Oosie en Martie Pretorius het getender om Takkieskloof as ’n vakansieoord te bedryf en ’n 30 jaar-kontrak met die Hessequa-munisipaliteit gesluit om die oord op te gradeer en dit as die Dibiki Riversdal-oord te bedryf.
Voorheen was hier 16 staanplekke met private badkamers, maar Oosie-hulle het die geriewe ’n hele nuwe – en vars – gedaante gegee. Elkeen van die badkamers het ’n opwasgedeelte, stort, toilet en wasbak. Hulle is nog besig om die algemene badkamers op te knap, en die plan is om dit vroeg vanjaar reg te hê vir die 12 algemene staanplekke by dit.
Sake lyk belowend vir Dibiki Riversdal, want die kampplek was volbespreek vir Desember en Januarie. Die egpaar se kinders, Wietz, Hanno en Mart-Mariè, is ook betrokke by Dibiki, en Mart-Mariè sal voortaan die leisels op Riversdal oorneem.