COBUS OBERHOLSTER van Port Elizabeth skryf: Ons was in April in die Addo-olifant- nasionale park toe ons een oggend op hierdie jakkals afkom wat vir hom ’n lêplek bo-op ’n hoop vars olifantmis gemaak het. Nóg vreemder is dat dit ook gelyk het asof hy aan die mis vreet. Doen jakkalse dit gewoonlik, of is hierdie een dalk ’n bietjie deur die mis?

Die natuurkenner L.D. VAN ESSEN antwoord: Net soos honde sal jakkalse ook teen iets wat ’n skerp reuk het gaan skuur of selfs daarin rol om sy eie reuk te verdoesel. Die doel daarvan is om die jakkals se eie reuk met ’n “dekmantel” te vervang wat hom minder herkenbaar maak vir sy prooi.

Dit lyk inderdaad asof die jakkals aan iets lê en kou – dis waarskynlik nie ’n miskuttel nie, maar eerder ’n miskruier wat hy oopgekrap het, of iets anders wat hy daar naby gevang het.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #120 (Oktober 2014) verskyn.