
Hier is ’n stap-vir-stap-gids oor hoe jy kan klik, koop en lees.
Noudat almal by die huis moet bly weens die Covid-19-bedreiging en jy nie net woerts-warts kan winkel toe gaan nie, is daar darem één ding wat jy maklik in die hande kan kry: jou gunsteling-tydskrif! Al jou staatmakers is beskikbaar. Dis vinnig, maklik, en boonop onmiddellik beskikbaar. Jy kan een van drie maniere kies: Netwerk24, Zinio en Magzter.
Netwerk24
Kies hierdie opsie as jy gereeld meer as een tydskrif of Afrikaanse dagblad lees.
1. Laai die app af. Gaan na Apple se app-winkel of die Google Play Store en laai die app af vir Netwerk24. As jy op ’n rekenaar wil lees, gaan na die webtuiste netwerk24.com.
2. Skep ’n rekening. Sodra jy op ’n artikel klik, sal jy die opsie kry om in te teken teen R99 per maand. Die R99 sluit ál die Afrikaanse tydskrifte en koerante, plus die daaglikse nuus op Netwerk24, in. Jy betaal net een keer vir alles.
3. Klik, klik, koop. Betaal jou R99 deur jou kredietkaartbesonderhede in te vul.4. Maak koffie en lees! Jy kan nou enige Netwerk24-artikel op die webwerf lees. As jy wil toegang hê tot die tydskrifte, maak só:
• Op jou selfoon: Tik op die spyskaart en rol af tot by “E-publikasies”. Klik daarop. Jy gaan nou ’n skerm kry met die woorde: “Kies wat jy wil lees.” Klik op “Tydskrifte” of “Koerante”. Nou sal jy al die voorblaaie sien wat tans op die rak is. Klik op enigeen en begin lees. Jy sal ook die skakel sien na “vorige uitgawes”, waar jy tot ’n jaar gelede se tydskrifte kan lees.
• Op jou rekenaar: Gaan na die hoofblad. Soek die blokkie “Jongste uitgawe”. Dis in die breë strook regs, en ’n entjie van bo af. Klik op “Begin lees”. Jy gaan nou weer die opsies kry vir “Tydskrifte” en “Koerante”, en dan al die voorblaaie sien. Klik daarop en begin lees.
As jy op jou rekenaar lees, soek die + en – in die swart blok bo aan die skerm. Dit sal jou teks groter en kleiner maak sodat jy makliker kan lees.
Zinio en Magzter
Kies veral hierdie opsies as jy net ’n spesifieke uitgawe wil koop of net op een tydskrif wil inteken.
1. Laai die app af. Gaan na Apple se app-winkel of die Google Play Store en laai die app af vir Zinio, Magzter of PressReader. Jy laai die app gratis af. Jy kan ook na die webtuistes zinio.com of magzter.com gaan.
2. Skep ’n rekening.
Zinio: Nadat jy die app afgelaai het, klik op die ikoon bo in die regterkantse hoek om ’n nuwe rekening te skep. Tik jou e-pos-adres in en skep ’n wagwoord, of klik op die ikoon om deur middel van Facebook ’n rekening te skep.
Magzter: Die proses is baie dieselfde, maar Magzter gee ook vir jou die opsie om via Twitter ’n rekening te skep, wat jou nóg ’n paar ekstra opsies bied.
3. Klik, klik, koop. Soek jou gunstelingtydskrif deur die naam in die soekblok in te tik (kyk uit vir die vergrootglas-ikoon): Huisgenoot, Sarie, Landbouweekblad, Weg, Weg Ry & Sleep, Tuis, tvplus, Kuier, Baba & Kleuter en Finweek – almal is daar! In hierdie apps sal jy selfs ons Engelse tydskrifte kry.
Jy sal sien daar is twee prysopsies: Jy kan óf ’n enkele uitgawe koop, óf vir ’n jaar inteken. Tik dan jou krediet- of debietkaartbesonderhede in en betaal vir die tydskrifte via ’n veilige aanlynproses.
4. Maak koffie en lees! Sodra jou betaling verwerk is, sal die tydskrif(te) in jou biblioteek verskyn. Klik op “My Library” op Zinio, en “My collections” in Magzter. As jy op ’n rekenaar lees, behoort die biblioteek aan die bokant van jou skerm te wees, en as jy op jou foon lees, is dit dikwels onder. As jy ingeteken het op ’n tydskrif, sal jou biblioteek outomaties bygewerk word, sodra ’n nuwe tydskrif beskikbaar is.
Jy kan die tydskrifte lees terwyl jy aanlyn is, of dit aflaai en later lees (sonder internettoegang).
Dis so maklik soos dit!