Stylvol gestewel

Liz Payne en Cally van Blerk, twee entrepreneurs van Durban, wou ’n  tikkie styl aan buiteleweklere gee.

Hulle onderneming, Silver Lining Gumboots, wat in 2019 by die Splashy Fen-musiekfees op Underberg die lig gesien het, is nou tot sover as Nieu-Seeland bekend. Dié omgewingsvriendelike waterstewels (vanaf R329 ’n paar) is nie die uhm, onooglike, soort wat jy by die koöperasie koop nie.

Dit word gemaak uit oortollige PVC by ’n motorfabriek wat gesmelt word en dan in gietvorms stewels word.

Elke paar het ’n ortopediese boog binne-in om jou voetbrug te ondersteun en word buitelangs met leerinsetsels versier. Dis prakties, mooi, plaaslik vervaardig én heeltemal herwinbaar!

Die verskeie stewelsnitte het almal KwaZulu-Natalse name: Shongweni, Howick, Midmar en Umhlanga. Of jy nou elke dag op ’n  plaas werk of Saterdag die o.16-hokkiespan moet ondersteun, gaan dié stewels jou laat wens dit reën elke dag!

Bekyk die reeks aanlyn by silverlininggumboots.co.za.

Kunswerk skep bewustheid

Woon jy naby die Zandvlei-natuurreservaat in die Kaap? Gaan ontmoet Tubutubu, ’n enorme vlinderstandbeeld wat die kunstenaar Angela Mac Pherson en haar span gebou het.

“Tubutubu” is in Kora die woord vir vlinder. (Kora is ’n Khoi-dialek wat in die ou dae aan die Kaap gepraat is, maar ongelukkig nie meer bestaan nie.)

Die kunswerk is deel van die Fynbos LIFE-inisiatief ter bewusmaking van die krities bedreigde Kaapse Vlakte gevlekte wagtertjie (Kedestes barberae bunta). Daar is na raming net 50 tot 100 van dié vlinders in die gebied rondom Strandfontein oor.

Die standbeeld is 50 keer groter as ’n regte wagtertjie.

Lees gerus hier verder: fynboslife.com.

SA animasieprent internasionaal bekroon

Hark gerus die kinders nader vir The Snail and the Whale. Dié animasiefliek deur die Kaapse maatskappy Triggerfish (hy het ook Adventures in Zambezia en Khumba gemaak) handel oor die ongewone vriendskap tussen ’n piepklein seeslakkie en ’n  boggelrugwalvis.

Die verhaal is gebaseer op die gelyknamige kinderboek deur Julia Donaldson en het onlangs by die Annecy- internasionale animasiefees in Frankryk met die Annie-bedryfstoekenning vir animasie weggestap.

Vorige wenners sluit swaargewigte in soos die skeppers van Despicable Me en Wallace and Grommit.

The Snail and the Whale is tans op Showmax te sien. Buiten ’n mooi kortfliek (dis net 26 minute lank) om die kroos ’n rukkie mee besig te hou, leer dit jong kykertjies ook waarom dit belangrik is dat ons ons oseane bewaar.