
Weg het die roete gestap twee weke voor die 21 dae van inperking begin het. Hierdie is die eerste van vier blogs.
Afstand: 19,73 km (maar ek het gekul)
Tyd op die pad: 5 uur 37 minute
In ons eerste uur op die pad, net buite Slabberts (omtrent halfpad tussen Paul Roux en Fouriesburg) besef ek en my stapmaat dat ons die Vrystaatse hitte onderskat het. Die weervoorspelling het ’n maksimum van 27 grade Celcius voorspel, maar dis nog nie nege-uur nie en jy voel aan dat jy gaan bars.
Ek en Leone, ’n vriendin wat saam met my werk, is in die Oos-Vrystaat om die “Vinnige Willemien”, ’n deel van die Sungazer-pelgrimsroete, te stap. Ons het half-agt op Slabberts weggespring en wil 85 km in vier dae stap. Saans slaap ons op gasteplase langs die pad. Maar dis die eerste week in Maart en daar is geen teken van somerreën nie. Dis versengend warm.
Die warmte van die Vrystaat
Reeds in ons eerste 24 uur het ons die Vrystaatse gasvryheid in oorvloed beleef.
Ons het die vorige dag op Paul Roux, sowat 20 km vanaf Bethlehem, aangekom, en reeds die Vrystaatse gasvryheid beleef. In Mengelmoes, ’n aweregse potblou restaurant in die hoofstraat, het ons middagete geëet (’n russian en chips vir R35) en aan die gesels geraak met Corné, wat die plek bestuur, en Jaco, ’n vragmotorbestuurder wat veral in Amerika en Kanada werk. Later het Richard ingestap, die “inkommers” gesien en homself met ’n handdruk voorgestel.
Richard werk eintlik in Johannesburg, maar het ’n huis op Paul Roux en glip weg sodra hy kan. Hy het kom plakkate opsit vir Paul Roux se jaarlikse Spookloop, wat einde Maart sou plaasvind. Terwyl ons wag vir ons middagete lees ons die nuus oor ons selfone, en sien ons onder meer dat die eerste geval van die Koronavirus in Suid-Afrika gediagnoseer is.
Toe ons daarna by Meat and Cheese na biltong gaan soek, sê die eienaar, Gys, hy het nie meer voorraad in die winkel nie, maar daar is wel ’n bietjie by sy huis ’n paar strate verder. Gys en Louise verwelkom ons in hul huis asof hulle ons jare ken en gesels land en sand terwyl hulle die biltong afweeg en kerf. Hulle het vyf jaar gelede uit Pretoria hierheen verhuis en mis nie die stadslewe nie. Maar Meat and Cheese word ál hoe gewilder en hou hulle aan die gang. Paul Roux is al amper weer te besig vir hulle, skerts hulle.
Sout-van-die-aarde-mense
Ook by die Dunlin B&B, waar ons oorslaap voor ons wegspring, staan alles ongesluit en maak Carolise haar arms oop toe sy ons verwelkom. Die huis is iets tussen ’n museum en jou ouma se plaashuis. Laatmiddag, toe ek en Leone koffie en biltong op die bed sit en peusel, kom betig Maggie ons dat ons nie ons eetlus moet bederf nie. “Carolise is bekend vir haar kos en sy is besig om groot te kook vir julle,” sê Maggie kamma kwaai.
Maggie het ook ’n paar jaar gelede uit die Oos-Kaap hierheen verhuis en in die ouetehuis, Huis Skemervreugde, kom aftree. Ons het Huis Skemervreugde in die hoofstraat opgemerk – die tuin en perseel is pynlik netjies! Maggie se pensioen dek haar verblyf en etes daar, maar vir ’n ekstratjie help sy vir Carolise in die Dunlin en by die koffiewinkel langsaan, die Pink Tricycle.
Maggie se knorrige yorkie, Champie, is kort op haar hakke. Sy vertel hoe goed die gemeenskap hier na mekaar omsien. Twee weldoeners op die dorp het byvoorbeeld in Desember vir haar gesê dat hulle, in plaas van Kersgeskenke vir mekaar, liewer vir haar wil help om ’n nuwe kunsgebit te koop. En toe sy vir die predikant sê sy wil so graag ’n stoel vir haar woonstel hê, het dit ook uit die gemeenskap opgedaag. Hierdie is nog sout-van-die-aarde-mense.
Die aand ontmoet ons vir die eerste keer vir Renee Wolfaardt, die dryfkrag agter die Sungazer, en oorlaai sy ons ook met geskenke. Renee, ook ’n veteraan van die Camino de Santiago in Spanje, het sowat vyf jaar gelede die visie gekry om ’n geleentheid te skep vir pelgrims wat in Suid-Afrika die selfone en skootrekenaars wil afskakel en tot verhaal wil kom.
