Stuur jou vrae gerus na  redakteur@weg.co.za.

LOUISE MINNAAR van Nelspruit vra:

Ek het dié foto geneem op ’n vriend se plaas in die Klaserie-omgewing. Wat sit daar onder die blaar?

Naaldekoker
Foto: Louise Minnaar

Die insekkenner DUNCAN MACFADYEN antwoord:

Naaldekokers lê eiers in water. Eienaardige wit nimfe broei dan uit die eiers. Die nimf klim teen ’n takkie of riet op uit die water waarna die volwasse naaldekoker te voorskyn kom. Anders as die meeste insekte is daar nie ’n papiestadium nie. Dit word ’n onvolledige metamorfose genoem.

Op dié foto is ’n volwasse baardmannetjie en die eksoskelet van die dooie nimf. Die nimfe en die volwasse naaldekokers is roofinsekte wat onder meer muskiete, muggies en bytende vlieë vreet.


RENE BOTMA van Middelburg (Mpumalanga) vra:

Die tor het van kleur verander toe ek hom met ’n takkie optel om in ’n boom te sit. Watse gogga is dit?

Die insekkenner DUNCAN MACFADYEN antwoord:

Dis Derby se vrugtetor. Hulle is “groot” wat torre betref, sowat 50 mm in lengte. Hulle verkies blomsappe en drom dikwels saam by sapvloeipunte op fluweelboswilg-, raasblaar- en wag-’n-bietjie-bome.

Dit gaan nie juis oor die sap nie, maar oor die wyfies wat hier vreet. Die tormannetjies werk dan hard om die wyfies te beïndruk. Die torre vreet ook gistende vrugte. Sover ek weet, verander die torre nie van kleur nie; dit kon die weerkaatsing van die lig gewees het.


VANESSA NIEUWOUDT van Pretoria vra:

Ek het dié sebrakalfie met blou oë in die Krugerwildtuin gesien.

Toe die ma opkyk, het sy ook sulke blou oë. Kan L.D. verduidelik wat hier aangaan?

sebra
Foto: Vanessa Nieuwoudt
sebra
Foto: Vanessa Nieuwoudt

Die natuurlewekenner L.D. VAN ESSEN antwoord:

Sebras en ander soogdiere met blou oë het minder melanienpigment in die oog, spesifiek in die stromalaag van selle in die iris.

Oë met minder melanien weerkaats lig anders en laat die oë dan blou lyk. Die blou kleur is dus as gevolg van die struktuur van die oog en nie blou pigment nie. Dit is soos die lugruim, wat blou lyk vanweë die verstrooiing van lig, en nié omdat daar blou pigment in die lug is nie.

Interessantheidshalwe: Ek is nie seker oor sebras nie, maar daar is geen aanduiding dat blouoogperde ’n groter voorkoms van oogkanker het nie.

Perde het wel ’n verhoogde voorkoms van die skubsel-karsinoom, ’n soort kanker. Dit kan egter toegeskryf word aan die velpigment om die oog en die ooglid eerder as die oogkleur.


VENITA PRIGGE skryf:

Ons het hierdie kameelperd naby die Satara-ruskamp in die Krugerwildtuin gesien. Dis die eerste keer dat ek een met sulke ongewone kolle sien.

Foto: Venita Prigge
Foto: Venita Prigge

Die natuurlewekenner L.D. VAN ESSEN antwoord:

In die verlede is kameelperde beskou as een spesie met nege subspesies. Navorsing in 2016 in kameelperdgenetika dui op vier spesies, met twee van hulle wat ook subspesies het.

Die vier spesies is die suidelike kameelperd (Giraffa giraffa), noordelike kameelperd (Giraffa camelopardalis), Masai-kameelperd (Giraffa tippelskirchi) en gevlekte kameelperd (Giraffa reticulata). Lesers kan kyk op giraffeconservation.org/tag/coat-pattern hoe die kleurpatroon van die verskillende spesies lyk.

Dié kameelperd se patroon lyk soos die Masai-kameelperd s’n eerder as die suidelike kameelperd wat ’n mens in die Kruger verwag. Die kleurpatroon van die spesies kan so onderskeidend wees soos ’n vingerafdruk by mense, dis nie altemit nie.

Natuurlike genetiese variasie kan veranderinge voortbring, in byvoorbeeld kleurpatroon, wat een spesie baie na ’n ander laat lyk. Sonder ’n DNS-toets is dit onmoontlik om te sê presies watter soort kameelperd dié is.