
Baie wedrenne beweer dat hul naam hul ware gees vasvang, maar nie een kom naby die Karoo Burn nie. Hierdie MTB-uitdaging gaan deelnemers deur die stil skoonheid van die Noord-Kaap neem en jy gaan die hitte, wind, gruis, stof en ongenaakbare landskap moet trotseer.
Die roete van 242 km neem jou deur die Tankwa Karoo en tot in die Koue Bokkeveld, waar jy landskappe sien wat geen ander provinsie in Suid-Afrika – en eintlik min lande – jou kan bied.
Boonop bied die Noord-Kaapse Toerisme-owerheid ’n verskeidenheid verblyfopsies, besienswaardighede en toere wat hierdie wedren in ’n vakansie sal omtower wat jy nooit sal vergeet nie. Gaan na hul webwerf om die Noord-Kaap te ervaar soos nog nooit tevore nie.
Van roerende sonsondergange tot die asemrowende sterrehemel in antieke landskappe. Daar is niks wat met die Noord-Kaap kan meeding nie.
Roete-inligting – wat kan deelnemers verwag?
Die waterpunte is almal by toeristelandmerke in die provinsie geleë, soos Die Mond (waterpunt 3), ’n waterryke oase in die middel van ’n maanlandskap, en die Tankwa-padstal (waterpunt 4), wat wêreldbekend is onder besoekers wat dit tot daar waag.
Wat meer is, die roete spog met die langste ononderbroke grondpad in Suider-Afrika!
Die roete begin in Calvinia en lei na die langste grondpad in Suid-Afrika – die R355. Ná ’n aanvanklike klim uit Calvinia, sak die roete af na die 110 km-merk langs steil afdraandes.
Maar pasop vir die rif in die middel van die pad! Dit versteek skerp klippe wat in ’n oogwink sal klaarspeel met ’n fietsband.
En dis net die begin! Die eerste 103 km is net ’n opwarming. Die harde werk begin ná Waterpunt 3 wanneer die roete begin klim en die pad rowwer word.
Jy gaan mooi moet dink om die regte lyn te kies. Deur die ergste sinkplaatpad te vermy, sal jy jou hande spaar en daardie sensitiewe deel van jou anatomie wat op die fiets se saal sit!
Kies jy egter weer die gladder, sanderige deel van die pad, gaan jy sukkel om te trap en kan die sand dalk jou voorwiel gryp en jou soos ’n rodeobul van jou fiets afgooi.
Jy moet egter jou momentum (en die regte banddruk) hou terwyl jy die 170 km-merk en die bekende Tankwa-padstal by Waterpunt 4 probeer bereik.
Maak seker jy eet en vul weer jou watervoorraad aan voordat jy van die R355 wegswaai. Die klipharde (maar skouspelagtige) Katbakkiespas lê nou voor, wat die moeilikste deel van die wedren is.
Jy sal waarskynlik die pas tref namate die warm Afrika-son begin sak en die manjifieke Tankwa sal jou probeer moed inpraat met ’n onvergeetlike sonsondergang.
Van daar af is dit ’n welkome afdraand tot by 190 km, gevolg deur ’n paar kleiner bultjies tot by die eindpunt by die Kaleo-gasteplaas.
Die Karoo Burn vind op 19 Februarie 2022 plaas. Besoek karooburn.co.za vir nog inligting.