Afsaal-woonwapark-en-boskamp

Afsaal se kampplek is ’n omheinde kamp van 4 ha op Pieter Snyman se grond van 24 ha.

Jy kamp dus ín Dinokeng, maar hoef nie bekommerd te wees een van die Groot Vyf gaan by jou staanplek kom inloer nie.

Soos jy die kampplek binnery, is die staanplekke links en die swembad regs.

Die swembad het ’n vlakker deel vir kinders wat aan die groter swembad grens. Rondom die swembad is ’n groot kikoejoegrasperk en vier klein grasdaklapas met ’n geteëlde vloer.

Die staanplekke vorm ’n L met sewe staanplekke op die een been en agt op die ander.

Ses het ’n vierkantige blok van 6 x 6 m wat met gruisklippies bedek is, en die res het ’n mengsel van wildegras en grond.

Die meeste staanplekke het koeltebome. Elkeeen het ook ’n vuurput, los- staande staalbraaier, dubbele driepuntkragsok en kraan.

Die badkamergebou is tussen die twee rye en bestaan uit agt vertrekke, elk met ’n stort, wasbak en toilet.

Een het ’n hoekbad, wasbak en toilet, en dan is daar ’n vertrek met rolstoelvriendelike geriewe. Hier is ook plek om jou kassettoilet uit te spoel.

Prys Afhangend van die seisoen R400 of R550 p.d. per staanplek vir tot 6 mense. Daarna R100 of R180 p.p. (maksimum 8 mense). In seisoen moet jy vir ’n minimum van 2 nagte bespreek.

Kontak 079 754 5442; info@afsaalkaravaanenboskamp.comafsaalkaravaanenboskamp.com

Roratau-boskamp

Die Roratau-kampplek is deel van die Leeuwgedacht-bewarea wat ’n 6 km lange grens met die suidelike kant van Dinokeng deel. Die kampplek behoort aan Rob en Elsie du Preez, en die bewarea is opgedeel in blokke van 21,5 ha.

Sowat 650 ha van dié stuk aarde, wat meer as 1 000 ha groot is, het nie grensdrade nie, wat beteken diere soos hartbeeste, blouwildebeeste, blesbokke, sebras en kameelperde loop vrylik rond.

Roratau self het ook nie ’n grensdraad nie, wat beteken van die bokke wei selfs in die kampplek.

Die kampplek bestaan uit vyf staanplekke tussen die natuurlike plantegroei, wat beteken koelte is volop. Die staanplekke is ook taamlik privaat en jy staan op ’n skoongemaakte kol.

Elkeen het ’n kragpunt (gewone huisprop), kraan en ’n geboude braaiplek.

Die swembad en badkamers is langsaan. Dis eintlik net ’n plonspoel, want dit is net 3 x 3 m groot. Dit het ook ’n ingeboude bankie in.

Hiernaas is ’n boma met braaiplek en stoele as jy hier wil kuier.

Die badkamers bestaan uit twee gesinsbadkamers elk met ’n stort, wasbak en toilet.

Verderaan met die pad is twee groepstaanplekke, Bosvark en Vlakvark. Bosvark het plek vir twee woonwaens en Vlakvark vir tot vier. Eersgenoemde het sy eie badkamer en Vlakvark het dubbele geriewe.

Prys Gewone staanplekke R400 p.n. per staanplek vir 4 mense (daarna R50 p.p., maksimum 6 mense) en R200 p.n. vir die tweede woonwa of tent wat die staanplek deel. Vir Bosvark kos dit R500 p.n. en R250 vir die tweede woonwa, en vir Vlakvark R1 000 p.n. vir die eerste 2 woonwaens en R350 elk vir die derde en vierde een.

Kontak 084 603 9289 of 083 267 2145; rorataubushcamp.co.za; info@rorataubushcamp.co.za