Dieselfde geld vir roofvoëls, veral in die somermaande wanneer baie van die trekvoëls hier opdaag en dit uitkenning nóg moeiliker maak. Dankie tog daar’s die berghaan ons kleurrykste en maklik identifiseerbare arend. 

Dié roofvoël se wetenskaplike naam is Terathropius equadatus, en die laaste gedeelte van die naam beteken “stertloos”. Hy het darem een; dis net baie kort. G’n wonder sy ander naam is stompstertarend nie. Die kort stert belemmer die voël se vermoë om in die lug te balanseer, maar dit beteken ook die berghaan het ’n kenmerkende wiegende vliegstyl. Om die berghaan uit te ken – selfs in vlug – is dus heelwat makliker.

Jong voëls se stert is effens langer, moontlik omdat hulle balans nog nie so goed is nie. Hulle het dalk die langer stert nodig terwyl hulle hulle vaardighede aanleer.

Met elke ververing raak die stert korter, tot op sesjarige ouderdom wanneer die arend ook sy volwasse kleur kry. Dis maklik om die mannetjie van die wyfie te onderskei: Die mannetjie het swart primêre en sekondêre vere terwyl slegs die punte van die wyfie se vere swart is.

Die wyfie het dus ’n wit stuk op haar vlerk wanneer sy sit. In vlug het die mannetjie ’n breë swart strook langs die vlerk af terwyl daar op die wyfie se vlerk slegs ’n smal swart lyn gesien kan word.