book-icon Uitgawe Oktober 2019
Deel

Rooijakkals vs. maraboe, Pilanesberg

akkreditasie
Foto: Christa Koekemoer
Foto: Christa Koekemoer
Ek en my man, Ben, was in Februarie 2018 op ’n naweekuitstappie saam met ons fotografieklub in die Pilanesberg-wildreservaat.

Take is aan elkeen in die groep toegesê en dan was daar pryse op die spel vir byvoorbeeld die een wat die meeste verskillende diere op een dag kon sien. 

Ons het by die Manyane-kamp gebly en die oggend besluit om na die Lengaudam te ry. Lengau is ’n goeie plek om soggens foto’s te neem, want die lig val dan reg.

Toe ons daar kom, het ons drie rooijakkalse sien lê naby die kant van die dam – skynbaar op baie strategiese plekke. Eers later het ek besef hulle lê juis só om hulle prooi te kan vastrek, want elkeen kon uit ’n ander hoek toesak op wat ook al hulle wou vang.

met my eie
Foto: Christa Koekemoer

In hierdie geval was dit ’n beseerde maraboe. Ons kon sien hoe die voël sukkel om te beweeg; sy regterpoot was af (’n mens kan dit nie op die foto’s sien nie; die stompie was onder die water). Dalk het die jakkalse hom al voorheen beetgehad? Ek weet nie.

Die een jakkals het dit in die water gewaag en gemaak asof hy drink. Hy het slinks al nader aan die beseerde maraboe beweeg wat in die vlak water staan. Die jakkals het geweet hy is die swakste van die voëls aangesien hy nie so vinnig kon beweeg nie. Hy het nader beweeg en skielik sy kans gewaag 

Ek het die reeks foto’s van die aanslag geneem met my Canon EOS 7D Mk. II en Canon 500 mm-lens. Die jakkals het sy ogies styf toegeknyp vir daai skerp snawel en geduik, maar moes tog later die aftog blaas.

maraboe
Foto: Christa Koekemoer

Dit was nou al byna die middel van die dag en die son was nie meer so goed vir foto’s by Lengau nie.

Ons het ook ander diere op ons lysie gehad en het maar gery.

Ek het wel later die middag by een van die voëlskuilings by ’n ander toeris gehoor die jakkals het wel die maraboe gevang. Ek wens ek was geduldiger!  

maraboe
Foto: Christa Koekemoer

Christa Koekemoer, Hartbeespoort

maraboe
Christa Koekemoer

Ons woon op Hartbeespoort, en Pilanesberg is dus net ’n bietjie meer as ’n uur se ry ver – ons gaan gereeld soontoe vir die dag. Dis lekker, want jy kan die Groot Vyf sien, en daar’s altyd aksie by een van die voëlskuilings of iewers in die veld langs die pad. ’n Mens kom selde daar weg sónder ’n goeie aksiefoto.

Pilanesberg Centre is feitlik in die middel van die park en is ’n goeie stopplek vir bene rek en ietsie te ete of drinke. Hier is ook ’n watergat; dus kan jy net daar sit en diere kyk – ons het al selfs leeus hier gesien!

Wat het jy al met jou eie oë gesien?
Stuur jou vertelling en reeks foto's van iets ongewoons wat jy in die natuur gesien het na toast@weg.co.za