Wat is voëlskyk? Dis om ’n voël reg uit te ken, nè? En wat beteken dit om iets uit te ken? Wel, om die ding sy regte naam te gee. Maar dis waar die probleme begin...

As ’n voëlkyker met die verkeerde voet uit die bed uit opstaan, kan jy maar weet: In ’n stadium gaan hy of sy brom oor naamsveranderinge. Dis dan wanneer ek bly is ek is Afrikaanssprekend. In voëlkyktaal sou ’n mens Afrikaans, die taal, beskryf as “endemies” met ander woorde, nes ’n knysnaloerie, kom dit net in Suid-Afrika voor. En dié name verander nie sommer nie. En die Afrikaanse name is soveel meer kreatief as die Engelse name. Dink nou aan ’n bosveldtjeriktik vs. ’n “chestnut-vented tit-babbler”.

Ek het eenkeer ’n komiese interaksie tussen twee voëlkykers beleef. Die een het met ’n slimfoon in die hand grootgeword; die ander met Dinky Toys-karretjies.

Ons het ’n groot grys roofvoël uit ’n wildkykvoertuig dopgehou. Dié voël het al flappend gesoek na ’n vastrapplekkie om ’n smal rotsskeur te verken.

“Gymnogene” kondig die oom luidkeels aan. “Sorry, Oom, maar ek dink dis ’n ‘African harrier hawk,’ ” stry die laaitie. Albei name verwys natuurlik na 'n kaalwangvalk.

Iewers in die laaste paar dekades het “francolins” verander na “spurfowls.” So ook “widowfinches” na “indigobirds” en “louries” na “turacos.” En daai outjie wat snags op jou oprit rondhol, is nou ’n “thick-knee” en nie meer ’n dikkop nie. Party voëls het selfs van kleur verander: die “grey phalarope” heet nou “red phalarope” (dit maak meer sin in die Noordelike Halfrond, waar hulle broeidrag rooi is).

Sommige het selfs van eienaar verander: Denham het by Stanley oorgeneem as die trotse eienaar van die veldpou. Daar was veranderinge in geografie, habitat, vorm... Dít terwyl die Afrikaanse name meestal dieselfde gebly het.

Daar was veranderinge in geografie, habitat, vorm... Dít terwyl die Afrikaanse name meestal dieselfde gebly het.

Maar Faansie, hoekom die veranderinge, vra jy. Waarom “slender bulbul” verander na “tiny greenbul” of “little banded goshawk” na “shikra” of “Gunning’s robin” na “East coast akalat?” En wat het die oulike “jackass penguin,” “dabchick” en “melba finch” gesondig? Om dié pynlike vrae te beantwoord moet ons kyk na ons ornitologiese geskiedenis.

Wanneer het dinge begin skeefloop? Die meeste voëlkykers wys dalk ’n beskuldigende vinger na die Roberts VII-voëlgids wat in 2005 verskyn het. Dié gids word beskou as ’n keerpunt in die Suid-Afrikaanse ornitologiese wêreld, en het die nuwe name amptelik gemaak.

In der waarheid het naamsveranderinge lank voor dié voëlgids kop uitgesteek. Reeds in die voorwoord van my 1963 Roberts-voëlgids noem die skrywers hoe hulle tussen die name wat reeds gebruik word, moes soek vir die mees gepaste naam, wat die algemene gebruik die minste sou versteur.

Sedertdien het daai gids se “Mashonaland flycatcher” verander na ’n “Mashona hyliota” en heet deesdae “Southern hyliota”. Dieselfde storie vir die 1963 “grey tit-babbler” wat later “fan-tailed flycatcher” geroep is, en vandag “grey tit-flycatcher” heet. Nóg een: “grey-backed bush warbler” na “grey-backed bleating warbler” na “grey-backed camaroptera.”

’n Mens kan aanvoer dat sommige name van die begin af simpel was. So is ’n grootringduif in Engels “red-eyed dove”. Toegegee sy oog is effens rooierig, maar die rooioogtortelduif oftewel “African mourning dove” het ’n vet bloedrooi ring om sy oog. Die “white-crowned lapwing” het baie meer indrukwekkende geel lelle as die “African wattled lapwing”.

En nou moet jy kophou: ’n “rock pigeon” is nou ’n “speckled pigeon” en is iets heeltemal anders as ’n “rock dove” wat voorheen ’n “feral pigeon” was. Voorwaar!

Hoekom kan die slim ouens nie net ’n naam kies en daarby hou nie? Dikwels dui ’n naamsverandering ’n taksonomiese verandering aan. Ons gaan volgende maand meer hieroor klets, maar dis byvoorbeeld wanneer ’n spesie verdeel of onderverdeel (“split”) word in meer spesies. Die langbeklewerik is nou vyf spesies, elkeen met sy eie naam. In sulke gevalle verander die wetenskaplike naam ook. En ek moet daarme tred hou!

Dieselfde spesies het dikwels ’n ander naam in ’n ander land. Dis nie ’n probleem as jy net in Suid-Afrika voëlskyk nie, maar op ’n oorsese vakansie kan dinge deurmekaar raak. Hoekom het ons “long-tailed shrike” na ’n “magpie shrike” verander? Want in Asië is daar ’n heel ander spesie met die naam “long-tailed shrike.”

En net as ’n kersie op die koek is daar ook die “long-tailed fiscal” in Oos-Afrika. Daar is selfs ’n internasionale komitee gestig wie se taak dit is om vir elke spesie een universele naam te kies. ’n Mens sou dink dis eenvoudig, maar nee, daar is eindelose reëls oor goed so kleinlik soos leestekens en hoofletters. Lees by worldbirdnames.org.

’n Mens sou dink dis eenvoudig, maar nee, daar is eindelose reëls oor goed so kleinlik soos leestekens en hoofletters.

My raad? Noem die voël wat jy wil of leer liewer die Afrikaanse name, want die Engels gaan dalk verander. En onthou wat Shakespeare se Juliet te sê gehad het oor rose. Hulle ruik mos steeds net so soet, of jy nou kyk na ’n Pycnonotus tricolor, “dark-capped bulbul,” “black-eyed bulbul,” swartoogtiptol, toppie of bottergat.