Esté Smit van George skryf Ek het hierdie seester met ses arms op Swartvleistrand in Sedgefield gewaar. Ek het gelees seesterre kan ’n nuwe arm groei as hulle een verloor – het hierdie seester een arm met twee vervang?

Die seelewekenner Guido Zsilavecz antwoord Ja, dit lyk beslis so. Ek dink een van die twee arms onder links is moontlik deels afgeskeur en nog ’n arm het langs dit uitgegroei. Die besering moet vroeg in die seester se lewe plaasgevind het, want dit vat tyd vir die nuwe arm om so lank soos die ander te word.

Dié seesterspesie, Austrofromia schultzei, kom in vlak waters langs die kus voor, van Valsbaai tot by Gqeberha.

Dis redelik ongewoon vir diere met ’n simmetriese liggaamsvorm om ’n gelyke getal arms te hê omdat dit die liggaam verswak – ’n roofdier sal byvoorbeeld so ’n dier makliker in twee kan skeur.

Maar in hierdie geval sal die ses arms nie die seester benadeel nie – oor tyd het seesterre met ’n ongelyke getal arms bloot beter oorleef en voortgeplant en vyf arms het geneties die meer algemene patroon geword.

Marinus van den Berg van die Strand skryf Ek was onlangs in die Mokala- nasionale park naby Kimberley, waar ek twee koedoebulle in ’n rivierloop gesien het.

Een bul het sy horing soos ’n kurktrekker in die klam grond gedruk en al in die rondte gedraai. Die ander bul het die petalje net gestaan en kyk en toe die pad gevat. Kan julle dié vreemde gedrag verklaar?

Die wildlewekenner L.D. van Essen antwoord Hierdie gedrag staan as “ground horning” in Engels bekend en die dier vryf sy gesig en horings in modder of selfs droë grond om te wys hy is dominant of om sy gebied te merk.

Die gedrag kom algemeen by koedoes, njalas, tsessebes, blesbokke, hartbeeste, bosbokke en blouwildebeeste voor.

Die bulle of ramme van hierdie spesies gooi ook modder met hulle horings om mededingers te intimideer.

Dit is heel moontlik hoekom die tweede koedoebul hom uit die voete gemaak het – hy het gesien hier kom ’n onsmaaklike moddergooiery!

 

Piet Dry van Tzaneen skryf Ek het dié ruspes op ’n maroela-boom se stam afgeneem – hulle het binne ’n paar dae al die blare opgevreet en later in ’n “tou” al teen die stam afgeloop. Wat gaan hier aan?

Die insekkenner Duncan MacFadyen antwoord Dis Rhenea-motruspes. Hulle kom algemeen voor en kan bome vinnig kaalstroop, maar moenie bekommerd wees nie: hulle beskadig die bome nie permanent nie en nuwe blare sal weer in die lente groei.

Wanneer jy onder só ’n boom staan, kan jy dikwels die ruspes hoor vreet en beweeg.

Die ruspes laat ook groot hoeveelhede mis agter – wees op die uitkyk vir dik lae wat soos growwe swart sand lyk – en dis goeie natuurlike bemesting.

Wanneer die ruspes reg is om in kleurvolle papies te verander hou hulle op vreet en verlaat die boom – dis die “tou” wat Piet beskryf. Die ruspes is rond en sowat 6 cm lank en val ook dikwels uit die boom wanneer hulle hulle metamorfose ondergaan.

Parasitiese perdebye teiken die ruspes en nie almal bereik volwassenheid nie. Die ruspes is dus deel van ’n gesonde ekosisteem en gewis iets om te aanskou!