
Dié kaartspeletjie werk soos Top Trumps, maar met ’n kinkel of twee.
Daar is 52 kaarte in die pak. Elke kaart het inligting oor Suid-Afrika se kwesbare voëls. Dit sluit ook ’n paar spesiale voëls in soos die swarttobie en die bloukraanvoël, ons nasionale voël. Kom, speel saam!
TJIRPIE 1 SE REËLS
1. Verdeel die kaarte tussen die spelers. Hou jou pakkie soos wat dit aan jou uitgedeel is; jy mag nie die kaarte se volgorde verander nie. Die speler met die bloukraanvoël (SA se nasionale voël) begin en dan kloksgewys van daar af.
2. Die eerste speler kry kans om ’n kaart te wen by die ander speler deur ’n waarde te vra van een van die vyf kategorieë op die boonste kaart in hulle hand: verspreiding, gewig, lengte, bewaringstatus of bevolking. Die speler met die hoogste waarde in dié kategorie wen (trump) die kaart en die volgende beurt.
Dié speler kan aanhou vra totdat die ander speler ’n hoër waarde het. Plaas die kaarte wat jy wen agter in jou pakkie. Uitspeelrondtes: Indien die waardes ooreenstem, plaas dié twee kaarte in die middel. Dieselfde speler vra ’n waarde op die volgende kaart in sy/haar hand. Die speler met die hoër waarde wen ál die kaarte in die uitspeelronde, ook die kaarte wat in die middel lê.
3. Jy kan op twee maniere die spel wen: Kry al die kaarte of versamel vier trofeekaarte.
WAT NOG?
• Daar is agt trofeekaarte. Elke keer as jy ’n trofeekaart wen, sit dit voor jou op die tafel. Die eerste speler met vier trofeekaarte wen die speletjie. ’n Trofeekaart in jou eie hand tel nie outomaties nie, jy moet dit ‘wen’ m.a.w. as jy die ander speler se kaart trump met jou trofeekaart, kan dié trofeekaart by die pakkie op die tafel gesit word.
• Daar is vier joker-kaarte met elk ’n diederikkie op. (Die diederikkie is Tjirpie se kulkaart omdat dié voëlsoort baie skelm optree: die wyfie lê haar eiers in ander voëls se neste, sodat sy nie haar eie kuikens hoef te versorg nie!) Sodra ’n diederikkie bo in ’n speler se pakkie beland, stop die speletjie momenteel. Voer die instruksie op die kaart uit, sit dié kaart eenkant en speel voort – dit bly die beurt van die speler wie se beurt dit was vóór diederikkie-kaart.
Indien die diederikkie-kaart sê jy moet ’n trofeekaart by die ander speler neem of een gee, kom dit uit die trofeekaartpakkie wat versamel word.
Indien hy/sy nog nie ’n pakkie het nie, kom dit uit die trofeekaarte in sy/haar hand. Indien albei spelers gelyktydig ’n diederikkie bo in hul pakkies het, speel die jongste speler eerste. Geniet dit, en moenie kroek nie!
SÓ WERK DIE IKONE
Verspreiding:
Hoe moeiliker dit is om ’n voëlsoort in die veld te gewaar, hoe meer waarde het dit. ’n Rooi verspreidingsgebied het die hoogste waarde, en ’n groene die laagste. ’n Groter stukkie rooi op ’n verspreidingskaart tel nie meer as kleiner stukkies nie – dit gaan net oor die kleur, nie oor grootte nie.
Rooi: Jy sien dié skaars voëls dalk net een of twee keer in jou lewe.
Oranje: Jy sien dié nie-algemene voëls dalk een keer tydens ’n uitstappie.
Groen: Jy sien dié algemene voëls ’n paar keer tydens ’n uitstappie.
Lengte
Die langste voël wen die ronde.
Gewig
Die swaarste voël wen die ronde.
Bewaringstatus
Hoe meer bedreig ’n voëlspesie in SA is, hoe meer waarde het sy kaart, met minste kommer wat die minste tel en kritiek bedreig wat die meeste tel.
MINSTE KOMMER (MK) – BYNA BEDREIG (BB) – KWESBAAR (KW) – BEDREIG (BD) – KRITIEK BEDREIG (KB)
Bevolking
Hoe kleiner die bevolking, hoe skaarser die voël in SA en hoe meer tel die kaart. Byvoorbeeld: Die witvlerkvleikuiken, waarvan daar minder as 50 in SA voorkom, se kaart het meer waarde as die breëbek s’n, waarvan daar 2500 is.
Bestel Tjirpie 1 hier.
Dankie aan die voëlkenner Faansie Peacock vir sy illustrasies, asook inligting en speletjie-idees.