Deel

Die Slag van Pontevedra en die pajamadinee

akkreditasie
Annette en Michelle buite Pontevedra
Annette en Michelle buite Pontevedra
GEBORG: Pontevedra het die groep Weg-stappers se harte gesteel, maar hulle taamlik gehawend gelaat op pad na Caldas de Reis.

Weg se reis is moontlik gemaak deur Hi-TecArnigel en caminoways.com.

Statistiek van Dag 4

Afstand geloop: 22,4 km

Tyd op die pad: 6 uur 10 minute

Treë: 43 245

ߢ|ÑúCÉ&^K?
Kaart: Dag 4


Waar dit ék was wat die vorige dag, op die skof vanaf Redondela, sleg gevoel het, is dit ’n groep gevalle soldate wat my die oggend in die ontbytkamer in die Hotel Rua in Pontevedra inwag. Die hotel het vir ons groep ’n tafel gedek in ’n aparte kamer, maar die vertrek is op die keldervlak en die  gloeilamp in die een hoek van die eetkamer is dood. Die helfte van ons sit dus in sterk skemer en niemand is geselserig nie.

Pieter, wat al op ’n gewone dag stil is, knik vanoggend net sy kop. Alta kom sit laat aan en verskoon haarself uit die staanspoor met: “Jammer, julle, ek is stadig vanoggend.”

Waar dit ék was wat die vorige dag, op die skof vanaf Redondela, sleg gevoel het, is dit ’n groep gevalle soldate wat my die oggend in die ontbytkamer in die Hotel Rua in Pontevedra inwag

Annette se beursie is weg, Alex sê die koffielikeur wat die vorige aand as ’n loopdop geskink is, het hom tot vieruur uit die slaap gehou. Sy oë hang halfmas. Op die TV in die ontbytkamer sien ons die Spanjaarde vier vandag die een of ander nasionale fees. Dis Saterdag, en waar ons vriende en familie waarskynlik vanoggend die kombers oor hul koppe trek vir ’n tweede slapie, moet ons in die pad val vir ons 22 km-skof na Caldas de Reis. 

Marietjie en Amelia is glad nie aan die ontbyttafel nie. Hulle maak eers hul verskyning toe ons al in die pad wil val – dié twee het toe uiteindelik ’n plek met “live” musiek opgespoor en tot die klein ure van die nag gekuier. Hulle sou heeltemal verslaap het, as Marietjie nie toevallig van iets wakker geskrik het nie.

Hulle kom net-net voor ons vertrektyd in die voorportaal aan. My bobeenspier is goed ingevryf met die Arnigel, maar ek weet hy gaan my vandag roer. Boonop voorspel die weer-app dat dit vanaf eenuur vanmiddag gaan stortreën. Hoe op aarde hierdie gehawende klompie vandag Caldas de Reis (in die reën) gaan haal, weet nugter. 

Ek weet nie wat Bee ingekry het nie, maar dié vermaak ons met ’n handstaan terwyl ons voor die hotel vir die agterosse wag sodat ons in die pad kan val. Minstens het sy nog energie. 

Camino Portugal
Amelia, Annette en Bee is reg vir die dag

Die brug van Pontevedra

Dis nou een ding van die Camino wat ek al geleer het... Ongeag hoe sleg jy die nag of die oggend voel, teen die tyd dat jy die eerste kilometer agter die rug het, is die meeste skete vergete.

Ons pas is dalk nie vandag so styf as op die eerste dag nie, maar jy kry moed die oomblik as jy begin stap.Pontevedra maak dit ook maklik vir jou. Die dorp, wat binne ’n paar uur een van my gunstelinge geword het, groet jou vir oulaas met ’n klapsoen. Die Camino-roete neem jou oor die pragtige Puente del Burgo, die brug wat aan Pontevedra sy naam gegee het. (Pontevedra beteken “ou brug”.)

