
Weskus Tourism het 8 wenke vir blommekykers.
Weskus-toerisme staan al die afgelope paar weke bont met navrae van voornemende blomkykers. En dis te verstane. Die blomme aan dié streek is een van die dinge wat jy een maal in jou lewe moet beleef en mense stroom van heinde en ver (ook oorsee) na die streek. Hier is Weskus-toerisme se topwenke vir blomkyktyd:
• Op Maandae en Donderdae in die blomseisoen reik die streekskantoor ’n blomverslag uit wat die publiek op die webwerf www.weskustourism.org kan kry, of op Weskus-toerisme se blaaie op Facebook en Twitter. In die verslag kan jy lees waar die beste plekke is om die gousblomme, piempiempies, silwer lewertjies, sandlelies, varkore en ander veldplante te sien.
• Die blomme is bedags op hul mooiste tussen 11:00 en 15:00 – die warmste tyd van die dag!
• As dit reën of bewolk is, gaan jy nie mooi blomme sien nie.
• Die blomme hou van aandag en hou daarvan om vir foto’s te poseer. Draai jou rug na die son toe (sodat die blomme in die rigting van die son kyk) vir die mooiste foto’s. Blomgesiggies wys altyd na die son toe omdat die plante die son nodig het vir vitamien D.
• Klim uit jou motor uit, anders gaan jy van die kleiner blomspesies miskyk.
• Loop asseblief versigtig sodat jy nie die blomme vertrap nie. Moet asseblief nie blomme pluk of blombolle uittrek nie.
• Bring insekweerder saam vir muggies en muskiete, maar laat asseblief die bye met rus. Die streek het die bye nodig vir die voortbestaan van die blomme.
• Die Weskus- nasionale park is die hele jaar ’n heerlike bederf, maar verál in die blommetyd. In die blomtyd stroom besoekers na die Postberg-deel van die park op die noordelike punt van die skiereiland. Veldwagters bevel egter aan dat besoekers aftrek by die Seeberg-uitkykpunt langs die Langebaanhek. Die kans is goed dat hier minder mense sal wees as by Postberg.
Onder teen die voet van die groot, ronde rotse staan die hele vallei vol blomme. Onthou, die Postberg-deel van die park is nét oop tussen 1 Augustus en 30 September.
Dagtarief: R83 p.p. (R42 vir kinders) en gratis as jy ’n Wild card het. Vir besonderhede, bel 022 772 2144 of besoek sanparks.org
Knoop jou oor
- Darling se veldblomskou is van 20 tot 22 September by die Darling-gholfklub. (Oop tussen 9 vm. en 5 nm.) Toegang is R60 vir volwassenes en R40 vir kinders. Besoek darlingwildflowers.co.za of bel 084 916 1111 vir besonderhede.
- Weskus-toerisme het weeklikse kompetisies op hul sosiale media-platforms waarin groot pryse op die spel is. Besoek hulle by @WeskusTourism op twitter en Facebook.
Maar wag . . . dis nie al nie!
Seekos, sonsondergange, kaalvoetstappies op die strand . . . Die Weskus is vir méér as net sy blomme bekend. Kom kuier en kyk self!
Weskus
Namaqua West Coast
West Coast Peninsula
Cederberg Tourism
Swartland Tourism
Bergrivier Tourism
Discoverctwc