Gerhard du Toit, wat op 74 self nie meer ’n jong blaar is nie, ry gereeld tussen Oudtshoorn en George om pakkies af te lewer. Die enjin van sy bakkie, wat hy Roadrunner noem, word tussen 80 en 100 keer per dag oorgeswaai wanneer Gerhard by ’n kantoorgebou indraf om ’n posstuk af te gee.
Isuzu Suid-Afrika het die odometerlesing bevestig deur Gerhard se diensrekord na te gaan. “Jy mis nooit ’n 10 000 km-diens nie – vir niks nie! Buiten dat die olie en filters vervang moet word, vra ek ook dat hulle die wielsporing nagaan. Daar is nooit groot probleme wanneer ek my bakkie laat diens nie,” sê Gerhard.
“Jy moet ook begryp dat ek my bakkie baie goed oppas en elke dag met hom gesels. “Ek vra my bakkie om lekker te ry en sê vir hom ek maak op hom staat om my te kry waar ek moet wees.”