Hier was al ’n brug sedert die Romeinse tye, maar die huidige een, wat pelgrimskulpe op die klipwerk het, is in die 19de eeu gebou. En as jy eers oor die Puente del Burgo is, sien jy die moderne Puenta de las Corrientes in die verte. Dié brug word glo saans skouspelagtig verlig. 

ߢ|ÑúCÉ&^K?
Voor ons die mooie Puenta de las Corrientes
ߢ|ÑúCÉ&^K?
Agter ons die Puente del Burgo

Ons roep die versterkings in

Jy loop nooit lank op die Camino voordat jy rusplek kry nie, en vandag se eerste stopplek is ’n “tuisnywerheid”.

Mense het sommer die garage van hul huis in ’n informele kafee ingerig, waar jy die nodigste uit ’n muntmasjien kan haal en die toilet teen 50 Euro-sent kan gebruik. Ons vertoef nie lank nie, want 5 km verder is die eerste kafee waar jy kan sit. 

ߢ|ÑúCÉ&^K?
Bee is 'n regte engeltjie!
ߢ|ÑúCÉ&^K?
Alex se sambreel is in sy rugsak
ߢ|ÑúCÉ&^K?
63 km oor.
ߢ|ÑúCÉ&^K?
Baie pelgrims langs die pad
ߢ|ÑúCÉ&^K?
'n Mooi tuin op die platteland

Ek en Pieter loop vandag saam. Pieter is ook ’n ywerige voëlkyker en het interessante staaltjies oor sy grootwordjare in Malawi. Hy beplan om binnekort terug te gaan soontoe. By die kafee kan Pieter my ongemak met die bobeenspier sien en gaan haal hy vir my ’n koeldrank. Van die groeplede lyk erg verlep. 

ߢ|ÑúCÉ&^K?
Poplap in die aand, stoflap in die oggend...
ߢ|ÑúCÉ&^K?
Die Camino-simbool op 'n sypaadjie
ߢ|ÑúCÉ&^K?
Deur 'n klein nedersetting

Hoewel die groep vandag nie saam stap nie, is ons nooit ver uit mekaar nie. Ek val vinnig weer in die pad ná my koeldrank omdat ek nou ekstra stadig stap en Marietjie kom val by in. Ons gesels lang stukke en hoor kort-kort skote. Dis die vuurwerk, wat mense op omliggende dorpe skiet as deel van die nasionale feesviering.

Pasop vir die wasgoed!

In ’n stadium raak ons opgewonde oor ’n bord beloof “Cafe Oasis” is nog net 900 meter ver, maar ek weet nie waarmee hulle ooit daardie 900 meter meet nie. Ons stap kilometers ver en kyk uit vir ons volgende rusplek, maar sien niks. In ’n stadium sien ek en Marietjie ’n woonwa langs die pad wat drinkgoed verkoop, maar die woonwa het nie stoele uitgepak nie.

Jy moet dus koop en loop, en ek soek ’n sitplek. Omtrent ’n kilometer verder, en al ’n stewige 3 km vanaf die 900 meter-bord, kry ons Café Oasis. Dis weer entrepreneuriese locals wat sommer die onderste verdieping van hul huis in ’n kafee omskep het. Hier kan jy toebroodjies, pasteie en Spaanse omelette koop.

As jy koffie bestel, verdwyn die vrou na haar eie kombuis om dit vir jou te gaan maak.

“Waar is die badkamer?” vra ek vir Bee. “Draai links. Die toilet is daar in die waskamer. Jy sal die gesin se bondels wasgoed sien.”

ߢ|ÑúCÉ&^K?
Marietjie kry haar mojo terug

Ek giggel, maar vir die Camino is dit glad nie vergesog nie. Mense vra jou dikwels hoe veilig jy op die Camino is, en hier beleef ons dit weer dat die Spanjaarde die pelgrims in hul huise inneem. En al sou die mense hier seker ’n stewige wins kon maak (vraag en aanbod: dis die enigste kafee in 5 km), is niks buitensporig duur nie en is jy dankbaar oor die kans om te kan sit. Die verskillende Camino-roetes het by Redondela ineengeloop en die pad is nogals besig vir Oktober.

