Deel

Ingeperk – op ’n skip!

akkreditasie
Die meeste mense vermy die storm van ontwrigting ontketen deur Covid-19 deur die voordeur - of dalk die plaashek - te sluit, maar Brian Harrison het régte storms om te pypkan.
Brian Harrison
Brian Harrison

Dié jong Suid-Afrikaner sit tans saam met 17 ander bemanningslede op ’n outydse seilskip iewers in die Atlantiese Oseaan. Die skip is ’n veteraan van die oopsee – die Bark Europa is in 1911 gebou. Dit word in onlangse jare gebruik vir eksklusiewe toere tussen Patagonië en Antarktika.

Nadat die skokgolf wat Covid-19 deur die internasionale toerismebedryf gestuur het ook die hawedorp Ushuaia (in die suide van Argentinië; die meeste van die toerskepe gebruik Ushuaia as basis) in Maart 2020 bereik het, is die Bark Europa herroep na haar tuishawe in Nederland.

 Met slegs windkrag as aandrywing is dit natuurlik nie ’n vinnige vaart nie, en Brian-hulle is al amper drie maande lank ter see. Soos die seevaarders van ouds is hulle uitgelewer aan weerstoestande, seestrome en windrigtings.

Die skip is tans iewers wes van die Azore-eilande (wes van Portugal) – jy kan hulle vordering aanlyn volg by barkeuropa.com/follow-the-ship.

Ons het ’n paar vrae aan Brian gestuur. Die antwoorde is kort en kragtig, want vir die skip se e-pos betaal jy per lettertjie! 

Vertel ons van jouself

Ek het grootgeword op ’n piesangplaas buite ’n dorpie met net een verkeerslig – Port Edward! Ek is ’n 24-jarige matroos en opgelei om te werk op tradisionele seilskepe, sogenaamde tall ships

Hoe het jy deel geword van die Bark Europa se bemanning?

Ek het die skip die eerste keer gesien in Kaapstad in April 2019, en toe betrokke geraak. Sedertdien was ek op en af van die skip, en op verskeie vaarte soos van Suid-Afrika na Nederland, en dan ook in en om Patagonië en Antarktika. 

Vertel ’n bietjie van Antarktika...

Die mees onlangse vaart (vroeër in 2020) was tussen Ushuaia en die kontinent van Antarktika. Ek het nooit gedink ’n plek kan só mooi wees nie – én vol lewe! Die ys neem ook soveel fassinerende vorms en kleure aan. Die Antarktiese Skiereiland is soos geen ander plek op aarde nie. 

Aanvanklik het die virus ons nie affekteer nie, maar nadat ons terug is na Ushuaia het dinge – soos hawens, wat belangrik is vir ons – begin toemaak en daar is besluit dat die veiligste opsie sou wees om die Bark Europa na haar tuishawe in Nederland te vaar. 

En al die ektra tyd ter see?

Dis hemels – ek lewe vir die oopsee, en ons maak almal die beste van hierdie tyd.  

Dis seker vreemd om in die middel van nêrens te wees en te dink aan hoe die res van die wêreld ’n bietjie “mal” gaan op die oomblik?  

Ja, dis ’n ongewone situasie. Soms voel dit asof my familie en vriende (by die huis) diegene is wat geïsoleer en afgesny is, en nie ek wat hier op ’n skip sit nie. Vir ons is hierdie eintlik normaal terwyl almal in Suid-Afrika nou soort van in hulle eie skippies vasgekeer sit. 

Hoe hanteer jy sulke lang periodes van inperking op ’n skip? 

Ek is ’n professionele matroos, dus is ek gewoond hieraan: Die min kommunikasie met die buitewêreld en die lang seevaarte. Dis amper asof niks verander het nie. 

Wat het hierdie reis jou geleer oor jouself, en die wêreld?

Ek het geleer hoe belangrik dit is om mobiel te kan wees tydens ’n krisis. Maar die belangrikste is dat ek geleer het dat ons as bemanningslede op mekaar kan staatmaak vir ondersteuning in vreemde tye soos hierdie.  


Volg Bark Europa op Instagram @barkeuropa en besoek die webwerf vir meer oor die skip en die reise wat hulle aanbied: barkeuropa.com


Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook