
Die Europese kommissie se veranderinge tot die Schengen-visumkode tree op 2 Februarie in werking. Die Schengen-visum laat jou toe om in 26 Europese lande te reis. Die kommissie se nuwe reëls beoog om die proses makliker te maak vir gereelde reisigers na Schengen-lande, en tree ook strenger op teenoor onwettige migrante.
Hier’s die belangrikste veranderinge:
1. Gereelde reisigers se visums kan langer geldig wees
As jy ’n goeie visumgeskiedenis het (jy het al voorheen na Schengen-lande gereis, jy het jou vorige visums wettig gebruik en betyds teruggekeer na jou land, en jou geldsake is in orde) kan jou visum vir meervoudige toegang tot vyf jaar geldig wees.
Dié visums geld vir alle kategorieë van korttermynvisums, insluitend vir toerisme, sakereise en studie.
Jy kan nie vyf jaar lank aaneen bly nie, verduidelik Valmir Mehmeti van schengenvisainfo.com:
“As jy ’n visum kry wat langer as 3 maande geld, moet jy bewus wees van die 90/180-reël. Die langste wat jy in die Schengen-gebied kan bly, is 90 dae binne 180 dae. Dié 180 dae begin nie die dag wanneer jou visum uitgereik word nie – wanneer jy in ’n Schengen-gebied is, moet jy bloot tel of jy al vir meer as 90 dae in die gebied was binne die laaste 180 dae.”
Daar is ’n nuttige sakrekenaar op hulle webwerf wat jou help om te bereken hoeveel dae jy nog in die land kan bly: www.schengenvisainfo.com/visa-calculator/
Dis onwaarskynlik dat reisigers wat die eerste keer na Schengen-lande reis, hierdie verlengde visums sal kry, voeg Mehmeti by.
2. Jy kan vroeër aansoek doen
Jy kan nou tot ses maande voor jou reis aansoek doen vir ’n visum, in plaas van drie maande.
3. Dis duurder
Dit kos nou €80 pleks van €60 vir ’n visumaansoek. Kinders se tarief styg van €35 tot €40.
4. Alle Schengen-lande moet nou ’n verteenwoordiger hê in lande wat Schengen-visums benodig, óf deur ’n ambassade of konsulaat, of deur ’n eksterne diensverskaffer te gebruik (dié diensverskaffers kan jou ’n bykomende tarief vra, maar dit mag nie meer as die visum kos nie).
Dit help reisigers wat vroeër na ander lande moes reis net om vir ’n visum aansoek te doen.
5. Suid-Afrika moet saamwerk…
Nie-Schengen-lande moet saamwerk om onwettige migrante terug na hulle land van oorsprong te neem. Indien nie, kan die land gepenaliseer word met langer periodes vir visumverwerking en hoër aansoektariewe.
Lande wat saamwerk, sal beloon word met korter periodes vir visumverwerking , laer aansoektariewe en visums wat langer geldig is.
Lus vir vakansie? Gebruik die Afrikaanse soekenjin www.wegreis.co.za om vliegkaartjiepryse vir binne- en buitelandse vlugte te vergelyk. Jy kan hier inteken vir WegReis se nuusbrief met reisnuus en spesiale aanbiedings. Jy kan ’n R500-geskenkbewys wen as jy teen 31 Januarie inskryf, wat jy kan gebruik vir enige binnelandse of buitelandse vlug.