Hier beleef ons dit weer dat die Spanjaarde die pelgrims in hul huise inneem

’n Volle 3,8 km verder is nog ’n kuierplek, maar nou is ons al naby aan Caldas de Reis. Hierdie keer is dit Linda wat vir my ’n bier aandra. Ons wik en weeg of ons daar gaan middagete eet, maar teen ons huidige spoed is 4 km  nog ’n uur se stap, wat moeilik is op ’n vol maag, en boonop hang die wolke swaar.

Ons kon die reën nog ontduik, maar ons gaan nie meer lank so gelukkig wees nie. Ons moet stap om op die dorp te kom.

Eet soos die Spanjaarde

Die laaste 4 km van die dag is eindeloos en ons is verlig toe ons die buitewyke van Caldas de Reis droogvoets bereik, maar net toe ons in die hoofstraat kom, begin die eerste druppels val. Alex wys met groot swaaiende arms dat ons by ’n restaurant moet inswaai. Die kelner skuif haastig twee tafels teenaan mekaar, buite onder die restaurant se afdak. Alta kom sit met ’n onaardse gekreun.

Ons het vandag “net” 22,4 km gestap, maar die groep is vodde. Dis heeltemal ’n haalbare afstand, maar jy kry sulke dae op die Camino. Sommige dae voel alles lekker en opwindend, en ander dae is dit werklik net ’n kwessie van een voet voor die ander. Ons bestel Spaanse omelette terwyl die reën oor die stad neersif, maar het later lus om op te staan en te loop. Ons wag langer as ’n uur vir die omelette. Toe dit eindelik aankom, verduidelik Alex dat ons dit “verkeerd” bestel het.

In plaas daarvan dat ses van ons individuele porsies bestel het, moes ons liewer een of twee groot omelette vir die tafel bestel het, en elkeen ’n skyf daarvan geneem het. Dis hoe die Spanjaarde dit eet.

Ons stap in die reën hotel toe, en tot my verligting sien ek daar is ’n wassery langs die hotel. Ek spoel elke aand my stapklere uit, maar dis al naby die Europese winter en alles is in hierdie stadium klam. Op ’n Saterdagnamiddag in Oktober sit ek dus op die diep Spaanse platteland en wasgoed was. Daar gesels ek met ’n vrou van Seattle. Sy beset twee van die drie wasmasjiene.

Dis haar eerste en laaste Camino, sê sy met oortuiging. Sy kry te swaar. Sy sukkel vreeslik met haar voete. Ek rol stilweg my oë. Op my eerste Camino het ek omtrent ’n kilometer voor die katedraal in Santiago de Compostela verklaar ek sal dit nóóit weer stap nie. En hier sit ek op my vierde Camino. Ek gee haar egter die raad dat sy na stewels moet oorskakel.

Ons groeplede het ook vandag gesê hul voetsole voel al sensitief omdat ons dikwels op klippe en grondpad loop. Ek sukkel met ’n bobeenspier, maar sou veel swaarder gekry het sonder die Hi-Tec Ravus Quest wat ek aan het. My voetsole is nog 100% en ek het ook geen blase nie. 

Ek sukkel met ’n bobeenspier, maar sou veel swaarder gekry het sonder die Hi-Tec Ravus Quest wat ek aan het
ߢ|ÑúCÉ&^K?
My voete is nog gesond en droog binne die Hi-Tecs

Snoepie by die aandete-tafel

Moet egter nie vir Caldas de Reis vlak kyk nie. Daar is meer aan die dorp as net ’n wishy-washy. Dis in werklikheid ’n dorp met ’n goeie warmwaterbron en luukse spa-geriewe. Ons het verby die warmwaterbron geloop op pad na ons hotel toe. Die katedraal op die dorp het ’n beeld van Sint Rocco, die beskermheilige van pelgrims en honde (omdat honde hom tydens die Plaag help oorleef het).

