Geborg: As jy ’n snoesige baadjie soek wat jy sommer in jou staprugsak kan prop, bederf jouself met Hi-Tec se Lady Neva II.
Ons almal ken daai oomblik. Die winter het nog nie heeltemal sy kloue ingeslaan nie en jy wik en weeg met die baadjie in die hand voor jy gaan stap. Dis so ’n beslommernis om ’n swaar baadjie saam te dra as die son later in die oggend sy kop uitsteek, en dit voeg heelwat gewig by in jou stapsak.
Stappers sal versot wees op Hi-Tec se Lady Neva II-pofbaadjie en dit heeljaar kan dra. Dis superlig en heerlik warm. Hier is ’n paar van die lekkerste eienskappe:
• Die Lady Neva II het ’n nylon-buitekant en die binnekant is opgestop met 130 gram/m² herwonne poliëster. Jy sal verras wees oor hoe lig dit is. Jy sal ook verras wees oor hoe warm dit is. Dit kan ook lekker klein opgevou en saamgedra word.
• Dieper in die winter, wanneer die koue erger byt, kan jy die Lady Neva II in lae met Hi-Tec se ¼-poolvliesritssluitertop (net R349) kombineer vir ekstra warmte.
• Die sakke het ritssluiters – jou selfoon sal dus veilig wees op ’n staptog. Daar is ook ’n diep binnesak waar jy iets teenaan jou lyf kan wegsteek.
• Die Lady Neva II is masjienwasbaar – ’n vereiste as jy dit wil gebruik vir stap of draf. Die poliëster verseker boonop dat dit ook in klam toestande vinnig sal droog word. Maak dit op ’n plat oppervlak droog – nie in die tuimeldroër nie.
• Sommige elemente op die baadjie weerkaats, ideaal as jy in die skemer vir aankomende verkeer sigbaar moet wees.
• Dis beskikbaar in ’n roospienk, wynrooi en swart en sal ewe tuis in die winkelsentrum en langs die kinders se sportveld wees as op ’n staproete.
Let wel: Tydens die tyd van inperking is Hi-Tec se aanlynwinkel oop, maar aankope sal eers ná die inperking afgelewer word.
Koop dit by Outdoor Warehouse
Gaan kyk hier daarna.
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET