Mense se lense: Lesersfoto’s

akkreditasie
’n Luiperd speel model, ’n byvreter sit aan vir middagete en blouwildebeeste skop stof op.

Fotograaf: Gerrit Breyl
Toerusting: Canon 350D; Sigma 170-500 mm-lens

Gerrit vertel: Ons was op die S39-pad langs die Timbavatirivier in die Krugerwildtuin en gelukkig om dié luiperd in een van die groot jakkalsbessiebome op die rivieroewer te sien.

Die dier was rustig en het my toegelaat om vir ’n paar minute ’n reeks foto’s te neem voordat hy afgeklim en in die rivierbedding verdwyn het.

Toast sê: Kyk, ek het ook al stadig met die S39 langs die Timbavatirivier gery en elke liewe boom wat lyk asof ’n luiperd graag daarin sou wou lê, deeglik deurgekyk. Maar niks. Luiperd se kind laat himself nie sommer vir kleingeld sien nie.

Jy moet wérk vir ’n luiperdfoto soos Gerrit s’n, en dan boonop ’n klein bietjie geluk ook hê. Elke Weg-leser wat lief is vir die Kruger (met ander woorde, almal van julle...) se droom is om ’n luiperdfoto soos hierdie te neem. Ek hou van die forse manier waarop die dier staan, die oogkontakwat hy met die kamera maak en die “kolle” op die boombas wat saamgesels met die kolle op die luiperd.

Dié is definitief een om te raam en neffens jou binnebraai op te hang, Gerrit! Goeie werk.


Fotograaf: Basiliki Gericke
Toerusting: Canon EOS 7D Mk. II; Canon 100-400 mm-lens

Basiliki skryf: Ek het hierdie Europese byvreter in aksie afgeneem in die Rietvlei-natuurreservaat net buite Pretoria.

Vir ons werkende stadsjapies wat graag voëlfoto’s neem, is Rietvlei net die plek. Die hek maak in die somer reeds om 5.30 vm. oop – as jy gelukkig genoeg is om naby te bly, kan jy sommer voor werk ’npaar foto’s inkry!

Toast sê: Ja, Rietvlei is inderdaad Pretorianers se agterplaasparkie – ons ontvang elke maand ’n paar fantastiese foto’s wat lesers daar geneem het.

Basiliki se foto is treffend omdat dit die byvreter in aksie wys. Goed, dié outjie is nie besig om ’n by te vreet nie, maar wel iets soos ’n perdeby (’n perdebyvreter dan?). Die basiese dinge is ook reg gedoen: Die agtergrond steur nie – dis uit fokus, soos te verwagte met ’n groot zoemlens, maar dis ook ligter in kleur en laat die voëltjie beter uitstaan; die voël se ogie is sigbaar (en blink ’n bietjie); en die fokus is op die regte plek.

Boonop het Basiliki gekies om foto’s te neem eerder as om eerste op kantoor wees, en hiervoor kan ons haar net op die skouer klop...

Fotograaf: Charl de Klerk
Toerusting: Canon EOS 7D; Canon 100-400 mm-lens

Charl skryf: Op ’n vroegoggendrit van die Mata-Mata-ruskamp in die Kgalagadi af het ek en my vrou op ’n trop blouwildebeeste afgekom. Hulle het mekaar speels rondgejaag en ’n stofwolk oor die droë Auobrivier laat hang. Toe ek stilhou om ’n foto te neem, het hulle ons nuuskierig bekyk, met die springbokke skaars sigbaar in die agtergrond. Min plekke bied fotogeleenthede soos dié oorgrenspark. Elke seisoen het sy eie bekoring – en dís wat ons weer en weer laat teruggaan.

Toast sê: Die Kgalagadi is voorwaar ’n besonderse ekostelsel, en elke natuurliefhebber moet dit op sy of haar lysie sit. Die groot verskeidenheid diere is danksy die oop terrein maklik om te sien.

Die vroegoggendlig (wat teen ’n lae hoek val) en die stof werk hier saam en sorg vir ’n dramatiese foto. Selfs al is daar nie veel aksie nie, verskyn al die diere nou skielik as byna spookagtige silhoeëtte, geheimsinnig tot op die laaste skof, horing en kloutjie.

Charl se puik foto gee jou daai veraf kyk in die oë: Dis tyd om kar te pak en verre plekke te gaan verken. Daarom is dit ’n reisfoto wat wérk!

Die foto’s het oorspronklik in Weg #142 (Augustus 2016) verskyn. 

STUUR JOU BESTE REIS- EN NATUURFOTO’S VIR ONS!

Hoekom? Ons plaas elke maand ’n keur van lesersfoto’s. Moenie skaam wees nie – krap ’n bietjie daai foto’s uit wat jy op jou rekenaar opgaar en stuur hulle vir ons!

Wat? Ons hou van omtrent enigiets: natuurlewe, landskappe, portrette, vakansiefoto’s of goggas en blomme in jou tuin.

Hoe? Stuur jou beste foto’s na menseselense@weg.co.za Moenie lêers stuur wat groter as 4 MB is nie – as ons ’n groter weergawe soek, sal ons daarvoor vra. Gee die fotograaf se naam, van, tuisdorp en kontaknommer. Stuur ook inligting oor waar en hoe die foto geneem is en watter toerusting gebruik is. As jy die foto op enige manier gemanipuleer het, vertel ons wat jy gedoen het.

Of deel dit op Instagram Merk jou foto’s #menseselense en ons plaas dit dalk op ons Instagram-profiel (@menseselense). Ons susterstydskrif go! is @gomagsa.

*Ons behou die reg voor om jou foto’s elders in die tydskrif, op ons webblad of in bemarkingsmateriaal te gebruik.