Die katedraal sit egter aan die ander kant van die dorp en selfs ’n Michelangelo sal sukkel om my op ’n reënerige Saterdagmiddag uit my kamer kry. Kort voor aandete sit ons in die voorportaal en wag. Ek sien vir Marietjie uit die hoek van my oog aankom. Haar hare is netjies gekam en sy dra ’n donker baadjie en bypassende broek.

Ek dink eers Marietjie het haar darem nou uitgevat vir aandete – ek sit in my skoon, droë stapklere daar – maar dan sien ek ... is dit Snoepie op haar broek?

Ek (kwaaierig): “Marietjie, is dit jou pajamabroek daai?”

Marietjie: “Ja-a-a-a, ek was bang dat ek vanaand weer in die versoeking kom om uit te gaan. Toe dog ek as ek reeds my pajamabroek aan het, móét ek reguit bed toe gaan ná ete.”   

Ek lag net. Hotelle en restaurante verdra baie pelgrimgeite – selfs ’n pajamabroek aan die etenstafel. 

ߢ|ÑúCÉ&^K?
Vanaand se Pajama Couture is deur Snoepie geborg

’n Geskiedenisles oor ... die doedelsak

Die hotel se kroeg is stampvol en die vrou agter die toonbank sê die dorpsmense kuier saam as deel van die nasionale fees. Jy hoor doedelsakmusiek, maar kan nie juis agterkom waar dit vandaan kom nie. Alex herinner ons dat Spanjaarde al eeue voor die Skotte die doedelsak gespeel het.

Ek het hom gaan “fact check” daaroor, en hy is reg. Volgens “A Brief History of the Bagpipes” (jip, dit bestaan!) word die doedelsak reeds van 4000 voor Christus in Middel-Europa gespeel, terwyl dit eers in 1300 na die Skotte oorgewaai het.

Uit die eetsaal langs die kroeg peul ’n stuk of 100 bejaardes, en op ’n dorp met 10 000 inwoners, moet dit feitlik elke gryskop op die dorp wees. Hulle is hier vir iemand se goue bruilof, sê die kelner, en dek vir ons eenkant ons eie tafel. 

Een van die aandete-opsies is “green meat”, sê Alex. Hy bedoel gelukkig “grilled meat”, kom ons agter. ’n Allegaartjie met verskillende vleisporsies op die bord! Ek bestel weer die vis. Toe ek vra vir ’n glas sangria, stribbel die kelner eers teë. Die pelgrims eet ’n spesiale spyskaart en jou keuses is wyn of water, maar nadat Alex iets in sy oor fluister, bring hy ’n beker vol na die tafel. Op die huis!

Ek lê en die nag en luister na die gekletter van die reën op die dak. Dit stem jou altyd onrustig as jy stap. Maar minstens weet ek vanáánd is Marietjie en Amelia vroeg bed toe.  


Weg se reis word moontlik gemaak deur Hi-TecArnigel en caminoways.com.

Caminoways.com reël fiets- en staptoere op verskeie roetes op die Camino de Santiago. ’n Sesdagreis op die Camino Frances van Sarria na Santiago begin by 525 euro (R8 400) per persoon wat deel (vliegkaartjies uitgesluit). Vir besonderhede of om ’n kwotasie te kry, stuur ’n e-pos na info@caminoways.com of besoek caminoways.com.

Kry jy lus om saam met ’n Weg-groep te stap?
Nog ’n Weg-groep loop hierdie einste roete van 22 April tot 3 Mei 2020. Pryse begin by R35 400 (p.p. wat deel). Stuur e-pos na weg@flightsite.co.za vir details.