
Dié video, afgeneem deur die toermaatskappy Kurt Safari in die Krugerwildtuin en gedeel op Latest Sightings, het blitsig op sosialemediaplatforms versprei:
“Dié bobbejaanmannetjie (ons het aanvanklik gedink dis 'n bobbejaanwyfie) het van tak tot tak beweeg en die welpie gekam. Die welpie was moeg en hoewel skynbaar ongedeerd, was daar moontlik interne beserings.
In my twinting jaar as ’n gids het ek al gesien hoe bobbejane ander diere se welpies doodmaak, maar nog nooit gesien hoe ’n bobbejaan ’n leeuwelpie só versorg nie,” sê Kurt Schultz direkteur van Kurt Safari.
Die gidse in die omgewing het nie weer die leeuwelpie gewaar nie.
“Ek dink nie dié welpie het oorleef nie. Al is dit wreed en moeilik om te aanskou, word menslike interaksie met die diere beperk en ons mag nie inmeng nie. Ons moet die diere se natuurlike gedrag vryelik laat geskied,” voeg hy by.
“Ek dink nie die bobbejaan wou 'n troeteldier hê of die welpie as sy eie grootmaak nie, veral nie aangesien dit 'n bobbejaanmannetjie is nie. In my opinie het die bobbejaan die leeuwelpie vir een van twee redes ontvoer.
Jong bobbejane, veral jong mannetjies, sal suigelinge of baie jong kleintjies by die wyfie steel as beskerming teen die aggressie van die volwasse en hoërangordemannetjies.
Gewoonlik kry die wyfie haar kleintjie ná ’n rukkie terug, maar as die ontvoering te lank aanhou kan die kleintjie deurmekaar raak en nie meer weet wie ma is nie, of ontwater raak en in albei gevalle sal die kleintjie doodgaan. Ek het ook al gesien waar twee jong mannetjies toutrek met ’n ontvoerde kleintjie, wat dan ook beserings kan veroorsaak.
In dié insident kan dit dan die geval wees dat by gebrek aan ’n bobbejaankleintjie het die bobbejaanmannetjie die leeuwelpie as geskikte plaasvervanger gesien. Wanneer die bobbejaan dan voel die kleintjie het nie meer die beskerming nodig nie, sou hy die welpie gelos het, of dit nou bo in ’n boom of onder op die grond was.
Die uiteinde sal wees dat die welpie geval het of van ontwatering, stres en moontlik interne beserings dood is. Om te welpie te roskam is instinktief en die bobbejaan sou dieselfde met ’n ontvoerde bobbejaankleintjie gedoen het.
’n Tweede moontlikheid is dat die welpie gevang is om gevreet te word. Bobbejane, veral mannetjies, is bekend daarvoor dat hulle klein soogdiere vang en eet. Bobbejane sal boklammetjies, hase en selfs voëls soos fisante en tarentale vang om te eet.
Dis ook al aangeteken dat die diere wat deur die bobbejane gevang word, ook skoongemaak word voor hulle geëet word. Wat ook al die rede, die uiteinde sou dieselfde gebly het – die welpie sou dit nie oorleef het nie.”