Kaart
Kaart

Uiteindelik, ná jare se beplanning en oorweging, kansellasies en herbeplanning, breek die oomblik aan... die Swanepoels en hulle vriende en familie gaan Angola-stempels in hulle paspoorte kry! Christoff vertel.

Ons vertrek vroeg op ’n Vrydag uit Pretoria en hoop om binne vyf dae tot by Ruacana te vorder waar ons die grens na Angola sal oorsteek. Ek en my vrou, Suzette, ry in ons Toyota Hilux en ons jongste dogter, Jurika, en haar verloofde, Jacques Steenkamp, is in sy Ford Ranger, en dis nie lank nie of ons kom by die Martinsdrift-grenspos aan.

Vir nou is dit net ons twee voertuie, maar later, wanneer ons in Nambië se Zambesistreek (oftewel die Caprivi) is, sal die Naudés van Northcliff in Johannesburg hulle by ons aansluit. Ernst en Adeline en hulle studentekinders, Suné en Jaco, gaan die reis in hulle Nissan Navara meemaak.

Sake loop nes ons beplan het, en op die vyfde oggend van ons reis tap die drie voertuie brandstof by Ruacana.

Op pad hierheen het ons by Elephant Sands in Botswana en die Chobe-rivierkamp in Namibië oorgebly en dit was ’n wonderlike ervaring. Veral as ’n mens só naby aan die olifante is.

Maar saam met die soet was daar ook suur: die lang en eentoninge twee dae tussen Katima Mulilo en Ruacana (oor Rundu).

Die beamptes by die Ruacana-grenspos is behulpsaam en aanvaar selfs Amerikaanse dollar vir die een voertuig en sleepwa toe ons te min kwanza het. Dit kos ’n bietjie minder as Kz7 000 per voertuig (ongeveer R300) en dan dubbel die bedrag as jy ’n wa sleep.

Hulle aanvaar ook Namibiese dollar. Ons is die enigste mense by die grenspos, maar dit vat ons steeds amper twee uur om al die papierwerk af te handel.

Van die grens af ry ons met ’n 4x4-kronkelpad al langs die dam. Ons ry ure lank en besef dan ons het ons afdraai gemis. Ons raadpleeg die GPS en vind ’n ander roete, maar teen skemer is ons nog ver van die beskawing af en ons besluit ons moet eerder ons eerste boskamp in ’n droë pan opslaan.

Ons sien beesspore, iets wat ons gerusstel omdat dit onwaarskynlik is dat hier landmyne in die omgewing sal wees. Maar ons waag geen kanse nie en beperk ons bewegings tot rondom die voertuie.

Terwyl ons besig is om kamp op te slaan, kom ons agter hier is plaaslike mense wat ons dophou. Ons stap nader en groet en beduie in gebaretaal dat ons net vanaand gaan slaap en môre weer verder ry. ‘No problemo,’ sê hulle en ons deel koeldranke, potlode, skryfboekies en eetgoed uit.

Die volgende oggend is dit vir ons opvallend hoe stil dit hier is en ons besef eers later hier is hoegenaamd geen voëllewe nie. Dit is vir ons ’n vreemde verskynsel. Die bure is wel die volgende oggend terug. Ons dink hulle is net nuuskierig, maar toe ons die pan verlaat – en nét ons spore agterlaat – staan hulle vriendelik en wuif.

Ons ry nog sowat 30 km (en twee uur) en bereik die teerpad wat ons tot by Cahama volg. Ons draai links op die hoofpad in Lubango se rigting.

Nou is dit nogal ’n uitdaging om met ons voertuie aan die regterkant van die pad te ry en links verby te steek. Dit neem ’n tydjie, maar later begin dit voel of ons dit gewoond raak.

Maar in Lubango met sy besige strate – vol motorfietse en ’n duidelike tekort aan verkeersligte en padtekens – besef ons ons is niks gewoond nie.

Ons is egter verras met die Christusbeeld wat 30 m hoog op ’n berg in die omgewing staan. Daar is glo net vier van dié beelde ter wêreld.

Dis nogal ’n storie om geld te trek by die kitsbanke in Angola. Dit voel amper asof jy voor een van daai muntoutomate in ’n casino staan, want jy is nie seker of jy gaan geld kry nie. Ons kom uiteindelik, ná die soveelste kitsbank, reg met kontant.

Oor vulstasies kan ons nie kla nie. Die brandstofpompe is nuut en volop en die petrol veel goedkoper as in Suid-Afrika – ongeveer R7/l – maar om die een of ander rede kan jy net met kontant betaal. Dit is gelukkig nie die geval in die kettingwinkels nie en hier betaal ons met ons bankkaarte.

Ons besoek die Tundavala-uitkykpunt en geniet die skouspelagtige uitsig wat amper tot by die see strek. Dan boek ons in by die Casper-lodge – hoewel hulle nie kampgeriewe het nie, laat hulle ons toe om op ’n klein grasperk te staan (teen ’n bykomende tarief vir elke voertuig).

Ons gebruik die gimnasium se badkamergeriewe en dit is heel skaflik. Vroeg die volgende oggend word ons wakker met die klank van blaffende stadshonde, toetende treine en raserige ganse.

Vandag durf ons die pad Lobito toe aan – dis ongeveer 400 km en die teerpad is besaai met slaggate. Gelukkig word ons beloon met ’n enorme kremetartwoud waardeur ons ry.

Dit is opvallend hoe die natuur verander: van mopanievlaktes tot bergagtige rotsformasies en dan die magdom kremetartbome.

