Ek en my vrou het al op talle mooi plekke gesnorkel, van die Maledive tot Madagaskar en Mosambiek. Dit was wonderlike ervarings, maar die hartseer is dat ons nooit ons liefde vir die oseaan verder gevat en ’n skubakursus gedoen het nie.

Die bemeestering van op die oog af komplekse toerusting wat jou toelaat om onder die water asem te haal en al die opleiding en sertifikate wat jy benodig voor jy in die dieptes kan afsak, was vir ons ’n byna onoorkombare hekkie.

Tot die dag dat ons in die massiewe I&J-uitstalling in die Twee Oseane-akwarium geklim het om stadig na die sanderige bodem ses meter onder ons te daal – terwyl ons gemaklik asemhaal deur ’n reguleerder gekoppel aan ’n suurstoftenk op ons rug.

’n Groot mosselkraker met ’n gesig soos ’n uitsmyter by ’n effens bedenklike kroeg het ons ’n vuil kyk gegee terwyl hy lui verbyswem. Twee pylstertvisse het verbygegly.

Dit was ongelooflik en ek het omgedraai om vir my duikinstrukteur Pieter van Wyk die teken te wys dat alles klopdisselboom verloop – net om van aangesig tot aangesig te beland met Harry, een van die twee groen seeskilpaaie wat deel is van die uitstalling.

Sy mond was teen my masker, sy groot nuuskierige oë op myne, gretig om meer oor die vreemdeling in sy blyplek uit te vind. Aan die ander kant van die tenk het ek gesien hoe my vrou saam met Tersia Greenstone, ons ander duikinstrukteur, bokant die deurskynende besoekertonnel van tien meter dryf en vir ’n dogtertjie en haar ma waai wat na hulle staan en kyk.

Vroeër die oggend het ons ons by Pieter en Tersia aangesluit vir die halfdag-PADI-kursus om met skubaduik kennis te maak. Dit is die perfekte manier vir gesonde, entoesiastiese nuwelinge van tien jaar en ouer om onder toesig ’n voorsmaak van skubaduik te kry.

Heel eerste is daar ’n bietjie skubateorie. Hierna beweeg jy na ’n opleidingswembad waar jy onder meer sal leer hoe om deur ’n reguleerder asem te haal, van water in jou masker ontslae te raak, die druk in jou ore te balanseer en met jou instrukteur onder die water te kommunikeer.

Sodra jy hierdie vaardighede onder die knie het, kry jy die geleentheid om saam met jou instrukteur vir 30 minute in die I&J-tenk te duik.

Hierdie kursus kan deur drie mense per keer gedoen word, in die oggend of middag, en kos R1 850 per persoon. Mense met ’n aktiewe akwarium-lidmaatskapkaart kry 25% afslag.

Die duikskool verskaf al die toerusting wat jy nodig het – selfs handdoeke vir die warm stort wat jy ná die tyd kan geniet. Al wat jy nodig het, is ’n swembroek en hope entoesiasme.

As die skubagogga jou gebyt het (en glo my, hy gaan), kan jy inskryf vir die driedaagse oopwater-PADI-kursus by die akwarium om ’n gesertifiseerde rekreasieduiker te word.

Nie net kry gekwalifiseerde duikers die kans om in die ander twee groot tenks (die Seewierwoud-uitstalling en die Haai-uitstalling) te duik nie, maar jy sal tot op 18 m in die see kan duik, jou eie toerusting kan huur en uitgaan op bote om te duik.

Sodra jy gemaklik voel, kan jy ook die Gevorderde Oopwater-kursus hier by ons doen. Daar is ’n heel nuwe onderwaterwêreld wat wag om deur jou ontdek te word. Waarvoor wag jy!

GOED OM TE WEET:

PADI is die voorste skubaduikorganisasie vir opleiding en sertifisering. As ’n gesertifiseerde duikoord voldoen die Twee Oseane-akwarium se duikskool aan al die vereistes vir gesondheid, veiligheid en gehalte soos vereis deur PADI.

Die duikskool het hoogs gekwalifiseerde en bekwame instrukteurs wat nie net die opleiding van nuwe duikers sal waarneem nie, maar hulle ook sal vergesel en leiding gee in die groot uitstallingstenks. 

Vir meer inligting, pryse en om jou proeflopie of kursus te bespreek, besoek aquarium.co.za of bel die akwarium by 021 418 3823.