Deel

Goukamma is weer oop ná Knysna-brand - kyk hoe lyk dit nou

akkreditasie
Goukamma is weer oop
Goukamma is weer oop
GBEORG: Na die vernietigende brande in Junie 2017 in die Knysna-omgewing het CapeNature heelwat gedoen om sy reservate hier te herstel. Goukamma is weer ’n paradys.

Ek het die aand geskrik toe ek ’n oproep van my kollega Evan Naudé kry. Evan was in die Knysna-omgewing, besig om vier CapeNature-reservate vir ’n Weg-storie te besoek. (Lees dit hier.)

Evan en sy vriende het in een van die houthutte in Goukamma oornag, en het teen laatmiddag die horison rooi sien gloei en besluit om ter wille van hul veiligheid op te pak en te ry. Ons het later nuus gekry dat die einste hut waarin Evan gebly het, in die Knysna-brand skade opgedoen het, en van die ander gebou in die reservaat deur die vuur verswelg is.

As jy nou, twee jaar later, deur Knysna ry, kan jy sien hoe die nuwe geboue soos vuurlelies opgeskiet het. In die veld kan jy nog hier en daar ’n boom sien wat gebrand het, maar Knysna is besig om weer op sy voete te kom. Dis juis waarom CapeNature Weg genooi het om te kom kyk hoe dit deesdae by Goukamma lyk.

goukamma
Welkom by Goukamma
goukamma
Die reservaat sluit see en land in
goukamma
Kyk hoe mooi sak die son

’n Juweel in die Tuinroete

Die afrit na Goukamma sit in ’n knik in die pad, 3 km buite Buffelsbaai. Ons kom in sopnat Kaapse reenweer daar aan. Geneve Harker, ’n nasaat van die Harkers van Harkerville, gee vir ons ons sleutel en beduiwe waar ek en my ouers tuisgaan. Ons is in die rondawel op die punt: Stompneus.

So lyk die rondawels binne. Klik en beweeg jou muis, of gebruik jou vinger op jou selfoon, om in alle rigtings te kyk:

CapeNature se reservate is ’n Kaapse juweel wat wag om ontdek te word. Die reservate is op die oog af minder luuks, maar dit vat jou net enkele minute om te besef hoe slim beplan dit is en hoe kosbaar dit is.

CapeNature se reservate is ’n Kaapse juweel wat wag om ontdek te word

Goukamma is een so ’n juweel. Goukamma sluit ’n reservaat en ’n beskermde mariene gebied in. Die reservaat beslaan sowat 2500 hektaar, terwyl die mariene gebied oor ’n kusstrook van sowat 18 km strek, en nog ’n seemyl (1,85 km) die see in. Die duine langs die kus huisves van die digste duinplantegroei in Suid-Afrika. 

Die hoofslaapkamer. Klik en beweeg jou muis, of gebruik jou vinger op jou selfoon, om in alle rigtings te kyk:

Ek vra Geneva uit oor die brand.

“Dit was ’n verskriklike dag. Ons het die oggend werk toe gekom, want die brand was nog aan die ander kant van die hoofpad, maar teen middagete het ons gehoor die brand het oor die pad gespring. Ons het op die strand gaan staan en wag dat dit verbygaan.

Die hele tyd het ek geworry oor my ma en susters, wat in Sedgefield woon. Ons was tot die aand agtuur op die strand vasgekeer. Gelukkig het ons later gehoor dat mense ’n sloot by Groenvlei op die strand gegrawe het sodat die brand nie Sedgefield toe versprei nie.”

Weer opgebou

Geneva wys my die stoor, net onder Stompneus, wat afgebrand het en sedertdien herbou is. Ook die rondawel op die verste punt, Kabeljou, het afgebrand, maar die twee langsaan – wat skaars 50 meter van Kabeljou af is – het wonderbaarlik bly staan.

Van buite af is daar geen verskil tussen Kabeljou en die ander rondawels nie, maar toe ek later ’n sleutel leen en gaan loer, kan ek binne sien alles is spik-splinternuut en pragtig herbou. Van die ander houthutte (hulle word as “lodges” gelys op CapeNature se webwerf) het skade gekry, maar hulle is in die proses om herstel te word.

