Southern Sun-hotelkamer benoud.

Daar moet iewers in hierdie plek ’n kroegie of stoep wees waar ek met ’n leesboek die tyd tot aandete kan verwyl.

Die hysbak gly geluidloos ondertoe waar ’n robotstem ietwat verbaas aankondig:

“Ground… floor.”

Wat het ons hier? Die ingangsportaal is vol groepies gaste wat met ’n drankie in die hand hulleself aan eetgoed help.

Is ek ongenooid by ’n private geselligheid?

Maar dan bied ’n kelner my ook ’n glas rooiwyn aan voor ete.

Die atmosfeer is ’n kombinasie van die kamma gemak by ’n skoolreünie en die somberheid van tee in die kerksaal ná ’n begrafnis.

Om die hoek is ’n sitkamertjie en ek gewaar ’n oop rusbank.

Met die sitslag glimlag ek vir ’n ouer paartjie oorkant die koffietafel en hou my leesboek verskonend omhoog.

Die oom loer skaars oor sy koerant, maar die tannie is skielik hier lángs my, haar bordjie southappies onder my neus.

Love, you should try the camembert, it’s divine!

Love neem bedees ’n wiggie kaas, bedank haar en blaai die boek oop.

Maar dit bring haar nie van stryk nie.

Sy is Wendy Saunders en daai is haar Jimmy.

Oe, proe, próé net die olywe! En weer word ek soos ’n voëltjie gevoer.

Hulle slaap altyd hier oor wanneer hulle Johannesburg toe kom, vertel sy.

Jimmy het dekades vir einste Southern Sun gewerk, dié dat hulle altyd hier welkom is.

Môreoggend is dit terug Durban toe, dan kan Jimmy ordentlik gaan rus.

Hy’ t mos onlangs twee operasies gehad en só baie gewig verloor, sy moes skoon sy swembroek se pylnate invat.

“Swem jy nou vir oefening? Soos… fisio? Ná die operasies?” vra ek besorgd vir die man agter die koerant.

Hy roer nie.

Nee, hulle swem nog van altyd af, antwoord Wendy. Hulle is nou onderskeidelik 83 en 81 jaar oud en het die afgelope week aan die hóéveelste Gauteng-meestersswembyeenkoms kom deelneem.

Sien, die swemmery is iets wat hulle nog saam kan doen.

Soos dans.

Man, kon hulle nou vir jou dáns! Sy’ t Jimmy in die 1950’s by die Vogelstruisbult-uraniummyn buite Springs ontmoet.

Hy was ’n geoloog; sy het in die laboratorium gewerk. En toe word hulle dansmaats.

Maar dit was slegs platonies! Wel, tóé nog.

Toe sy 25 word, het sy 10 pond se spaargeld bymekaar en wil Europa toe.

That’s when Jimmy asked me to go steady with him.” Sy sê toe nee, die wêreld roep!

En sy’s vort en werk ’n ruk vir die Overseas Visitors Club in Londen.

Intussen aanvaar Jim ’n werksaanbod in Noord-Rhodesië en raak verloof aan ’n Ierse meisie.

Die atmosfeer is ’n kombinasie van die kamma gemak by ’n skoolreünie en die somberheid van tee in die kerksaal ná ’n begrafnis.

He was a handsome sod at the time,” sê Wendy en knip ’n oog. Die koerant sê niks.

Sy hou aan om my vol kaas en olywe te prop en tussendeur vloei die staaltjies: In ’n stadium was sy ’n diensmeisie in die Queen Mother se huishouding.

Een oggend het die tante vroeër as gewoonlik uit haar kamer verskyn. Bid jou dit aan!

Daar staan sy wat Wendy is met ’n stofsuier onder die blad en nou moet sy probeer curtsy!

Maar, ag, die Queen Mother was nie so streng oor dié goed soos die res van hulle nie.

Sy’t op een partytjie in die paleis dan tot ge-jive!

Oh, and that prince Philip, só sexy in a kilt!

Wendy is later met ’n graanboot Amerika toe, het jong paartjies deur Rome ge-chaperone en in Marokko gaan draai waar sy – ná ’n hengse misverstand en ’n verlore paspoort – deur die Britse konsulaat uit ’n bordeel gered moes word.

Haar oë vonkel weer ondeund: “Daai koning Hassan die Tweede van Marokko was ook ’n aantreklike man – sy politiek ten spyt.”

Ek wonder wat sy my nié vertel nie. ’n Kelner kom sê aandete is beskikbaar.

Wag, wag, wag! keer Wendy. Sy wil my net gou nog dié vertel: Toe sy ná jare in die buiteland weer huis toe kom, het vriende haar met ’n partytjie by haar ouerhuis verras.

Sy het ’n paar dae vantevore vir Jim – toe al ’n hotelbaas in Tanganjika – per telegram laat weet sy’s terug en wraggies, dié aand daag hy op.

Patrick, ’n vorige liefde, wou weer by haar vlerksleep en het ná al die ander gaste reeds vertrek het, steeds bly talm.

Maar hy’t nie ’n kans gestaan teen Jim nie.

Isn’t that true, Jimmy?” Die koerant sak uiteindelik.

En Jim antwoord: “I could out-sit any man.