Foto’s: Evan Naudé en Piet van Heerde

Video: Evan Naudé

As ons eerlik moet wees, sal ons ruiterlik erken verlede jaar se Ry & Sleep Bull Run was tot hier in die middel van die jaar nog erg in die weegskaal. Ons was midde-in ’n nasionale inperking en daar was groot onduidelikheid oor wat ons mag en nié mag doen nie.

’n Byeenkoms met die skaal van die Bull Run vereis dat baie logistieke faktore in ag geneem moet word, soos die hoeveelheid mense wat op een slag bymekaar mag wees, die beskikbaarheid van handreinigers en hoe om al die deelnemers veilig te hou.

Toe die provinsiale grense weer oopgestel word en die nasionale inperkingsmaatreëls in so ’n mate verslap dat ons ’n sekere aantal mense bymekaar mag kry, het ’n kleiner Bull Run die groen lig gekry. En hoewel daar digby 100 spanne was wat van reg oor die land op Vanwyksvlei toegesak het (teenoor vorige jare se 150 spanne), het dit geensins die gees van die byeenkoms gedemp nie.

Daar was heelwat nuwelinge by die 2020 Bull Run en die opgewondenheid was tasbaar.

Van die organiseerders se kant af het ons seker gemaak daar is handreiniger oral beskikbaar, en gelukkig raak ’n mens vinnig vertroud met masker dra in die stof op die pan.

Die formaat van die Bull Run het grotendeels dieselfde gebly, met ’n tydren die Vrydag en die pret op die pan die Saterdag. Die deelnemers het vir groot sports gesorg, en uiteindelik het Tewis Labuschagne se Some say-span in Die Panslaner II (’n 1975-model Ford Escort 1300) met die louere weggestap.

Soos altyd kan ons nie die byeenkoms aanbied sonder ons toegewyde borge en vriende nie.

Ons hartlike dank dus aan Outdoor Warehouse, ProAuto Rubber, Noord-Kaap-toerisme, Rudi Oberholzer en sy komitee op Vanwyksvlei en Wilhelm Buurman vir die gebruik van sy pan. Dankie ook aan die organiseerders, Gerrie van Eeden en Thys de Jager; die baanbeamptes; Oasis vir die water (vir beamptes én deelnemers); Sterling Access vir die vervoer van die tente; en Signarama in Pretoria-Noord vir die druk van die deelnemers se plakkers.

Volgende jaar maak ons weer so!

Borge
Borge: Outdoor Warehouse, Pro Auto Rubber, Noord-Kaap-toerisme