Die Panoramaroete in Mpumalanga en Chapmanspiekrylaan in die Kaapse Skiereiland het elkeen ’n plek losgeslaan op die internasionale reisagentskap Big 7 Travel se lys van “50 Most Scenic Drives in the World”!
Die Panoramaroete staan op #47 en Chapmanspiekrylaan (foto bo) op #40, met Ierland se Wild Atlantic Way op #1. Ander mededingers sluit in die VSA se Route 66 (#7), die Karakoram-snelweg deur Pakistan en China (#49, sien Weg #181) en Namibië se woestynroete (die C19 en C14) van Sesriem na Swakopmund (#31).
Die Panoramaroete begin aan die voet van die Long Tom-pas buite Lydenburg. Jy ry deur inheemse woude en al langs die Blyderiviercanyon, op twee na die grootste canyon ter wêreld. Ander attraksies sluit in God’s Window, die Bourke’s Luck-maalgate en Sudwalagrotte, wat glo die oudste grotte in die wêreld is.