JAN VAN DER WESTHUYSEN, Port Elizabeth: Jammer dat die foto so onduidelik is, maar dis deur die voorruit geneem terwyl ons aan ’ t bewe was.

Ons het by die Nkuhlu-piekniekplek in die Krugerwildtuin gewag vir ’n trop olifante om weg te beweeg van die ingang af. Ons “ken” mos olifante... Ons kom immers gereeld in Addo-olifant- nasionale park. Ons wag rustig dat hulle verbystap. Dit is toe ook so, tot die laaste koei die trop verlaat en na ons toe loop.

Tyd vir n plan B is daar nie. Ons het oogkontak vermy, doodstil gesit en oopoë gebid terwyl ons besoeker die motor versigtig van die sierrooster af oor die enjinkap tot by die voorruit deursoek. My dapper vrou, Jo, het dié foto geneem. Ta het later stadig weggedraai. Ons het weer asemgehaal.

Naby die Timbavati-piekniekplek lê twee mooi leeus digby die pad. Ek neem foto’s met my langlens deur Jo se venster. Toe ons later na die foto’s kyk, was ons verbaas om te sien hoe naby die leeu aan Jo was!

Die aand in die kamp gil Jo en tel haar voete hoog in die lug op. Net langs haar stoel is ’n yslike bobbejaanspinnekop. Ons wou mos kom avontuur soek in die Kruger!