Sy en ’n vriend het die roete uitgelê en toe die mense langs die pad genader. Sonder uitsondering het hulle ingekoop op die idee. Renee gesels met deernis van elke gasvrou wat ons langs die pad gaan ontmoet. Nou kan die Sungazer 20 pelgrims per keer huisves, en is hulle ingerig vir slenterstappers (stappers wat nie hul eie sakke wil dra nie).
Op jul merke, gereed . . .Aan die begin van Dag 1 kom Renee ons om half-sewe op Paul Roux optel, en Carolise stop vir ons vir oulaas elkeen ’n ontbytkardoes in die hand. Ons ry met die S194 na Slabberts. Renee vertel sy en haar man, Erns, het hulle 12 jaar gelede op Paul Roux gevestig nadat hulle mekaar oor die internet ontmoet het.
“Hulle pas soos ’n handskoen,” val haar vriendin, Yvette, wat ook in die bakkie is, haar in die rede. Hulle het aanvanklik eiendom op Rosendal gesoek, maar toe op Paul Roux besluit omdat sy ligging naby aan die N5 dit maklik maak om ’n besigheid te bestuur. Erns is ’n ingenieur wat vir ’n Australiese maatskappy werk, maar kan alles oor die internet vanaf Paul Roux doen.
Jy kom uit Renee se gesels agter dat almal wat hier woon, meer as een werk het. Sy vertel van haar kunstenaarvriend wat nou ook CBD-produkte maak en verkoop. En almal sit hand by om mekaar te help om hul besighede in stand te hou.
Is dit Slabberts?
Corné het nog die vorige dag haar oë in Mengelmoes grootgemaak toe sy hoor ons spring by Slabberts weg, en Jaco het droog gesê “dis maar stil daar”, maar dit is die reine waarheid. Slabberts het ’n graansilo en ’n gemeenskapsaal wat aan die boerevereniging behoort, en feitlik niks anders nie.
Toe Renee die vereniging nader om te hoor of pelgrims daar kan oorslaap, het die vereniging die ablusie opgeknap en ’n stort gebou. As jy die langer roetes stap, soos die Newbury Passion (11 stapdae), gaan jy hier op Slabberts oornag. Renee sê dis gewoonlik ’n aand wat die groepe lekker saamkuier, want daar is werklik niks anders om te doen nie.
Renee stop vir ons vir oulaas koffie in en sien ons dan af. Die eerste deel van die dag stap jy 10 km op die S199, ’n goeie grondpad wat tussen plase deurkronkel met ’n pragtige sandsteenkop hier langsaan jou. Die padteken by Slabberts het gewys dat jy hier afdraai vir Tepelkop en ons vra haar waar is dit. Renee lag en sê ons sal Tepelkop herken as ons dit sien.
Dis kosmostyd in die Vrystaat en die oggendlug is potblou en pragtig. Nuuskierige beeste staan gereeld nader as hulle ons sien. Ek is bekommerd oor die hitte wat vroeg al styg. Ek het egter ook ’n ander rede tot kommer. Leone is al ’n dag of wat nie lekker nie en moet vandag kort-kort langs die bossies aftrek. ’n Omgekrapte maag klink vir almal skreeusnaaks wat nog nie daarmee gesukkel het nie, maar op ’n warm dag wanneer jy oefening doen, kan dit dodelik wees.
Ná 4 km kry ons ’n skadukol en ’n boomstomp wat ons voel Carolise se ontbyt waardig is en rus on ’n ruk. Tot dusver het die Vrystaat ons verras – dis glad nie so plat soos wat ons dit voorgestel het nie.
Renee hou voormiddag langs ons stil met vrugte en water. Sy bied aan om Leone, wat nou al blekerig is, by Willowdene te gaan aflaai, maar Leone skud haar kop vasberade. Sy gaan nie op dag 1 al tou-opgooi nie.
Die res van die middag raak die pad ál mooier, maar ál warmer. Die Sungazer is op ’n vernuftige manier gemerk en ons vind die afdraaiplekke maklik, maar Leone het nou die punt oorgesteek waar ’n mens bekommerd raak oor haar.
Die engel in die bakkie
Ons is al omtrent 14 km ver en het al die afdraaipad na Willowdene gekry toe ek besef Leone is nou besig om onverantwoordelik te raak. Toe sy sê sy wil net ’n rukkie sit sy voel “flouerig”, besluit ek namens haar om die handdoek in te gooi. As sy hier omkap, sal ek haar op my eie moet bykry.
“Ek gaan vir Renee bel en haar vra om jou te kom optel,” sê ek ferm. Dit was nie eens 30 sekondes later nie, toe kom Renee in haar bakkie daar aan – nog voor ek kon bel!
Leone wou nog teëstribbel, maar ons verduidelik vir haar as sy vandag heeltemal ontwater, is haar hele Sungazer-stappery dalk op ’n einde. As sy nou ophou en gaan rus en baie vloeistof inneem, kan sy die volgende dag verder stap. Renee bied aan om my ook op te laai, maar ek besluit om die laaste 6 km op my eie te stap.
