Die Skukuza-kamp is nie een van ons gunstelinge nie, maar dit was die enigste plek waar ons in Oktober 2017 plek kon kry om tien dae aaneen te kamp.

Een oggend ry ons uit op die H1-2 tussen Skukuza en Tshokwane en kom ’n groot trop olifante teë wat die pad oorsteek. Ons hou op ’n veilige afstand stil en wag dat hulle oor die pad beweeg.

Een van die laastes is ’n jong koei. En daar reg voor ons, in die middel van die pad, gaan staan sy en kyk reguit vir ons. Dit voel soos minute. Sy draai dwars en tel haar regtervoorpoot vir ’n paar tellings in die lug op, sit dit neer en skop haar linkeragterpoot ook vir ’n paar tellings na agter en hou dit in die lug.

Skielik sak sy neer op haar bors met haar agterent in die lug en haar twee voorpote uitgestrek voor haar. Sy krul haar slurp en lê dit versigtig op haar voorpote neer. Só staan sy vir ’n paar oomblikke, skud haar kop... en met ’n amper speelse blik in ons rigting staan sy stadig op.

Toe loop sy met haar slurp in die lug ál swaaiend verder agter die trop aan. Dit was só onverwags en aanskoulik dat ek en Nicci spontaan begin hande klap het. Sy het ons albei laat dink aan ’n effense oorgewig en selfversekerde skoolmeisie wat triomfantelik haar balletbuiging maak op die skoolsaalverhoog.

Eers ná die “uitvoering” onthou ek van my kamera wat op my skoot lê; ek het nooit foto’s geneem nie.

Toe ons by die huis aankom, bestel ek dadelik ’n videokamera vir my Fortuner wat ’n mens by die voorruit installeer.

Ons het die afgelope Oktober weer in Skukuza gekamp en oral rondgery met die kamera aangeskakel, maar ongelukkig het die jong ballerina nie weer gesig gewys nie.


Lees al die lesersbriewe wat in ons Februarie-uitgawe verskyn hier.