Foto's: Merlin Wilsenach

Ek was al vroeg op omdat ek daarvan hou om in ’n park te wees sodra die hekke oopmaak. Dié oggend was dit dan ook so, veral omdat dit ’n entjie se ry is tot by die Kalahari Tented Camp (kort duskant Mata Mata), waar ek sou oornag.

Ek het onlangs ’n Mahindra Thar as ’n boskar aangeskaf. Die voertuig is basies en ’n mens voel nie te jammer vir hom oor stampe en stote nie – en dis ideaal vir die Kalahari ook. Twee-Rivieren is altyd my eerste basis omdat ek van ver af moet ry (Gauteng).

Ek hou daarvan om op verskillende plekke in die park te bly, want elke streek bied iets anders. Gewoonlik bly ek sowat twee aande op ’n plek voordat ek weer aanskuif, maar ek het laat bespreek en moes vat wat beskikbaar was.

Ek was nogtans gelukkig om by Twee-Rivieren, die Kalahari Tented Camp, Nossob en Grootkolk plek te kry. Teen hierdie tyd was dit 10.30 vm. en klaar gevaarlik na aan 40 ºC. Omtrent ’n kilometer van die Craig Lockhart-watergat af gewaar ek ’n jagluiperd aan die linkerkant van die pad in die bosse, halfpad teen die duin op, waarskynlik 20 m van die pad.

Die kat was gefokus op iets in die droë rivierloop van die Auobrivier. Ek het gekyk, maar kon geen bokke sien nie. Ek het begin foto’s neem met my Canon EOS 7D Mk. II met ‘n 500 mm-lens. (Ek het ook die nuwe Canon 100-400 mm-lens in my arsenaal.)

Spoed teen spoed

Die jagluiperd het aanhoudend piepgeluide gemaak en ek het dadelik gedink sy moet ’n wyfie wees, en daar kan welpies naby wees. Vir ’n oomblik het ek my verbeel ek sien nog ’n beweging, maar ek kon niks in die bosse uitmaak nie.

Die jagluiperd het begin stap, en ek het stadig vorentoe gery en gesorg dat ek langs haar bly. Stadig maar seker het sy al nader aan die pad begin beweeg. Nie lank nie of sy was reg langs my Mahindra in die pad.

Die jagluiperd het aanhoudend piepgeluide gemaak en ek het dadelik gedink sy moet ’n wyfie wees, en daar kan welpies naby wees.

Ek kon sien dat sy baie gefokus is op iets voor ons. Al wat ek kon dink, is dat sy iets kan ruik wat ek nog nie kan sien nie. So posisioneer sy haar toe skuins agter my Mahindra terwyl ons saam in die pad af beweeg.

Ek het dadelik besef dat sy my voertuig as ’n bewegende skuiling gebruik. (Ek het al iewers gelees die jagluiperds in die Masai Mara gebruik gereeld voertuie om agter weg te kruip wanneer hulle jag).

Dit was nie lank nie, toe sien ek ’n trop springbokke in die verte voor ons. Die bokke was salig onbewus van die gevaar wat ek saam met my bring, en het doodluiters gestaan en wei. Ek onthou hoe ek in my truspieëltjie na die jagluiperd gekyk en gedink het sy lyk te tingerig om een van daardie bokke te vang. Maar ek kon sien hoe haar blik op die bokke gefokus is.

Toe sy omtrent 100 m van die bokke af kom, het sy na ’n volgende rat oorgeskakel en verby my gedrafstap. Ek het gedink sy het te vroeg weggetrek en hardloop te stadig. Maar ek het haar onderskat!

Toe die springbokke besef wat aan die gebeur is, was sy klaar by hulle, en binne sekondes was sy op topspoed. Haar teiken was gekies: Een van die groot ramme. Hulle het in ’n stofwolk agter ’n kameeldoringboom reg langs die pad verdwyn. Ek was binne sekondes daar, betyds om te sien hoe sy die springbok reeds aan die keel het.

Die bok het nog ’n paar keer gespartel, maar sy het nie haar greep op sy keel verslap nie en die bok het begin stil raak. Sy het nog vir ’n paar minute so gelê om seker te maak die bok is dood.

Later het sy opgestaan en die bok in die koelte van ’n kameeldoringboom ingesleep.

Vir ’n goeie tien minute het die jagluiperd net daar gelê en rus terwyl sy aanhoudend roep. Ek was steeds seker sy het welpies, en het besluit om ’n draai te ry om hulle kans te gee om uit te kom.

Ek het gaan inklok by die Kalahari Tented Camp en ná ’n uur besluit om weer terug te ry na Craig Lockhart. Daar gekom, was ek baie opgewonde om vier welpies by die ma te sien!

Die res van die dag het hulle daar gelê langs hulle Kersete. Die welpies se pensies was later dikgevreet en hulle het uitgestrek en vas aan die slaap gelê onder die boom. Elke nou en dan het hulle wakker geword, vreeslik deur die slaap opgestaan en hulleself gedwing om nog ’n bietjie verder gaan vreet, net om weer om te val en verder te slaap.

Ek het hulle op die ou end daar gelos toe ek vyfuur kamp toe begin ry.

Wraggies weer ’n keer!

Drie dae later was dit tyd vir my om aan te skuif, en ek het die tog begin van Mata Mata na Nossob. Nie te ver van die einste watergat (Craig Lockhart) af nie, kry ek weer ’n jagluiperd in die pad.

My vermoede was dadelik dat dit dieselfde wyfie kon wees. Dié keer kon ek ’n alleenloperspringbok in die verte sien. En weer kon ek dieselfde fokus in die jagluiperd se oë sien.

Ek het gedink ek kan nie twee keer in drie dae so gelukkig wees nie... Reg langs die pad was ’n droë bos, en die jagluiperd het agter dié bos gaan lê. Weer het ek die piepgeluide gehoor, wat my vermoede bevestig het dat dit dieselfde wyfie is.

Ek het gedink ek kan nie twee keer in drie dae so gelukkig wees nie... Reg langs die pad was ’n droë bos, en die jagluiperd het agter dié bos gaan lê.

Sy was duidelik besig om bevele uit te deel. Skielik verskyn al vier die welpies uit die bos, en soos een man draf hulle in ’n ry na die oorkant van die rivierloop waar hulle in die lang gras gaan lê. 

Die springbok het stadig maar seker in die rivierloop af gestap, al weiende en onbewus van die jagluiperd. Sy het elke paar minute opgestaan en geloer hoe ver die bok nog is, en dan weer gaan lê en wag. Ek kon sien hoe haar spiere bewe, en hoe sy oorgehaal is vir die regte oomblik. Die bok het egter skielik die reuk van die kat gekry, maar duidelik nie geweet van waar dit kom nie.

Die bok het paniekbevange begin hardloop, maar het die fout gemaak om vorentoe te hardloop eerder as om om te draai. Die jagluiperd het soos ’n pyl uit ’n boog geskiet en skuins oor die Auob-rivierloop begin hardloop om die bok af te sny.

Die springbok het probeer om die kat met spoed te klop, maar hierdie naelloop-item het net een wenner gehad – en in ’n stofwolk het nog ’n springbok aan sy einde gekom.

Statistiek sê blykbaar dat sowat 50% van jagluiperds se jagpogings suksesvol is. Om dus dieselfde jagluiperd twee keer in drie dae te sien, en boonop elke keer ’n sukesvolle jagtog daarby, was voorwaar ’n groot gelukskoot en Kersgeskenk.


Hierdie artikel het in die April 2018-uitgawe (#162) van Weg verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – stuur 'n e-pos na digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien.
Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook