Deel

Die Portugese Camino: Padron-rissies en die storm voor die stilte

akkreditasie
Gereed, Weg ...!
Gereed, Weg ...!
GEBORG: Ná maande se beplanning ontmoet die Weg-groep mekaar op Luanda se lughawe, vlieg saam na Porto en slaap die eerste aand in Baiona oor, van waar hul staptog op die Portugese Camino gaan begin.

Hierdie is die eerste blog in ’n reeks van 8 artikels. Weg se avontuur is moontlik gemaak deur Hi-Tec, Arnigel en Caminoways.com

“There is no such thing as bad weather, only inapproprate clothing” is een van daardie sêgoed wat - veral hier by die Weg-tydskrifte – gebruik word om onrustige kollegas te troos wat ’n bekommerde oog op die weer hou omdat hulle dalk in sousreën ’n tent moet opslaan of ’n staproete moet aanpak. 

Ek hou die wolke dop terwyl ons groep in die bus vanaf die lughawe in Porto, Portugal, na die kusdorp Baiona ry. Ons het mekaar al taamlik goed leer ken oor ’n knertsie op Luanda se lughawe, waar ons mekaar vir die eerste keer ontmoet het. Toe het die groep my gevra hoe ons sal weet watter ou op die lughawe ons na Baiona gaan neem. Ek het doodbedaard vir hulle gesê ons gids se naam is Alex, en hulle moet net uitkyk vir ’n ou op die lughawe wat soos ’n Alex lyk...

Dit het toe amper so gewerk! Met ons aankoms het daar iemand (wel nie Alex nie) op die lughawe met ’n naambord vir ons gestaan en wag. Dit was die busbestuurder wat caminoways.com vir ons gereël het. Breë glimlag – nie ’n enkele woord Engels nie! Maar hy kon darem verstaan dat ons ’n koppie koffie nodig het voordat ons op die bus klim. En omtrent ’n uur later het ons bus voor ’n heeltemal skaflike hotel, die Anunciada, reg op die waterkant van Baiona stilgehou. Vir ’n beter ligging kon ons nie vra nie. 

Foto: Gerda Engelbrecht
Welkom in Baiona
Foto: Gerda Engelbrecht
Kyk na die detail op die teëls
Foto: Gerda Engelbrecht
Foto: Gerda Engelbrecht

Maar die dag lyk grou en ek is pas in my dakkamer (oulik!) voor ek moet vensters toemaak vir die reën. Ek is lief vir die reën en as Kapenaar is ek dankbaar vir “strome van seën”, maar reën is steeds nie die lekkerste ding op aarde as jy sewe of agt uur lank moet stap nie. En dit lyk asof die reën hier is om te bly.

Foto: Gerda Engelbrecht
My dakkamer in Hotel Anunciada

Die Watse Camino...?

Hierdie Weg-groep loop die Portugese Camino. Dis die eerste Weg-groep wat hierdie spesifieke Camino aanpak! As jy in die hoofstad Lissabon wegtrek, sal jy sowat 750 km loop tot in Santiago de Compostela, en as jy in Porto begin stap, sowat 250 km. Ons loop net die laaste 125 km vanaf Baiona af. 

Foto: Gerda Engelbrecht
Ons hotel is een van daardie geboue
Foto: Gerda Engelbrecht
Die kuierarea

“Hoekom praat julle van die Portugese Camino as ons in Spanje wegspring?” vra Biebie my in die hotel se kuierarea.

Ek is vir ’n oomblik effe oorbluf. Ek was tot nou toe skandelik onder die (wan)indruk dat Baiona nog in Portugal is. Dis inderdaad reeds in Galisië, Spanje. Die rede daarvoor is “histories”. Die roetes word genoem na die plek waar hulle begin, en nie waar hulle eindig nie. (Almal eindig immers in Spanje.) Die Franse Weg spring weg in St. Jean Pied de Port, wat in Frankryk is. Maar reeds op Dag 1 steek jy die Pireneë oor na Roncesvalles, Spanje.

