Deel

Veldfeite: Moenie hiënas vlak kyk

akkreditasie
Foto: Albie Venter
Foto: Albie Venter
In The Lion King is hiënas lafhartige diere wat afhanklik is van aas van die karkasse wat edele leeus platgetrek het. Maar in die regte lewe is dinge anders.

Hiënas is inderdaad net ondergeskik aan leeus wanneer dit kom by nek van die plek wees in die natuur. Waar moontlik, steel hulle wel kos by luiperds, jagluiperds of wildehonde, en as hulle ’n groot genoeg trop is, sal hiënas selfs leeus van ’n karkas verjaag.

Hulle is egter ook baie suksesvolle jagters. Hiënas vang dalk meestal swak en klein diere, maar dis so met alle roofdiere: Leeus sal ook ’n jong sebra eerder as ’n volgroeide buffel plattrek. Maar ek het al in die Masai Mara met my eie oë gesien hoe ’n enkele hiëna ’n wildebees vang.

Daar word geskat dat dié diere in Tanzanië se Ngorongorokrater tot 80% van wat hulle vreet, self jag. Ek glo dat die syfer in Suid-Afrika selfs hoër is, maar die digte bosse verhinder sigbaarheid. Ek gaan nie jok nie – dis nie mooi nie. Voor hulle hulle prooi doodbyt, vergruis hiënas eers die dier se agterbene, vermoedelik om hulle te verlam. Die natuur is soms maar wreed.