LYNETTE ROEST, Somerset-Wes: Ons het by die Tierkop-watergat langs die laer duinepad in die Kgalagadi-oorgrenspark gesit. Twee sekretarisvoëls het ’n entjie weg in die gras middagete gesoek.

Skielik spring die een met ’n boog deur die lug, sy pote kap en hy pik vir ’n vale – dis net ’n gefladder van vlerke waar jy kyk! Met die gespook vang die sekretarisvoël ’n slang van 1,5 m, wat lyk soos ‘n Kaapse kobra... naderhand word die slang kop eerste ingesluk.

Die slang het nog lewe in hom, en die stert wriemel aanhoudend asof hy aan iets wil anker. Met nog so halwe meter oor, kry die slang sy stert om die sekretarisvoël se nek gedraai. Toe begin die geveg weer met mening.

Met die tweede draai van die slang se stert om sy nek spook die voël vir ’n vale. Daar word vergeefs gespring, geskop en gebyt. Die arme voël steier in die gras en staan kop onderstebo. Die gestoei raak al hoe stadiger van die voël se kant af, terwyl dit blyk dat die slang se greep versterk. Die voël het seker nog 10 minute gestoei voor die slang sy greep verslap het en die stertpunt in die keelgat af verdwyn het! Ta het bra verlig gelyk ná die petalje.

Die slangkenner JOHAN MARAIS antwoord: Dis nie ’n Kaapse kobra nie, maar ’n molslang. Baie slange het ’n grypstert – dis soos ’n ekstra hand waarmee hulle vasklou wanneer hulle klim. Slange word dikwels half lewend ingesluk, maar daar is nog baie spierspasmas nadat ’n slang reeds dood is. ’n Halfdooie slang in so ’n penarie sal met sy stert probeer wurg. Dis selde suksesvol en bloot ’n laaste poging tot oorlewing. Die slang vrek meestal in die dier of voël se maag weens ’n tekort aan suurstof.