Al het ek my oefening voor die Sungazer bietjie afgeskeep – kug, ek is onfiks – het dit onverwags goed gegaan op my eerste dag.
Ek kry die bordjie vir Tepelkop en kan inderdaad sien hoekom dit so genoem word. Wat ’n mooi deel van die Vrystaat! Ek stap dapper aan, maar die son is genadeloos. Ons moes minstens ’n uur vroeër in die pad geval het. In ’n stadium stop ’n boer langs my en bied my ’n geleentheid aan. “Nog net so 4 km na die hut,” sê ek. “Dis nie ’n hut nie,” sê die man byna ergerlik. “Dis ’n ordentlike huis.”
Toe Renee 2 km voor die einde vir oulaas met die bakkie verbykom en vra of ek séker is ek wil nie ’n geleentheid hê nie, besluit ek dis tyd dat ek my raad aan Leone self aanvaar. Ek klim dus in die bakkie.
Welkom tuis
Ek kan dadelik sien hoekom die boer my op my plek gesit het. Ons verblyf by Wollowdene is allermins ’n stappershut. Daar is ’n pragtige sandsteenhuis met ’n lekker kuierstoep waarin groter groepe gehuisves word, maar omdat dit net ek en Leone is, bly ons in die kothuis, Lloyd. Die kothuis is fantasties ingerig.
Leone is vas aan die slaap toe ek daar aankom. Ek hoop sy is oukei.
Ena, ons gasvrou, het ons aandete op die toonbank gelos met instruksies om dit in die oond te druk om warm te word. Benewens die vrugte, brood, beskuit en ontbytvlokkies, is daar ook ’n snoepie wat met ’n eerlikheidsblikkie bedryf word.
Suinige tant Stien
Ek spoel my klere uit en gaan rus ’n bietjie. Laatmiddag kom Ena en haar kleinseun, E.M, kennis maak. Ena is ’n agtermekaarvrou wat sedert haar man se dood saam met haar twee volwasse seuns op Willowdene boer. Jy kan haar deur ’n ring trek.
E.M is ses en tans nog op die plaas, maar hy sal vanaf graad 1 moet kosskool toe gaan op Bethlehem. Ena het ’n boek saamgebring wat haar skoonma, tannie Adinie (Fourie) Scheepers, oor die Scheepers-familie van die Fouriesburg-omgewing geskryf het. Haar skoonma het ’n groot belangstelling in die geskiedenis en geskiedskrywing, en die boek is deeglik nagevors.
Laterig in die boek is daar ’n hoofstuk met resepte uit die kontrei. Ek kom af op die storie van “suinige tant Stien”. Tant Stien het op haar dag vier mans oorleef en was ’n bakker van formaat, wat die pryse op ’n streep gewen het by al wat ’n landbouskou was.
Tant Stien het egter nie haar resepte gedeel nie – daarom die “suinige” – en as jy daarop aangedring het, het sy moedswillig ’n bestanddeel of twee weggelaat. Sy laat nie toe dat iemand anders haar met haar eie resep op ’n skou klop nie, het sy verduidelik. Tannie Pietie Fourie kon wel darem die (volledige) resep vir tant Stien se wit vrugtekoek uit haar kry, en dit is in tannie Adinie se boek opgeteken.
Pelgrimsrus
Dia al byna vyfuur die middag toe Leone uit haar kamer kom. Sy lyk genadiglik beter en het aptyt. Ons besluit om sommer nou al die lasagne in die oond te sit. Ons sit op die stoep en drankies drink en sien hoe die son in vuilpienk oor die horison verdwyn.
Toe ons teruggaan in die kothuis, is die ligte morsdood. Ons dink eers ons het die krag “getrip” toe ons die oond gebruik het, maar Ena bevestig dat die hele Fouriesburg-omgewing sonder krag is. Dis ook nie “loadshedding” nie – daar was iewers ’n brand wat die kragstasie beskadig het.
Ek en Leone besluit dus om maar ’n rukkie op ons beddens te lê terwyl ons wag dat die krag weer aangeskakel word. Ek is vaagweg daarvan bewus dat die ligte rondom 21:00 weer begin brand het, maar kan net onthou dat ek my wekker vir 05:00 gestel het, die ligte afgeskakel het en weer teruggeklim het in die bed. Die Vrystaatse son kan jou looi en jou energie tap.
Ek het later op my oefenhorlosie gesien dat die son daardie dag op dele van die onbeskutte pad by die 35 grade C gedraai het.
Voete en mae kan nie saam loop nie. Dis óf die een óf die ander. Rehidrasiemiddel is ’n stapper se beste vriend.
- Weg was gaste van die Sungazer en ons verblyf en etes is deur die onderskeie gastehuise en -plase langs die pad geborg.