Van die staproetes het toegegroei in die twee jaar wat Goukamma nie besoekers aanvaar het nie, maar ook daar is CapeNature hard aan die werk om dit weer oop te stel.

goukamma
Geneva Harker wag jou by die hek in.

Ons maak die aand lekker kerrie op die stoof in die kombuis. Dis die laaste week van Mei en die Kaapse winter byt reeds aan jou enkels.

Ons het vroeër die dag ’n sak vuurmaakhout (R23) by die kafee op Buffelsbaai gekoop, en steek reeds teen laatmiddag die kaggel aan om ons rooiwyntjie geselskap te hou. Die son sak in die mooiste skakerings van pienk oor die strandmeer.

Goukamma
Goukamma is weer oop
goukamma
Alles is nuut in Galjoen
goukamma
Die son sak in helderpienk skakerings.

Per boot na die beginpunt

Die volgende oggend staan ons lui-lui op en gaan verken Goukamma. Gister se reënerigheid het weggetrek en ons word geseën met een van daardie sonnige Kaapse wintersdae. 

goukamma
Die bootjie neem jou na die wegspringplek

Die staproetes begin met ’n prettige boot, wat soos ’n wafferse ferrie na die oorkantse oewer getrek moet word. Daar is ook ’n behoorlike ferrie, maar dis net vir die reservaat se voertuie.

Goukamma het altesaam ses staproetes, en die een (Blombos), verdeel in ’n maklike, medium en moeilike opsie. Jy kan elke oggend ’n ander staproete (met jou dagrugsak) aandurf, vanmiddag kom braai en swem en weer vanaand in dieselfde gerieflike bed in jou wooneenheid tot rus kom. 

Nie al die roetes is ná die brand al weer oopgestel, maar daar is plek waar jy kan stap. Die personeel werk hard om al die stappaaie weer skoon en oop te kry - vra net raad (en ’n kaart) by die kantoor.

goukamma
Dagbesoekers kan langs die strandmeer braai.
goukamma
Die kinders kan in die water baljaar.
goukamma
Jy kan dáár sit.

Die geriewe vir dagbesoekers is asemrowend. Hier kan die kinders na hartelus in die water baljaar terwyl Pa ’n oog oor hulle én die braaivleisvuur kan hou.

Daar is ablusiegeriewe by die braaiplekke en jy kan kano’s, roeispane en reddingsbaadjies by Geneva by die hek huur. 

Ottersrus se sitkamer
Die lekker kuierplek op die houtdek
Ottersrus se hoofslaapkamer.

May Tsolwane sluit vir my een van die houthutte oop. Ottersrus het die mooiste uitsig van hul almal, sê sy, en ek sal nie met haar stry nie.

Jy het ’n heerlike houtdek met buitemeubels en ’n goeie braaiplek. Alles in die wooneenheid is nuut en netjies, en daar is twee slaapkamers (slaap vier mense in totaal).

Forest Lodge het slaapplek vir ses mense, maar met ons besoek was daar vakansiegangers daar, so ek kon nie gaan loer en foto’s neem nie.

goukamma
Nou gaan ons braai.

Laatmiddag steek ons die braaivleisvuur by ons eie wooneenheid aan. Die weer is heerlik en ons kyk weer oor die strandmeer uit hoe die son skouspelagtig sak. Vanaand sal ons vir oulaas voor ons kaggel kuier. 

Met die intense stilte is dit moeilik om te glo dat jy skaars 25 km van Knysna af is. Dis glad nie ’n slegte opsie as jy Knysna toe wil gaan, maar nie vir die dorpsgedruis kans sien nie. By Goukamma sal jy die beste van twee wêrelde hê. 

Ek wil ook gaan

Hoe kom ek hier? Moenie jou foon se GPS goedsmoeds volg nie! Myne het my uitgebring by die bymekaarkompunt vir die Blombos-staproete, aan die teenoorgestelde kant van die reservaat.

