September is Erfenis- én Toerismemaand, en CapeNature wil hê jy moet dit vier. Tydens CapeNature se sewende jaarlikse Toegangsweek – van 13-20 September 2021 – kry jy gratis toegang tot sekere reservate. Maak hiervan gebruik om ons pragtige natuurerfenis te geniet.

Jy kan historiese terreine besoek, stap, piekniek hou, bergfietsry en voëls kyk.

Besoekers aan CapeNature kry gratis toegang bedags (oornagbesoeke is uitgesluit) by reservate vanaf die Weskus tot die Wynlande, Overberg, Tuinroete en die Klein-Karoo.

Deelnemende natuurreservate:

Weskus: Groot Winterhoek, Voëleiland, Sederberg, Matjiesrivier, Rocherpan

Wynlande: Limietberg, Hottentots-Holland, Assegaaibosch-piekniekterrein

Overberg: Kogelberg, De Mond, De Hoop, Marloth, Grootvadersbosch, Walkerbaai

Tuinroete: Robberg, Keurboomsriver, Goukamma, Geelkrans

Karoo: Swartberg, Gamkaberg, Anysberg

“Ek moedig alle Suid-Afrikaners aan om ’n dag in die natuur deur te bring en hul natuurerfenis gratis te geniet,” sê dr. Razeena Omar, uitvoerende hoof van CapeNature.

“As deel van die Toerismemaand en Erfenisdagvieringe bied Toegangsweek ’n geleentheid vir almal om ons natuurlike ruimtes en ons unieke natuurlike erfenis te geniet. Alle gesondheids- en veiligheidsprotokolle sal geld, insluitend die verpligte dra van maskers.”

Die volgende bepalings en voorwaardes is van toepassing:

  • Die bewaringstarief word kwytgeskeld vir besoekers aan enige deelnemende CapeNature-reservaat wat tussen 13 en 20 September 2021 vir die publiek oop is.
  • Die gratis toegang is nie van toepassing wanneer jy via die inbelsentrum bespreek of ’n aanlyn bespreking maak nie. Hierdie aanbod sluit verblyfbesprekings uit (normale tariewe en toegangsgeld is van toepassing by enige verblyfbespreking).
  • Die gratis toegang het betrekking op algemene toegang (bewaringsfooi) en stap, bergfietsry en ander dagaktiwiteite word toegelaat. Die kwytskelding is nie van toepassing op die Walvisroete, uitgesoekte privaat terreine, vennote of konsessies nie (soos rotsklim, perdry, ens.).
  • Besoekers sal ’n R0-permit by die reservaat kry in hierdie week volgens die standaardprosedure. Dit is om te verseker dat toegangsbeheer soos normaal toegepas kan word.

Geniet die natuur hierdie maand en raak van voor af verlief op Suid-Afrika. Besoek capenature.co.za om meer uit te vind en onthou om hulle te “tag” op sosiale media tydens jou besoek. Gebruik die hutsmerke #ToerismeMaand #Natuurliefde #GratisToegang

Klik hier om te sien watter reservate almal deelneem. 

Meer oor CapeNature

CapeNature is ’n openbare instelling wat gemagtig is om die bewaring van biodiversiteit in die Wes-Kaap te bevorder en te verseker.

Die entiteit bestuur die meeste bergopvanggebiede en reservate wat ekosisteemdienste aan die inwoners van die Wes-Kaap lewer.

Dit verg goeie wetenskaplike gegewens, ’n deeglike begrip van fynbos-ekologie en toewyding aan die beginsels van geïntegreerde bestuur en beplanning van biodiversiteit.

Die meeste van hierdie werk is in afgeleë gebiede buite die openbare oog, maar het ’n direkte invloed op die lewensgehalte van miljoene mense in die provinsie.