Die roetes word genoem na die plek waar hulle begin, en nie waar hulle eindig nie.

As jy dus net die laaste 100 km van die Franse Weg stap, gaan jy ook nét in Spanje stap, en nooit in Frankryk nie. Die Portugese Camino spring in Lissabon weg, maar kort ná Porto steek jy die grens na Spanje oor. Feitlik die laaste 250 kilometer van die Portugese Camino loop dus in Spanje, en nie Portugal nie.  

Foto: Gerda Engelbrecht
Dis 'n grou dag
Foto: Gerda Engelbrecht
Foto: Gerda Engelbrecht
Foto: Gerda Engelbrecht
Foto: Gerda Engelbrecht
Foto: Gerda Engelbrecht
Foto: Gerda Engelbrecht
Foto: Gerda Engelbrecht
Foto: Gerda Engelbrecht

Baiona, waar ons gaan wegspring, is ’n pragtige dorp. Die Engelse sal dit as “quaint” beskryf. In die buiteseisoen is hier sowat 11 000 inwoners, maar die getal groei aan tot by sowat 45 000 in die vakansietyd. Die inwoners vertel trots dat die dorp bekend is omdat die span van Christopher Columbus eerste hiér met die skip die Pinta aangedoen het nadat die Amerikas ontdek is.

Dit was dus die eerste dorp in Europa wat van die bestaan van die Amerikas gehoor het. Dis ook een van ’n handvol dorpe langs die Camino waar ’n eeue-oue kasteel in ’n Parador (’n luukse hotel) omskep is. Mense is soms geneig om te dink dat die herberge die enigste “outentieke” verblyf op die Camino is, maar dis inderwaarheid moontlik om in ’n vyfsterhotel te bly wat ook ’n eeue-oue verbintenis met die Camino het.

Foto: Gerda Engelbrecht
Pragtige Baiona
Foto: Gerda Engelbrecht
Foto: Gerda Engelbrecht
Foto: Gerda Engelbrecht
Foto: Gerda Engelbrecht

Ons eerste verpligting is eers vanaand kort voor 8, wanneer ons gids van caminoways.com vir ons ’n inligtingsessie gaan gee oor Dag 1. Tot dan rus ons ’n bietjie en boemel ons in die strate van Baiona. Ek gaan koop koeldrank en eetgoed in die supermark, en loop vir Alta en Annette raak.

Ons drentel ’n rukkie, en draf dan by ’n eetplekkie in kusweg in vir tortilla de patatas. Ek sal bieg: Ek sal al die 25 km per dag stap ter wille van die tortilla de patatas! (As ’n omelet en kapokaartappels skelm sou vry, sal die resultaat tortilla de patatas wees.)

Vier ander lede van die groep – Marietjie, Amelia, Linda en Michelle – het hulle weer met die porsiegrootte van die tapas misgis en soveel bestel dat hulle later vir Pieter en ’n paar verbygaande vreemdelinge moet naderwink om te kom help eet. ’n Mens mors nie met kos nie!

Ek sal al die 25 km per dag stap ter wille van die tortilla de patatas!

Foto: Gerda Engelbrecht
Dan trek die weer genadiglik oop
Foto: Gerda Engelbrecht
Die seiljagklub oorkant die hotel
Foto: Gerda Engelbrecht
Die mooi skemeruur
Foto: Gerda Engelbrecht
Ons loop ons eerste Camino-teken raak

Hoe lyk julle ‘soes’? 

Teen laatmiddag trek die weer genadiglik oop en begin Baiona sy mooiste kleure vir ons wys. Ek is diep dankbaar en stap ’n lang ent teen die kaai af. Ek verbeel my telkens ek hoor vir Amelia iewers lag. 

Kort voor agt kom Alex by die hotel aan. Hy teken vinnig in en begin dan sy inligtingsessie. Ons kry die etikette waarmee ons ons tasse moet merk sodat dit elke dag na die volgende bestemming vervoer kan word, en hy deel ons pelgrimspaspoorte uit. Omdat ons net die laaste 125 km van die roete stap – die minimum om ’n Compostela-sertifikaat in Santiago af te haal – moet ons elke dag  minstens twee stempels in die paspoorte kry.