Benguela is ’n skoon stad en hier vloei die verkeer danksy verkeersligte en padtekens heelwat beter.

’n Verkeersbeampte, ene Daniël, trek ons af en lyk heel opgewonde om ons te sien. Hy vra my rybewys, maar kyk skaars daarna tussen al die gesels deur.

Regdeur Benguela is die verkeer druk, maar ons bereik Lobito teen sonsonder en ontmoet vir Louisi, die eienaar van die Zulu-restaurant. Hy is baie opgewonde om hierdie spul Suid-Afrikaners te leer ken en dring selfs daarop aan dat ons agter in sy erf kamp.

Ons stem in, en tot ons groot verbasing sien ons sy erf grens aan die strand. Ons kamp dus reg langs die see en beleef die mooiste sonsondergang terwyl die hooggety die water tot skaars 5 m van ons af druk. Louisi wil nie geld hê vir ons kampery nie, maar glimlag breed toe ons ’n tafel vir agt in sy restaurant bespreek.

Op die oggend van die vierde dag in Angola is ons traag om in die pad te val. Ons ry eers laatoggend by Zulu weg en besoek die pragtige Baia Azul-strand (dit beteken ‘Blou baai’) waar ons ’n vinnige Cuca-bier sluk voor ons suidwaarts vertrek.

Voor ons lê sowat 80 km se splinternuwe teerpad en dan ongeveer 180 km se uitdagende 4x4-toestande voor ons weer die laaste 100 km op teerpad ry.

Die Swanepoels en hulle vriende het sewe nagte in Angola gekamp – vyf daarvan heeltemal selfversorgend. Daar was elke dag iets nuuts te sien en beleef en die mense van die land het hulle ongelooflik welkom laat voel.

Die roete is aanvanklik van twee kante af gebou, maar nooit voltooi nie, en daarom is daar hierdie twee teerstukke, aan die begin en die einde. Min mense ry hier omdat die pad nie klaar is nie. Hier is wel 22 voltooide brûe, maar omdat die pad nie voltooi is nie, ry jy om hulle en deur die droë rivierloop.

Vir ons lyk dit of die mense in dié gebied baie primitief leef. Ons vorder stadig en word gedwing om die vierde nag weer in die veld deur te bring. Danksy ons GPS vind ons die pragtige Bingabaai.

Ons ry sowat 10 km in strand toe en word beloon met ’n fantastiese uitsig. Ons kamp op die strand en betaal ’n sekerheidswag sowat R40 per voertuig om ons kamp hier op te slaan.

Ons vyfde dag begin met ’n amperse vertikale klim van ongeveer 800 m van die baai af terug pad toe. Nou staan ons neuse Namibe toe. Ná ongeveer drie uur bereik ons die vulstasie en klim op die teer.

Namibe is ’n pragtige en skoon hawedorp, maar ná twee dae se veldry sukkel ons weer om die ryery aan die regterkant van die pad baas te raak.

Ons stop weer gou vir petrol en vat dan die pad na die Flamingo-lodge waar ons betower word met pragtige canyons wat deur duisende jare gevorm is, asook die oeroue welwitschias.

Van die Flamingo-lodge af ry ons verder suid. Ons besoek die Arco, ’n pragtige oase met sandrotsformasies en ’n allemintige rotsboog. Dit is eienaardig hoe hierdie plat en gelyk woestyn skielik insink en hierdie oase skep.

Ná Arco ry ons tot by Tombua se vulstasie, en ’n paar meter verder draai ons links na die reservaat. Nou lê daar net sand voor ons. Met ons permit in die hand ry ons al hoe dieper die duine in. En dis ook nie lank nie voor die ontnugtering ons tref... dis moeilik om in die duine te sleep.

Richo, die eienaar van die Flamingo-lodge, het na ons verwys as ‘clever South Africans’, maar ons voel nie nou baie slim nie. Ons aanvanklike plan was om net die ingang na die Doodsakker te bereik, maar ons besef ons gaan dit nie maak nie en ons oornag sowat 20 km van daar af.

Die volgende oggend is die duine doodstil ná die vorige dag se winde. Toe ek die vorige aand se vleis begin peusel en net sand proe, besef ek die wind was erg.

Ons maak reg om die duine te verlaat. Dit het ons die vorige dag amper vyf uur gevat om tot hier te vorder, maar met die terugryslag draf ons dit binne twee uur kaf.

Ons doen inkopies in Namibe se Shoprite en mik dan vir die Lebapas. Ons was nie teleurgesteld nie. Ons laaste aand is weer in die gerief van die Casper-lodge, en ná 7 nagte, waarvan 5 sonder geriewe was, durf ons die tog terug Suid-Afrika toe aan.

Angola rol egter een laaste struikelblok in ons pad... twee uur se spitsverkeer in Lubango.

Ons ervaring is dat Angola beslis nie op sy knieë is nie. Allesbehalwe. Die mense is hulpvaardig en laat jou baie welkom voel.Ons verlaat die land by Santa Clara, maar ons sal sy mense en hulle positiewe houding om die land te bou altyd onthou. Angola was beslis een groot verrassing.

Vyf dae later is ons by die huis en ek hoor hoe daar op die plek weer planne beraam word. Rwanda, Uganda...

Asseblief, kan ek nie net eers ’n bietjie rus nie?

Die aanvanklike plan was om die ingang van die Doodsakker te bereik, maar die sand het ander planne vir die Suid-Afrikaners gehad.