Ons word oorval deur slegte nuus oor die omgewing, maar ons kan self ’n positiewe bydrae tot die ekostelsel lewer, selfs in ons dorpe en stede. Voorstedelike tuine met geplante bome en struike skep ’n byna tropiese woudhabitat terwyl betongeboue beskerming en broeiplekke vir vele spesies bied.

Gevlekte ooruile is een van die mees algemene voorstedelike roofvoëls en ’n mens sien hulle van die droë westelike dele van die land tot by die klam oostelike dele. In ongerepte gebiede broei hulle op rotslysies of in die wye mik van ’n boom. In beboude gebiede sal hulle geboue en selfs blombakke as broeiplekke gebruik.

Hulle sagte roepgeluide is gewoonlik die eerste teken dat hulle naby is. As jy gelukkig genoeg is om een te hê wat in jou buurt broei, is die kanse goed dat die uile reeds aangepas is by die teenwoordigheid van mense. Dit beteken jy kan hulle broeigewoontes lekker dophou.

Eiers word gewoonlik van Augustus tot November gelê. Uile bou nie neste nie en twee tot drie eiers word in ’n natuurlike holte op die grond of in ’n boom gelê. Geen takkies of blare word bygevoeg om die nes meer gemaklik te maak nie.

Ná omtrent ’n maand broei die kuikens uit – hulle lyk nie na veel meer as ’n dons-gholfballetjie nie. Dis wanneer dinge interessant begin raak, want die ouers bring enigiets van insekte tot slange en selfs vrugtevlermuise om vir die kleintjies te voer.

Hier moet jy versigtig wees. Dit lyk dikwels vir ons asof die kuikens uit die nes geval het terwyl dit eintlik deel is van die broeisiklus. As daar geen onmiddellike bedreiging is nie, moet jy hulle los net waar hulle is.

Hulle sal binne ’n paar dae sterk genoeg wees om in veiligheid te vlieg.

En hou jou oë op die “nes”. ’n Tweede broeisel in dieselfde seisoen gebeur selde, maar die kans is goed dat hulle vir die volgende broeityd weer na dieselfde plek sal terugkeer.