Alex vra telkens uit oor die stand van ons “soes” en dit vat my mooi dink om uit te werk dat hy na ons “shoes” verwys. Ek beplan om met Hi-Tec se Ravus Quest te stap, en hulle is nie so goed ingeloop soos wat ek graag sou wou gehad het nie. Soms bots jou goeie bedoelinge met die realiteite van jou werksverpligtinge. 

Foto: Gerda Engelbrecht
Ek stap in Hi-Tec se Ravus Quest
Foto: Gerda Engelbrecht
Maar saans dra ek Hi-Tec se V-Lite Ox-Trail

Ons spring ook die volgende dag eers laterig weg (om 08:30), want dis reeds Oktober en die son kom soggens eers ná agt op. 

Eendmossels en Padron-rissies 

Ons aandete is by die toerprys ingesluit en is ’n prettige affêre. Alex is ’n boorling van die streek en ’n galante gasheer. Hy praat ses Europese tale en het grade in die ekonomie en die regte – ek kan maar ophou lag vir sy “soes”. Hy het al die wêreld vol gereis, onder meer drie maande in Suid-Afrika en ’n jaar in Patagonië deurgebring. 

Foto: Gerda Engelbrecht
Dis die Weg-groep. Alex sit tweede van links

Alex bestel die een streeksgereg ná die ander, wat in gemeenskaplike opdienborde voorgesit word. Ons proe eendmossels (“goose barnicles”). Alex verduidelik dis een van die duurste geregte ter wêreld omdat dit net aan die kus van Galisië voorkom en so moeilik is om uit die see te haal. Ek google later en sien eendmossels kos byna R3 000 per kilo.

Ek is allergies vir skulpvis en kan nie nou te avontuurlik raak nie, maar die res van die groep sê dit het ’n jellie-agtige tekstuur en ’n souterige smaak.

Foto: Gerda Engelbrecht
Eendmossels
Foto: Gerda Engelbrecht
Dit lyk soos iets wat 'n monster kan raak in ’n moewie
Foto: Gerda Engelbrecht
Sardyne
Foto: Gerda Engelbrecht
Die Padron-rissies

Daarna kom die vars brood, die borde kaas en konfytstroke, die sardyne, en later borde vol varkblokkies en gebraaide aartappel. (’n Vark is sy lewe nie seker langs die Camino nie.) Alex bestel ook ’n paar porsies Padron-rissies, ’n gereg wat eie is aan Padron, ons laaste oorslaapdorp op dié Camino.

Die rissies is nie veronderstel om te brand nie (proe ’n bietjie soos ’n wilderige spinasie), maar Alex wys ons jy byt eers net die puntjie af, want elke bak het ’n rebelse rissie of twee wat amok kan maak in jou mond.

Ek lê die nag bekommerd en luister na die reën op die dak, maar weet van die weer-app op my foon dat sonskynweer vir ons eerste stapdag voorspel word. Ek kan ontspan. Ek vind ook uit dat Padron-rissies nie net amok kan maak in jou mónd nie, maar ook... Wag, ek sal julle die detail spaar.

Foto: Gerda Engelbrecht
Baiona in die aand

Ek moet bieg, ek is effens gespanne oor die stappery. Dis my vierde Camino, maar ek het my voorbereiding bietjie afgeskeep, maar dis nou te laat vir omdraai. Ons is opgepak, gestewel en gepaspoort vir Dag 1 op ons Portugese Camino.  


Weg se reis word moontlik gemaak deur Hi-Tec, Arnigel en caminoways.com.

Caminoways.com reël fiets- en staptoere op verskeie roetes op die Camino de Santiago. ’n Sesdagreis op die Camino Frances van Sarria na Santiago begin by 525 euro (R8 400) per persoon wat deel (vliegkaartjies uitgesluit). Vir besonderhede of om ’n kwotasie te kry, stuur ’n e-pos na info@caminoways.com of besoek caminoways.com.