
Jy kan nou internasionale kortfilms oor bergavonture, sport en die omgewing aanlyn kyk. Die Banff-sentrum vir Kuns en Kreatiwiteit het besluit om van hulle bekroonde kortfilms gratis beskikbaar te stel.
Die Banff-sentrum vir Kuns en Kreatiwiteit in Alberta, Kanada hou jaarliks ’n Mountain Film and Book Festival waartydens die publiek die beste kortflims oor bergavonture, sport en die omgewing kan gaan kyk.
Ná afloop van die fees word ’n filmtoer wêreldwyd voorgesit en dit kom draai ook elke jaar op eie bodem: Verlede jaar is films in Kaapstad, Durban, Johannesburg, Port Elizabeth en Pretoria vertoon. Vanjaar se datums vir die Suid-Afrikaanse toer is nog nie beskikbaar nie en van die toere na ander lande is reeds gekanselleer. Maar Banff het besluit om van die kortfilms wat die vorige twee jaar finaliste was, gratis aanlyn beskikbaar te stel.
Besoek die webtuiste vir die volledige lys kortfilms en skuif reg met ’n bak springmielies! Daar is kategoriewenners soos Speak to Me Softly, wat verlede jaar die prys vir die beste kortfilm in die berge-kategorie gewen het. Dit vertel ’n eerlike en intieme storie van ’n rotsklimmer wat ’n senutergende dag teen die berghange beleef het.
Speak To Me Softly from Henna Taylor on Vimeo.
Of oorweeg The River’s Call (8 minute lank), wat sewe kajakroeiers deur die Apurimacrivier (die Amasone se oorsprong in die hart van die Andes) se canyons en stroomversnellings volg.
The River's Call:
For the Love of Mary (6 minute lank) vertel die verhaal van ’n 97-jarige hardloper wat steeds wedlope aanpak en dan iets baie spesiaal met hom saamdra.
Ander films fokus op kultuur (Wallmapu), bewaringsinisitiewe (This Land), adrenalien-gelaaide tonele van skiërs wat teen sneeubedekte hange afkom (Full Moon) en die uithouvermoë van ‘n bergfietsryer wat ’n wêreldrekord wil breek (Standing Man). Van die films het klank en vertellings by, ander net musiek.
Full Moon:
Wallmapu:
This Land:
Standing Man:
Meer inligting: Facebook; Twitter: @BanffMtnFest; Instagram: @banffcentre en YouTube.