Om die besprekingskantoor te bereik, volg die N2 tot by die bruin padbord vir Buffelsbaai/Goukamma (14 km vanaf Sedgefield in Knysna se rigting).

Draai daar af en ry nog sowat 5 km. Die afdraai na Goukamma is 3 km voor Buffelsbaai. Jy sal vir Geneve Harker by die hek kry. 

Wat pak ek in? Bring alles saam (ook brikette en/of vuurmaakhout).

Goukamma het geen winkel of restaurant nie, maar die kombuise in die wooneenhede is goed toegerus en het braaiplekke. Buffelsbaai het ’n kafee en een restaurant.

goukamma
'n Grasdakrondawel kan vier mense huisves
goukamma
Die kombuis goed toegerus.
goukamma
Die kaggel brand lekker.
Verblyfopsies:

Mvubu-boskamp: Slaappplek vir 1-4 mense. R1 720 per nag in piekseisoen; R1 070 in die buiteseisoen

Rondawels: Slaapplek vir 2-4 mense. R1 450 per nag in die seisoen; R950 in die buiteseisoen

Houthutte (lodges): Slaap 2-6 mense (meer as een opsie). Vanaf R1 650 per nag in die seisoen; R1030 in die buiteseisoen.

Bewaringstarief: R50 vir dagbesoekers; R40 vir oornagbesoekers (kinders betaal R30 en R20) – gratis as jy ’n Wild Card het.

Selfoonsein: Net Vodacom het torings in die omgewing, maar selfs Vodacom se sein was maar eina. Waarsku jou tieners betyds dat hulle met julle gaan moet gesels. ’n Kenmerk van CapeNature se verblyf is dat dit nie TV’s of radio’s het nie, wat fantasties is! Hier kan jy regtig afskakel en die stilte waardeer.

Wat kan jy alles doen:

goukamma
Buffelsbaai se strand
goukamma
Een van die staproetes spring hier weg.

Galjoenroete: ’n Roete van sowat 12 km wat langs die strand loop en wat jou sowat vier uur sal besig hou. Reël dat iemand jou by Platbank optel, of stap die 12 km terug. Hou die getye dop – jy kan nie hierdie roete in springgety loop nie.

Bosvarkroete: ’n Sirkelroete van sowat 6,5 km wat twee tot drie uur duur. Jy het ’n mooi uisig op die kus, rivier en riviermond en sal heelwat fynbos sien. 

Ystervarkroete: Hierdie 13,5 km sal jou oor duine met mooi plantegroei neem en duur sowat vier tot vyf uur. Reël dat iemand julle by Groenvlei kom oppik.Kaapse otterroete: Dis ’n heen-en-weer-pad van 6,5 km wat jou langs die kus van Groenvlei neem.

Blombosroete: Hierdie pad is aan dieselfde kant van die reservaat as die Otterroete en is gewild onder voëlkykers. Jy kan kies tussen ’n 15 km, 13 km en 6,5 km opsie.

Buffelsbaai-roete: Hierdie pad van 4,2 km spring by die parkeerterrein van die strand net langs die reservaat weg. Dit bied pragtige uitsigte van die see en kusplantegroei.

Visvang 

As jy ’n permit het, kan jy lyne natmaak in die mariene reservaat. Koop die permit by die kantoor of by Bait & Tackle op Sedgefield. Visvang vanaf motorbote en spiesvisvang word nie toegelaat nie.

goukamma
Jy kan die kano's huur.

Roei 

Jy kan kano’s en reddingsbaadjies huur by Goukamma. R50 per dag vir ’n enkelkano en R100 vir ’n dubbelkano.

Voëlkyk 

Ons het minstens 10 voëlspesies van die tafel voor ons rondawel gesien en talle waadvoëls in die riviermond. Die reservaat het verskeie uilbokse, maar dit was ongelukkig nie nou broeityd nie.

Onthou:
Tot 31 Augustus bied CapeNature spesiale winterafslag aan. Jy kan 40% afslag op sekere verblyfopsies kry. Kry hier die detail

Bespreek jou Goukamma verblyf hier