PAT KING van Craighall Park skryf:

Ons het in Februarie dié jong sekretarisvoëls gewaar op die S90-grondpad na die Satara-ruskamp in die Krugerwildtuin. Hule het vreeslik geskree.

Ons het stilgehou en foto’s geneem. Kort daarna het ’n volwasse voël aangestap gekom met wat soos ’n stuk droë olifantmis in sy snawel lyk. Hy het nog ’n stuk mis of gras opgetel en toe na die nes gevlieg. Die voël het die mis of gras in die nes neergesit.

Die jonges het vlugtig daarna gekyk en toe al drie begin bedel vir kos. Toe die volwasse voël middagete opbring, het alle hel losgebars. Later was daar nie meer plek vir die ouer nie en moes hy/sy versigtig balanseer met ’n poot op die rug van elke kuiken. Wat ’n ongelooflike gesig! Maar ek wonder steeds waarvoor was die klos mis of gras?

Die voëlkenner ULRICH OBERPRIELER antwoord:

Wat ’n interessante waarneming! Die sekretarisvoël het inderdaad die droë mis nes toe gedra om dit daarmee uit te voer. Hulle voer gewoonlik die nes uit met droë gras, maar gebruik soms soogdiermis soos dié van ’n olifant of renoster. Die feit dat daar drie kuikens in die nes was, is ook ongewoon.

Sekretarisvoëls lê dikwels drie eiers en al drie sal soms uitbroei. Maar die groter voëls het die oorhand in die stryd om kos te kry en dis selde dat die kleinste een oorleef.


CHRIS CLAASSENS van Witrivier skryf:

Ek het verlede week hierdie wurm op een van my struike gevind. Die wurm het oornag al die blare van die struik opgevreet. Die volgende oggend het net ’n paar takkies oorgebly.

Soos julle kan sien, lyk hy nogal baie na ’n muis, met ore en al. Is dit ’n wurm wat algemeen voorkom?

Die insekkenner DUNCAN MACFADYEN antwoord:

Dis die larwe van die wingerdpyl-stertmot, Hippotion celerio. Die spesie kom wydverspreid voor in die natuur en in tuine. Die kenmerkende oogkolle skrik waarskynlik roofdiere af.

Die larwe vreet onder meer wingerdstokke, aronskelke en impatiëns.


NIEK COETZEE van Alberton skryf:

Ek kan nie die spinnekop uitken nie. Kan Duncan help, en is hy giftig?

Die insekkenner DUNCAN MACFADYEN antwoord:

Dis ’n bruinknopiespinnekop (Latrodectus geometricus) met rooi, wit en swart merke. Dié spinnekop word onderskei van die swartknopie, wat die kenmerkende rooi uurglas op die agterlyf het.

Bruinknopiespinnekoppe kom algemeen voor in beboude plekke – hulle spin hulle web in donker plekke soos onder vensterbanke. Hulle gif kan jou senuweestelsel aantas, maar die reaksie is gewoonlik beperk tot die bytplek, en die simptome klaar gewoonlik op ná een of twee dae.

Die swartknopie se gif is drie tot vier keer giftiger as ’n bruinknopiespinnekop s’n.


FRIK SCHOEMAN van Theunissen skryf:

Ek het die insek op ons plaas afgeneem. Wat is dit en is dit haar eiers wat sy saamdra?

Die insekkenner DUNCAN MACFADYEN antwoord:

Die kewer behoort tot die Tenebrionidae-familie. Dié spesie, wat nie kan vlieg nie, is bedek met miete wat die hemolimf, oftewel “bloed”, van die kewer vreet.

Dié een is erg besmet. Die miet laat gewoonlik nie die gasheer vrek nie, maar verswak hulle algemene welstand en immuniteit. Gelukkig kan die miet nie oorgedra word na gewerweldes (soos mense) nie.