
Vir ’n beperkte tyd het Three Ships Whisky ’n unieke Airbnb-geleentheid geskep ten bate van die Volunteer Wildfire Services: Jy kan een van die eerste mense in Afrika wees wat oorslaap by ’n kommersiële whisky-distilleerdery.
Geniet die aand die sterrehemel bo ’n onbeboude horison en weg van die stadsgeraas, en gaan slaap meters ver van waar die whisky stil-stil in kelder lê en verouder. Whisky-liefhebbers sal in die sewende hemel wees.
Tydens hierdie een-keer-in-’n-leeftyd-ervaring sal jy twee nagte in die luukse-tentverblyf deurbring wat oor die distilleerdery se dam uitkyk, slegs enkele tree weg van die distilleerdery. Die ervaring word afgerond met whisky-produkte, ’n private sit-ontspanningsarea, spoggerige aandetes, namiddagtee en ’n whisky-proe.
Tydens hul verblyf sal whisky-liefhebbers die hartklop van die proses beleef, die verouderingskelder met die alomteenwoordige geur van whisky (die sogenaamde “angel’s share”). Jy sal trots kan staan langs die whiskyketels wat die bekroonde Three Ships-tienjaaroud-enkelmoutwhisky stook, en in die nag aan die slaap kan raak met die sagte gedreun van die distilleerdery.
Gaste se besoek sal begin met ’n gourmet-braai. Ná ’n goeie nagrus en ’n stewige ontbyt, begin die Three Ships-whisky-ervaring met ’n privaat toer van die distilleerdery en ’n whisky-voedselparing. In die namiddag sal jy getrakteer word op whisky-mengeldrankies, waarna ’n uitsonderlike aandete met whisky-kosparings sal volg.
Ná ’n ligte ontbyt die volgende oggend kan jy die pragtige dorp Wellington gaan verken.
Besprekings word deur Airbnb gemaak en kos R10 000 per paartjie. Dit sluit verblyf, etes, drankies en aktiwiteite in. Die geleentheid is ten bate van die vrywilligerdiens van sowat 200 lede wat veldbrande in die Wes-Kaap bekamp. Hulle het vier stasies: Nuweland, Jonkershoek, die Suidskiereiland en Grabouw.
Bespreek hier.
Is dit vol bespreek? Moet nie bekommerd wees nie, daar is nou nog drie kamers wat jy kan bespreek. Klik hier om te bespreek: